Wat gebeur met babas en jong kinders wanneer hul sterwe? Waar lees ek in die Bybel van die ouderdom van verantwoordelikheidsbesef?




Vraag: "Wat gebeur met babas en jong kinders wanneer hul sterwe? Waar lees ek in die Bybel van die ouderdom van verantwoordelikheidsbesef?"

Antwoord:
Die konsep van die “ouderdom van verantwoordelikheidsbesef” is dat kinders nie aanspreeklik gehou word by God vir hul sonde, voordat hulle ‘n sekere ouderdom bereik nie en dat as ‘n kind sterf, voordat hy of sy daardie ouderdom bereik het, daardie kind deur genade hemel toe sal gaan. Is hierdie konsep waar volgens die Bybel en is daar iets soos ‘n “ouderdom van onskuld”?

Dit gebeur dikwels dat ,gedurende die bespreking rondom die verantwoordelikheidsin betreffende ouderdom , dit genoem word, dat kinders, ongeag hul ouderdom, nie “onskuldig” is, in die sin van sonder sonde te wees nie. Volgens die Bybel, al het ‘n klein kindjie nie persoonlik gesondig nie, is alle mense, insluitende klein en groot kinders, skuldig voor God as gevolg van oorerflike of toegerekende sonde. Oorerflike sonde is oorgedra vanaf ons ouers. In Ps 51:7 skryf Dawid, “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.” Dawid erken dat hy al ‘n sondaar sedert bevrugting was. Die baie hartseer feit dat babas soms sterf, is ‘n bewys dat selfs babatjies deur Adam se sonde geraak word, aangesien fisiese en geestelike dood die gevolg van Adam se erfsonde is.

Elke person, baba of volwassene, staan skuldig voor God; almal het die Heiligheid van God beledig. Die enigste manier hoe God regverdig kan wees en terselfdertyd iemand regverdig kan verklaar, is deurdat daardie person vergifnis deur geloof in Christus ontvang het. Christus is die enigste weg. Joh 14:6 gee weer wat Jesus gesê het “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Petrus sê ook in Hand 4:12, “ Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” Verlossing is ‘n individuele keuse.

Wat van babatjies en jong kinders wat nooit die vermoë gehad het om hierdie individuele keuse te maak nie? Die konsep van verantwoordeheidsbesef op ‘n sekere ouderdom, dui daarop dat diegene wat voor daardie ouderdom sterf, vanselfsprekend deur God se genade en barmhartigheid gered word. Hierdie verantwoordelikheidsbesef op ‘n sekere ouderdom onderskryf die mening dat God almal red wat sterf en nooit die vermoë gehad het om ‘n keuse vir of teen Christus te maak nie. Dertien is die mees algemene ouderdom vir hierdie siening, gebaseer op die Joodse gewoonte dat ‘n kind op 13 die stadium van volwassenheid bereik. Die Bybel gee egter geen direkte verwysing na die ouderdom van 13 nie. Dit verskil grootliks van kind tot kind. ‘n Kind het hierdie ouderdom van verantwoordelikheidsbesef bereik, wanneer hy of sy die vermoë het om hierdie keuse vir of teen Christus te maak. Charles Spurgeon se opinie was dat “ ‘n kind van vyf jaar kan inderdaad gered en weergebore word, soos ‘n volwassene.”

Met bogenoemde in gedagte, neem ook die volgende in oorweging: Christus se sterwe is voldoende vir alle mense. 1 Joh 2:2 sê Jesus is “die versoening vir ons sondes ; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.” Hierdie vers dui duidelik daarop dat Jesus se dood voldoende was vir alle sonde, nie net spesifiek vir diegene wat na Hom in die geloof gekom het nie. Die feit dat Christus se sterwe genoeg was vir alle sonde, laat dus die moontlikheid toe dat God hierdie betaling ook aanwend vir hulle wat nooit tot geloof kon kom nie.

Sommige sien ‘n verband tussen die ouderdom van verantwoordelikheidsbesef en die verbondsverhouding tussen die volk van Israel en die Here, waar daar geen vereiste of voorwaarde op ‘n manlike kind afgedwing kon word, om in die verbond ingesluit te word, behalwe om besny te word nie. Laasgenoemde is op die agste dag na geboorte voltrek (Ex 12:48-50; Lev 12:3).

Die vraag ontstaan, “Het die Ou Verbond enige houvas op die kerk?” Op Pinksterdag het Petrus gesê, “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe en sal julle die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” (Hand 2:38-39) Die woord “kinders” hier ( “teknon” in Grieks) beteken “kind, dogter, seun.” Hand 2:39 dui aan dat die vergifnis van sonde vir almal beskikbaar is, (vgl Hand 1:8) insluitende toekomstige generasies. Daar word nie gepraat van famile- of gesinsredding nie. Die kinders van diegene wat sondebelydenis gedoen het, moes self ook bely.

Die een gedeelte wat meer as al die ander met hierdie onderwerp ooreenstem, is 2 Sam 12:21-23. Die konteks waarin hierdie verse voorkom, is dat koning Dawid met Batseba egbreuk gepleeg het en as gevolg hiervan het sy swanger geraak. Die profeet Natan was deur die Here gestuur om Dawid in te lig dat, as gevolg van sy sonde, die Here die kind sou laat sterwe. Dawid het getreur en gebid vir die kind, maar toe die kind eers oorlede is, het Dawid opgehou om oor hom te rou. Dawid se bediendes was verbaas om dit te sien en het aan die koning gesê, “Wat doen u nou? Toe die kind nog gelewe het, het u gevas en gehuil. Nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?” Dawid het geantwoord, “ Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig en dan sal die kind lewe. Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.” Hiermee het Dawid bedoel dat diegene wat nie kan glo nie, veilig in die Here is. Dawid het gesê dat hy na die kind kon gaan, maar hy kon hom nie weer na hom toe bring nie. Netso belangrik is die feit dat Dawid deur hierdie wete getroos was. Wat Dawid eintlik gesê het, is dat hy sy babaseuntjie in die Hemel sou sien, al kon hy hom nie weer na hom toe bring nie.

Alhoewel dit moontlik is dat God Christus se betaling vir sonde in plek stel vir hulle wat nie kan glo nie, sê die Bybel nie spesifiek dat Hy dit so doen nie. Dus is dit ‘n onderwerp waaroor ons nie onwrikbaar of dogmaties behoort te wees nie. Dat God Christus se dood aanwend ten opsigte van hul wat nie kan glo nie, stem ooreen met Sy liefde en genade. God gebruik Christus se betaling vir sonde om babas en diegene wat verstandelik gestrem is, te red, aangesien hul nie verstandelik in staat is om hul sondige toestand en hul nood aan ‘n Verlosser te besef nie, maar weereens kan ons nie dogmaties wees nie. Waaroor ons wel seker is, is dat God liefde, heilig, genadig, regverdig en barmhartig is. Alles wat God doen, is altyd reg en goed en Hy is baie liewer vir kinders as wat ons ooit kan wees.


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat gebeur met babas en jong kinders wanneer hul sterwe? Waar lees ek in die Bybel van die ouderdom van verantwoordelikheidsbesef?