settings icon
share icon
Vraag

Wanneer sal die opstanding plaasvind?

Antwoord


Volgens die Bybel is dit duidelik dat die opstanding ‘n realiteit is en dat hierdie lewe nie al is wat daar is nie. Aangesien dood die einde van fisiese lewe is, is dit nie die einde van die menslike bestaan nie. Baie glo foutiewelik dat daar een algemene opstanding sal wees, maar die Bybel leer dat daar nie net een opstanding sal wees nie, maar ‘n reeks van opstandings, sommige tot die ewige lewe in die hemel en sommige tot die ewige vervloeking (Dan 12:2; Joh 5:28-29).

Die eerste groot opstanding was dié van Jesus Christus. Dit is aangeteken in elkeen van die vier Evangelies (Matt 28; Mark 16; luk 24; Joh 20), verskeie kere in Handelinge aangehaal (Hand 1:22; 2:31; 4:2, 33; 26:23) en herhaaldelik gemeld in die briewe aan die kerke (Rom 1:4; Fil 3:10; 1 Pet 1:3). Daar is baie gemaak van die opstanding van Christus in 1 Kor 15:12-34, waar weergegee word dat meer as 500 mense Hom gesien het by een van Sy verskynings na Sy opstanding. Christus se opstanding is die “first fruits” of waarborg aan elke Christen dat hy ook opgewek sal word. Christus se opstanding is ook die grondslag van die Christendom se sekerheid dat alle mense wat gesterf het, eendag opgewek sal word om die regverdige oordeel deur Jesus Christus te beleef (Hand 17:30-31). Die opstanding tot die ewige lewe word beskryf as die “eerste opstanding” (Openbaring 20:5-6); die opstanding tot oordeel en pyniging word beskryf as die “tweede dood” (Openbaring 20:6, 13-15).

Die eerste groot opstanding van die Kerk sal plaasvind met die wegraping. Almal wat hul vertroue in Jesus Christus geplaas het gedurende die Eeu van die Kerk en gesterf het voor Jesus se wederkoms, sal met die wegraping opgewek word. Die Eeu van die Kerk het op die Pinksterdag begin en sal eindig wanneer Christus terugkeer om die gelowiges saam met Hom hemel toe te neem (Joh 14:1-3; 1 Tes 4:16-17). Die apostel Paulus het verduidelik dat nie alle Christene sal sterf nie, maar almal sal verander word: opstandings-tipe liggame (1 Kor 15:50-58), sommige sonder om te sterf! Christene wat lewe en hulle wat reeds gesterf het, sal opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet en vir altyd by Hom te wees!

‘n Ander groot opstanding sal gebeur wanneer Christus terugkeer aarde toe (Sy Wederkoms) teen die einde van die verdrukkingsperiode. Na die wegraping, is die verdrukking die volgende gebeurtenis na die Eeu van die Kerk in God se kronologie. Dit sal ‘n tyd van vreeslike straf op die aarde wees en dit word beskryf in Openbaring 6-18. Alhoewel alle Kerk-eeuse gelowiges weg sal wees, sal miljoene mense op die aarde agterbly en sal gedurende hierdie tyd tot hul sinne kom en in Jesus as hul Verlosser begin glo. Dit is tragies dat die meeste van hulle vir hul geloof sal moet betaal deur hul lewens te verloor (Openbaring 6:9-11; 7:9-17; 13:7, 15-17; 17:6; 19:1-2). Hierdie gelowiges in Jesus wat gedurende die verdrukking gesterf het, sal met Christus se wederkoms opgewek word en sal saam met Hom regeer vir ‘n duisend jaar gedurende die Millennium (Openbaring 20:4,6). Oud Testamentiese gelowiges soos Job, Noag, Abraham, Dawid en selfs Johannes die Doper (wat onthoof is voordat die Kerk begin het) sal ook op hierdie tyd opgewek word. Verskeie gedeeltes in die Ou Testament praat van hierdie gebeurtenis (Job 19:25-27; Jes 26:19; Dan 12:1-2; Hosea 13:14). Esegiël 37:1-14 beskryf hoofsaaklik die versameling van die volk Israel d.m.v. die simboliek van dooie liggame wat weer lewe kry. Van die taal wat gebruik word, kan ‘n fisiese opstanding van gestorwe Israeliete nie uitgesluit word by hierdie gedeelte nie. Weer eens, alle gelowiges in God (in die Ou Testamentiese era) en alle gelowiges in Jesus (in die Nuwe Testamentiese era) vorm deel van die eerste opstanding, ‘n opstanding tot die lewe (Openbaring 20:4,6).

Daar kan ‘n ander opstanding wees teen die einde van die Millennium, een wat geïmpliseer is, maar nooit eksplisiet in die Skrif genoem word nie. Dit is moontlik dat sommige gelowiges ‘n fisiese dood sal sterf gedurende die duisendjarige ryk. Deur die profeet Jesaja het God gesê, “Daar sal geen kind sterf wat maar ‘n paar dae oud is nie en geen grysaard wat nie sy jare uitgeleef het nie. As iemand op honderdjarige leeftyd sterf, sal dit beskou word asof hy jonk gesterf het; as hy nie honderd word nie, sal hy beskou word as iemand wat vervloek is” (Jes 65:20). Aan die ander kant is dit ook moontlik dat dood in die Millennium net die ongehoorsames sal tref. Tydens die een of ander gebeurtenis sal een of ander transformasie vereis word, om gelowiges te pas in hul natuurlike liggame in die Millennium, vir vroeëre bestaan regdeur die ewigheid. Elke gelowige sal ‘n “opgewekte” tipe liggaam benodig.

Dit is duidelik vanuit die Skrif dat God die algehele heelal sal verwoes met vuur, insluitende die aarde (2 Pet 3:7-12). Dit sal nodig wees om God se skepping te suiwer van sy endemiese boosheid en verval wat as gevolg van die mens se sonde gebeur het. God sal in sy plek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep (2 Pet 3:13; Openbaring 21:1-4). Wat sal egter gebeur met daardie gelowiges wat die verdrukking oorleef het en die Millennium in hul natuurlike liggame binnegegaan het? En wat sal gebeur met hulle wat gedurende die Millennium gebore word, wat in Jesus glo en voortgaan om te lewe in hul natuurlike liggame? Paulus maak dit duidelik dat vlees en bloed, wat verganklik is en onderhewig aan verval, nie die koninkryk van God kan ingaan nie. Die ewige koninkryk is bewoonbaar slegs deur hulle wat opgewek is, verheerlikte liggame wat nie meer langer verganklik is nie en nie vervalle raak nie (1 Kor 15:35-49). Vermoedelik sal aan hierdie gelowiges opgewekte liggame gegee word, sonder dat hulle hoef te sterf. Presies wanneer dit sal gebeur, word nie verduidelik nie, maar teologies gesproke moet dit iewers in die oorgang van die ou aarde en die heelal na die nuwe aarde en nuwe hemel plaasvind (2 Pet 3:13; Openbaring 21:1-4).

Daar is ‘n finale opstanding, klaarblyklik van al die ongelowige gestorwenes van al die eeue. Jesus Christus sal hul uit die dood opwek (Joh 5:25-29) na die duisendjarige ryk van Christus (Openbaring 20:5) en na die vernietiging van die huidige aarde en heelal (2 Pet 3:7-12; Openbaring 20:11). Dit is die opstanding beskrywe deur Daniël as ‘n ontwaking “uit die graf…..tot ewige skande en veragting” (Dan 12:2). Dit word deur Jesus beskryf as ‘n opstanding en veroordeling (Joh 5:28-29).

Die apostel Johannes het iets gesien wat in die toekoms sou gebeur. Hy het ‘n “groot wit troon” gesien (Openbaring 20:11). Hemel en aarde het “padgegee” van “die Een wat daarop sit.” Dit is klaarblyklik ‘n beskrywing van die smelting deur vuur van alle materie, insluitend die hele heelal en aarde (2 Pet 3:7-12). Al die (goddelose) dooies sal voor die troon staan. Dit beteken dat hulle opgewek is na die duisend jaar (Openbaring 20:5). Hulle sal liggame besit wat pyn kan voel, maar wat nooit sal ophou bestaan nie (Markus 9:43-48). Hulle sal geoordeel word en hul straf sal gelykstaande wees aan hul werke. Daar is egter ‘n ander boek oopgemaak – die boek van die lewe, die boek van die Lam (Openbaring 21:27). Hulle wie se name in dié boek geskryf is nie, sal in die “vuurpoel” gegooi word, wat neerkom op die “tweede dood” (Openbaring 20:11-15). Geen indikasie word gegee van enigeen wat by hierdie oordeel verskyn, dat hul name in die boek van die lewe gevind word nie. Hulle wie se name in die boek van die lewe verskyn, was tussen hulle wat geseënd is, want hulle ontvang vergifnis en was deel van die eerste opstanding, die opstanding tot die lewe (Openbaring 20:6).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wanneer sal die opstanding plaasvind?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries