settings icon
share icon
Vraag

Wat is die hipostatiese eenheid? Hoe kan Jesus beide God en mens op dieselfde tyd wees?

Antwoord


Die hipostatiese eenheid is die term wat gebruik word om te beskryf hoe God die Seun, Jesus Christus ,‘n menslike natuur kon aanneem en tog terselfdertyd volledig God gebly het. Jesus was altyd God (Joh 8:58, 10:30), maar met die inkarnasie het Jesus ‘n menslike wese geword (Joh 1:14). Die toevoeging van die menslike natuur tot die goddelike natuur is Jesus, die God-mens. Hierdie is die hipostatiese eenheid, Jesus Christus, een Persoon, volledig God en volledig mens.

Jesus se twee nature, menslik en goddelik, is onafskeidbaar. Jesus sal vir ewig die God-mens wees, volledig God en volledig mens, twee onderskeie nature in een Persoon. Jesus se menslikheid en goddelikheid is nie gemeng nie, maar is verenig , sonder dat die identiteit verlore gegaan het. Jesus het soms met die beperkinge van ‘n mens gehandel (Joh 4:6, 19:28) en ander kere in die krag van Sy godheid (Joh 11:43, Matt 14:18-21). In beide gevalle was Jesus se handelinge deur Sy een Persoon. Jesus het twee nature, maar net een persoonlikheid.

Die doktrine van die hipostatiese eenheid is ‘n poging om te verduidelik hoe Jesus beide God en mens, op dieselfde tyd kon wees. Dit is uiteindelik tog ‘n doktrine wat ons nie by magte is om ten volle te verstaan nie. Dit is onmoontlik vir ons om ten volle te verstaan hoe God werk. Ons, as menslike wesens met beperkte verstand, behoort nie te verwag om ‘n volmaakte God te begryp nie. Jesus is God se Seun, deurdat Hy deur die Heilige gees verwek is (Luk 1;35). Dit beteken egter nie dat Jesus nie voordat Hy verwek is, bestaan het nie. Jesus het van ewigheid af bestaan (Joh 8:58, 10:30). Toe Jesus verwek is, het Hy ‘n menslike wese geword, in toevoeging tot Sy wese as God (Joh 1:1,14).

Jesus is beide God en mens. Jesus was alle tye God, maar eers toe Hy in Maria verwek is, het Hy ‘n menslike wese geword. Jesus het ‘n mens geword om met ons in ons swaarkry te kan identifiseer (Heb 2:17,18) en nog belangriker, sodat Hy aan die kruis kon sterf en die prys vir ons sondes kon betaal (Fil 2:5-11). Om op te som, die hipostatiese eenheid leer, dat Jesus beide volledig mens en volledig goddelik is, dat daar geen vermenging of verwatering van enige van die nature is nie en dat Hy een verenigde Persoon vir ewig is.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die hipostatiese eenheid? Hoe kan Jesus beide God en mens op dieselfde tyd wees?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries