settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel oor pyn?

Antwoord


Die woord “pyn” of een of ander vorm daarvan verskyn meer as 70 keer in die Skrif. Die woord se eerste gebruik verduidelik die oorsprong van pyn tydens kindergeboorte: Gen 3:16, “Vir die vrou het die Here God gesê: ‘Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.’” Die konteks hier is dat Adam en Eva gesondig het en die geboortepyn is een van die gevolge van sonde. As gevolg van sonde, is die hele aarde vervloek en dood het as gevolg daarvan ingekom (Rom 5:12). Dus kom ons tot die gevolgtrekking dat pyn een van die baie resultate van die oorspronklike sonde is.

Terwyl dit nie spesifiek in die Bybel genoem word nie, weet ons, medies gesproke, dat pyn ‘n gawe is. Daarsonder sou ons nie geweet het dat ons mediese aandag benodig nie. Dit is wel so dat die afwesigheid van pyn een van die probleme is, geassosieer met melaatsheid. Kinders sou nooit leer dat om ‘n warm stoof aan te raak, ‘n slegte idee is nie, ook sou ons nie bedag wees op ‘n ernstige mediese toestand, sonder die pyn wat daarmee geassosieer word nie. Geestelik gesproke word een van die voordele van pyn deur Jakobus uitgespreek in Jak 1:2-3, “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.” Volgens Jakobus is dit so, dat wanneer ons pynlike beproewings verduur, kan ons daarin vrede vind, deur te weet dat God aan die werk is in ons om deursettingsvermoë en ‘n Christus-karakter te bou. Dit word toegepas ten opsigte van verstandelike, emosionele en geestelike pyn, sowel as fisiese pyn.

Pyn voorsien ook aan ons die geleentheid om die genade van God te ondervind. Kyk na wat Paulus gesê in 2 Kor 12:9, “Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Paulus het gepraat van ‘n “doring in die vlees” wat hom gepla het. Ons weet nie wat dit was nie, maar dit was waarskynlik pynlik. Hy het erken dat God se genade genoeg was vir hom om dit te kan verduur. God sal aan Sy kinders genade gee om pyn te kan verduur.

Die werklike goeie nuus is dat Jesus in ons plek gesterf het vir ons sondes: “Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is” (1 Pet 3:18). Deur geloof in Jesus Christus, gee God aan die gelowige die ewige lewe en al die seëninge wat daarmee gepaard gaan. Een daarvan is, “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verby gegaan” (Openbaring 21:4). Die pyn wat ons ondervind as ‘n natuurlike deel van die lewe in ‘n gevalle, deur sonde vervloekte wêreld, sal ‘n ding van die verlede wees vir hulle wat deur geloof in Christus, die ewigheid in die hemel saam met Hom gaan deurbring.

Opsommenderwys, alhoewel pyn nie aangenaam is nie, moet ons God daarvoor dank, omdat dit ons waarsku dat iets in ons liggame verkeerd is. Dit maak ook dat ons weer fokus op aaklige gevolge van sonde en om uiters dankbaar teenoor God te wees vir die feit dat Hy vir ons ‘n weg oopgemaak het om gered te word. Wanneer ons in pyn verkeer, is dit ‘n uitstekende tyd om te besef dat Jesus folterende emosionele en fisiese pyn verduur het in ons plek. Daar is geen pyn wat naby die afgryslike gebeure van Jesus se kruisiging sou kom nie en daardie pyn het Hy vrywilliglik gely om ons vry te maak van sonde en so Sy Vader te verheerlik.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel oor pyn?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries