settings icon
share icon
Vraag

Hoe kan ek verseker weet dat ek Hemel toe sal gaan wanneer ek sterf?

Antwoord


Weet jy verseker dat jy die ewige lewe het en dat jy Hemel toe sal gaan wanneer jy sterf? God wil hê jy moet seker wees! Die Bybel sê: “Ek het ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf: dit is sodat julle wat in die Seun van God glo, kan weet dat julle die goddelike, nimmereindigende lewe het” (1 Johannes 5:13).

Veronderstel dat jy op hierdie oomblik voor God staan en dat Hy jou vra: “Waarom moet ek jou in die Hemel toelaat?” Wat sal jou antwoord wees? Dit is moontlik dat jy nie sal weet wat om te sê nie. Wat jy moet weet is dat God ons lief het en dat Hy ’n manier gegee het waarop ons verseker kan weet waar ons die ewigheid sal deurbring. In die Bybel staan dit so: “God het bewys hoe lief Hy die wêreld het. Hy het sy unieke Seun na die wêreld toe gestuur sodat elkeen wat in hierdie Seun glo, nie verlore sal gaan nie, maar vir altyd saam met God kan leef.” (Johannes 3:16).

Ons moet heel eerste verstaan wat ons van die Hemel af weghou. Die probleem is dat ons sondige natuur verhoed dat ons ’n verhouding met God het. Ons is van nature en ook omdat dit ons keuse was, sondaars. “Ons is almal sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie” (Romeine 3:23). Ons kan ons self nie red nie. “Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie.” (Efesiërs 2:8-9) Ons verdien die dood en die hel. “Ek sê weer: as ’n mens jou hele lewe lank vir die sonde werk, is die dood jou beloning. So eenvoudig is dit. God gee egter aan ons die ewige lewe verniet. Dit is sy geskenk aan ons wanneer ons in Christus Jesus as ons Here glo” (Romeine 6:23).

God is heilig en regverdig en moet ons sondes straf, maar Hy het ons lief en het voorsiening gemaak vir die vergifnis van ons sondes. Jesus het gesê, “Laat Ek dit so stel: Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie” (Johannes 14:6).

Jesus het vir ons sondes aan die kruis gesterf, “Self het Hy niks verkeerds gedoen, maar Hy moes vir altyd vir ander se verkeerde optrede sterf. Die Een wat niks verkeerds gedoen het nie, moes so vir al die verkeerde dinge van ander betaal. So het Hy dit egter vir ons reggekry om by God uit te kom. Sy menslike liggaam is wel doodgemaak, maar die Gees het Hom lewendig gemaak” (1 Petrus 3:18). Jesus het weer uit die dood opgestaan, “Jesus is in ons plek vir al ons sondes dood, maar God het Hom weer lewendig gemaak. Daarom is ons elkeen wat in Hom glo se saak met God in orde.” (Romeine 4:25)

Dit bring ons terug by die oorspronklike vraag: “Hoe kan ek verseker weet dat ek Hemel toe sal gaan wanneer ek sterf?” En die antwoord is: glo in Jesus Christus en jy sal gered word (Handelinge 16:31). “Daar was mense wat Hom met oop arms ontvang het. Hulle het Hom en dit waarvoor Hy staan ten volle in geloof aanvaar. Omdat hulle so op Hom vertrou, het Jesus alles vir hulle gedoen wat nodig was om God se kinders te word” (Johannes 1:12).

Jy kan die ewige lewe kry as ’n geskenk – VERNIET! “Ek sê weer: as ’n mens jou hele lewe lank vir die sonde werk, is die dood jou beloning. So eenvoudig is dit. God gee egter aan ons die ewige lewe verniet. Dit is sy geskenk aan ons wanneer ons in Christus Jesus as ons Here glo” (Romeine 6:23.) Jy kan onmiddellik ’n vol en betekenisvolle lewe hê. Jesus het gesê: “Ek is hier om vir julle die kans te gee om altyd by God te wees. By Hom sal julle die lewe voluit kan geniet. En dit is lekkerder as enigiets anders, glo My!” (Johannes 10:10). Jy kan die ewigheid saam met Jesus in die Hemel deurbring want hy het belowe: “As Ek alles vir julle reggekry het, kom Ek julle haal om by My te wees. Waar Ek is, sal julle dan ook wees” (Johannes 14:3).

As jy Jesus Christus as jou Verlosser wil aanneem en vergifnis van God wil ontvang, kan jy die volgende gebed bid. Onthou egter dat om net hierdie gebed of enige ander gebed te bid, jou nie sal red nie. Dit is slegs geloof in Christus wat jou van sonde kan verlos. Hierdie gebed is ’n eenvoudige manier om vir God te vertel van jou geloof in Hom en om Hom te bedank omdat Hy voorsiening gemaak het vir jou verlossing.

“Here, ek weet dat ek teen U gesondig het en die straf daarvoor verdien. Maar Jesus Christus het die straf wat ek verdien, op Hom geneem sodat ek deur geloof in Hom, vergewe mag word. Ek los nou my sondige lewe en glo dat U my sal red. Baie dankie vir U wonderlike genade en die beloning van die Ewige Lewe! Amen!”

Het u ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat u hier gelees het? Indien wel, druk op die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hier onder.
English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe kan ek verseker weet dat ek Hemel toe sal gaan wanneer ek sterf?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries