settings icon
share icon
Vraag

Wie was die ware historiese Jesus?

Antwoord


Een van die mees algemene vrae sonder twyfel, is, "Wie was Jesus?" Daar is geen twyfel dat die naam Jesus by verre, die hoogste erkenning regdeur die wêreld kry nie. Een derde van die wêreld se populasie – ongeveer 2.5 biljoen mense – noem hulself Christene. Islam – 1.5 biljoen mense – erken Jesus as die tweede grootste profeet naas Mohammed. Van die oorblywende 3.2 biljoen mense (rofweg die helfte van die wêreld se populasie) het die meeste van hulle die Naam van Jesus al gehoor of weet van Hom.

Indien ons 'n opsomming van Jesus se lewe van geboorte tot Sy dood sou saamstel, sal dit ietwat karig wees. Hy is uit Joodse ouers gebore in Betlehem, 'n klein dorpie suid van Jerusalem, terwyl die gebied onder Romeinse besetting was. Sy ouers het noord gegaan na Nasaret, waar Hy opgegroei het; derhalwe was Hy algemeen bekend as "Jesus van Nasaret." Sy pa was 'n skrynwerker en dus het Jesus daardie beroep in Sy kinderjare reeds aangeleer. Ongeveer op dertigjarige ouderdom, het Hy begin met Sy publieke bediening. Hy het 'n dosyn manne van twyfelagtige reputasie as Sy dissipels gekies en vanuit Kapernaum gewerk, 'n groot vissersdorp en handelsentrum aan die kus van Galilea. Vandaar af het Hy gereis en regdeur die streek van Galilea gepreek en dikwels onder die nabye Heidene en Samaritane beweeg, met onderbroke reise na Jerusalem.

Jesus se ongewone leringe en metodes het baie gehinder en mense die skrik op die lyf gejaag. Sy revolusionêre boodskap, gekoppel aan verbysterende wonderwerke en genesings, het 'n groot aanhang tot gevolg gehad. Sy gewildheid onder die massa het vinnig gegroei en dit het tot gevolg gehad dat dit waargeneem is deur die goed ingeligte leiers van die Joodse geloof. Hierdie Joodse leiers het gou-gou jaloers en beledig gevoel oor Sy sukses. Baie van hierdie leiers het Sy leringe as 'n belediging gesien en het gevoel dat hul gevestigde godsdienstige tradisies en seremonies in gevaar was. Hulle het spoedig met die Romeinse regeerders saamgespan om Hom dood te maak. Dit was gedurende hierdie tyd dat een van Jesus se dissipels Hom verraai het en die Joodse leiers hom'n nietige bedraggie geld oorhandig het. Kort daarna is Hy gearresteer en 'n vinnige reeks bespottende verhore is gehou en uiteindelik is Hy gekruisig.

Anders egter as in enige ander persoon in die geskiedenis, was Jesus se dood egter nie die einde van Sy storie nie. Dit was net die begin. Christenskap bestaan slegs as gevolg van wat ná Jesus se dood gebeur het. Drie dae na Sy dood het Sy dissipels en baie ander begin vertel dat Hy weer lewe. Sy graf was leeg, die liggaam was weg en daar was getuienis van talryke verskynings deur baie verskillende groepe mense, by verskillende plekke en onder verskillende omstandighede.

As gevolg van dit alles, het die mense begin verkondig dat Jesus die Christus of die Messias was. Hulle het verkondig dat Sy opstanding die boodskap van vergifnis deur Sy offerande gestaaf het. Aanvanklik het hulle hierdie goeie nuus vertel – die Evangelie – in Jerusalem, dieselfde stad waar Hy doodgemaak is. Hierdie Jesus het spoedig bekend gestaan as die Weg (sien Hand 9:2, 19:9, 23, 24:22) en vinnig bekend geraak. In 'n kort tydjie het hierdie Evangelieboodskap selfs wyer as die streek versprei en selfs so ver as Rome en die verste uithoeke van die keiserryk.

Jesus het sonder twyfel 'n impak op die wêreld se geskiedenis gehad. Die vraag aangaande die "ware historiese Jesus" kan die beste beantwoord word deur bestudering van Jesus se impak op die geskiedenis. Die enigste verduideliking vir die onvergelyklike impak wat Jesus gehad het, is dat Jesus baie meer as net 'n mens was en is: presies wat die Bybel sê Hy is – God word mens. Slegs die God wat die wêreld geskep het en die verloop van die geskiedenis beheer, kon die wêreld só drasties beïnvloed.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wie was die ware historiese Jesus?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries