Vraag
Is daar enige waarheid in Die Da Vinci-kode?
Antwoord
Is daar waarheid in Dan Brown se topverkoper "The Da Vinci Code"? Dit is belangrik om te onthou dat "The Da Vinci Code" heeltemal fiktief is. Hoe graag skrywer Dan Brown ons ook al wil laat glo, het dit geen stewige grondslag histories, Bybels of teologies nie. "The Da Vinci Code" is in wese 'n poging om Jesus Christus te "vermenslik" deur 'n verhaal uit te dink oor hoe Sy ware identiteit byna twee duisend jaar lank verdraai en verborge is. In die boek was Jesus met Maria Magdalena getroud en het kinders gehad. Maria Magdalena en Jesus se nakomelinge was die "heilige graal" wat die bloed van Christus dra. "The Da Vinci Code" stel dit so dat hierdie feite oor Jesus Christus deur die vroeƫ kerk geheim gehou was om die idee van Jesus se goddelikheid te beskerm. Al die Christelike boeke wat van Jesus se verhouding met Maria Magdalena vertel het, is vernietig, en enige bewys van so 'n verhouding is geheim gehou.
Weer eens, "The Da Vinci Code" is fiksie. Dit het geen grondslag in die werklikheid nie. Dit is 'n goed geskrewe, vermaaklikheidsboek, maar dit is al wat daarin is. Dan Brown is van die oortuiging dat hierdie idees oor Jesus waar is. Aangesien daar geen historiese, Bybelse of teologiese grondslag vir sy oortuigings is nie, het Dan Brown dit in 'n fiktiewe verhaal aangebied. Maar die waarheid is dat Jesus nie met Maria Magdalena of enigiemand anders getroud was nie. Jesus het geen kinders gehad nie. Ja, die vroeƫ kerk het probeer om baie "evangelies" oor Jesus te vernietig, maar hulle het dit gedoen omdat dit byna universeel as dwaalleer erken is, nie om iets te verberg nie. Selfs hierdie "evangelies" gee net aanduidings van 'n verhouding tussen Jesus en Maria Magdalena. Die kerk het nie die waarheid oor Jesus se huwelik met Maria Magdalena verskuil nie. Inteendeel, die kerk het die waarheid beskerm, dat Jesus God in die vlees is (Johannes 1:1, 14).
"Die Da Vinci-kode" is in werklikheid 'n aanval op die Persoon van Jesus Christus. Mense wil nie glo dat Jesus God is of dat Hy die Verlosser is nie, daarom versin hulle leuens oor Hom om 'n valse Jesus te skep, in wie hulle kan glo. Dit is waaroor "Die Da Vinci-kode" gaan: 'n valse siening word voorgehou van wie Jesus Christus werklik was en dan word verduidelik waarom hierdie "waarheid" vir byna 2000 jaar 'verborge' is.
English
Is daar enige waarheid in Die Da Vinci-kode?