Wedergebore Christen
 

Wat beteken dit om ‘n wedergebore Christen te wees?




Vraag: "Wat beteken dit om ‘n wedergebore Christen te wees?"

Antwoord:
Wat beteken dit om ‘n wedergebore Christen te wees? Die verse uit die Bybel wat hierdie vraag beantwoord is Johannes 3:1-21. Die Here Jesus Christus praat met Nikodemus, ‘n belangrike Fariseër en lid van die Sanhedrin (‘n owerste van die Jode). Nikodemus het in die aand na Jesus gekom. Hy het vrae vir Jesus gehad.

Soos Jesus met Nikodemus praat, sê Hy, “… Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: “ Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?” Jesus antwoord: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie…” (Johannes 3:3-7).

Die begrip “wedergeboorte” beteken letterlik “geboorte van bo”. Nikodemus het werklik ‘n behoefte gehad. Hy het ‘n hartsverandering nodig gehad—‘n geestelike transformasie. Die nuwe geboorte, om wedegebore te word, is ‘n Godsdaad waar die persoon wat wat glo die ewige lewe beërwe. (2 Korinthiërs 5:17; Titus 3:5; 1 Petrus 1:3; 1 Johannes 2:29; 3:9; 4:7; 5:1-4, 18). Johannes 1:12, 13 wys dat deur “wedergebore te word” word ons “kinders van God” deur ons vertroue in die Naam van Jesus Christus.

‘n Logiese vraag duik op, “Hoekom is dit nodig dat iemand weer gebore moet word?” Die Apostel Paulus sê in Efesiërs 2:1, “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes…” Hy sê aan die Romeine in Romeine 3:23, “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Aldus moet ‘n persoon weer gebore word sodat die sondelas van hul afgewas kan word en hulle ‘n verhouding met God kan hê.

Hoe gebeur dit? Efesiërs 2:8, 9 leer, “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” Wanneer iemand “gered” word, word hy/sy weer gebore, geestelik hernu en is van dan af, deur die nuwe geboortereg, ‘n kind van God. Om “wedergebore” te word, is om op Jesus Christus, die Een wat die losprys vir die sondelas betaal het, toe Hy die kruisdood gestef het, te vertrou. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel…” (2 Korinthiërs 5:17).

Indien u nog nooit op die Here Jesus Christus vertrou het as u Verlosser nie, sal u die Heilige Gees se klop aan u hartsdeur oorweeg? U moet wedergebore word. Sal u die gebed van belydenis vandag bid en daardeur ‘n nuwe skepsel in Christus word? “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is” (Johannes 1:12-13).

Indien u Jesus Christus as u Verlosser wil aanneem en wedergebore wil word, bied ons u ‘n eenvoudige gebed. Onthou dat deur slegs hierdie of enige ander gebed voor te dra, sal u nie gered word nie. Slegs deur op Christus te vertrou kan u van sonde gered word. Die gebed is ‘n eenvoudige manier om u geloof in God te bevestig en om Hom te dank vir u redding. “Here, ek weet dat ek teen U gesondig het en dat ek verdien om gestraf te word. Maar Jesus Christus het my straf, wat ek verdien, op Hom geneem sodat ek, deur geloof in Hom, vergewe mag word. Ek draai my rug op die sonde en plaas my geloof in U vir my redding. Dankie vir U wonderlike Genade en die beloning van die Ewige Lewe! Amen!”

Het u ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat u hier gelees het? Indien wel, druk op die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hier onder.


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit om ‘n wedergebore Christen te wees?