settings icon
share icon
Vraag

Waar is God? Waar is God as dit seermaak?

Antwoord


Die Bybel leer dat God oor die nasies regeer vanaf Sy heilige troon in die hemel (Ps 47:8; Jes 6:1, 66:1; Heb 4:16). Alhoewel ons weet dat God se teenwoordigheid in 'n sekere sin uniek is in die hemel, maak die Skrif dit ook duidelik dat God alomteenwoordig is, op dieselfde tyd. Van die begin van die Skrif af sien ons dat God se teenwoordigheid oor die aarde sweef, selfs toe dit nog vormloos en leeg was (Gen 1:2). God het die aarde met Sy skepping gevul en Sy teenwoordigheid en heerlikheid gaan voort om die hele aarde te bewoon (Numeri 14:21). Daar is baie voorbeelde regdeur God se Woord van God se teenwoordigheid wat op die aarde beweeg en met Sy skepping inwerk (Gen 3:8; Deut 23:14; Eks 3:2; 1 Kon 19:11-18; Luk 1:35;Hand 16:7). Heb 4:13 sê, "Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor Sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee." Jer 23:24 roep uit, " Niemand kan in 'n geheime plek wegkruip sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here." Ps 139 is 'n wonderlike studiestuk aangaande God se alomteenwoordigheid.

Waar is God?
Indien jy 'n gelowige in Christus is, is God by jou, langs jou, bokant jou en binne-in jou. God se teenwoordigheid en beskermende genade verlaat jou nooit. Indien jy nie 'n gelowige in Jesus Christus is nie, is God reg voor jou, Hy nooi jou, Hy trek jou nader, Hy offer jou die liefde, genade en barmhartigheid wat Hy begeer om vir jou te gee. Indien jy onseker is van jou verhouding met God deur Jesus Christus, lees asseblief ons artikel oor "Get right with God." Miskien is ''n beter vraag as "Waar is God?" dan eerder, "Waar is jy in jou verhouding met God?"

Waar is God wanneer dit seermaak?
Ons begeer om die antwoord op hierdie vraag te kan ken, veral as pynlike beproewings en aanvalle van twyfel ons in die gesig staar. Selfs Jesus het tydens Sy kruisiging gevra, "My God, my God, waarom het U My verlaat?" (Matt 27:46). Vir die toeskouers van daardie tyd, asook vir hulle wat eerste die storie gelees het, lyk dit asof God vir Jesus in die steek gelaat het. Dus wil dit vir ons voorkom asof Hy ook in ons donkerste oomblikke vir ons sal verlaat. Tog, volgens die voortgesette waarneming van die gebeure wat na die kruisiging afgespeel het, is die waarheid geopenbaar dat niks ons van God se liefde kan skei nie, nie eers die dood nie (Rom 8:37-39). Nadat Jesus gekruisig is, is Hy verheerlik (1 Pet 1:21; Mark 16:6, 19; Rom 4:24-25). Vanuit hierdie voorbeeld alleen kan ons verseker wees dat selfs al voel ons nie God se teenwoordigheid midde in ons pyn nie, kan ons steeds Sy belofte glo, dat Hy ons nooit sal verlaat of in die steek laat nie (Heb 13:5). "God laat soms toe wat Hy haat om dit wat Hy liefhet te bereik" (Joni Erickson Tada).

Ons plaas ons vertroue in die feit dat God nie lieg nie, dat Hy nooit verander nie en dat Sy Woord vir ewig waar bly staan (Num 23:19; 1 Sam 15:29; Ps 110:4; Maleagi 3:6; Heb 7:21; 13:8, Jak 1:17; 1 Pet 1:25). Ons verloor nie vertroue in God in pynlike omstandighede nie, aangesien ons deur geloof lewe en elke woord wat uit God se mond kom, nie ons hoop plaas op die sigbare of wat waargeneem word nie. Ons vertrou dat God ons Lig is en ons tydelike probleme vir ons op 'n ewige heerlikheid laat uitloop, wat alle swaarkry op aarde verreweg oortref. Dus plaas ons ons oë "nie op die sigbare dinge nie, maar die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig" (2 Kor 4:16-18; 5:7). Ons vertrou ook God se Woord, wat sê dat Hy te alle tye besig is om "alles ten goede te laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is" (Rom 8:28). Selfs al sien ons nie altyd die goeie einde soos God dinge laat uitwerk nie, kan ons verseker wees dat daar 'n tyd sal kom, wanneer ons beter sal verstaan en duideliker sal kan sien.

Ons lewens is soos 'n lappieskombers. As jy na die agterkant van die kombers kyk, sien jy net 'n chaos van geknoopte en los drade. Dit lyk onaantreklik en dit lyk asof daar geen ritme of patroon is nie. Tog, as jy dit omvou, sien jy hoe dit kunstig aanmekaar geweef is, elke draadjie, om 'n pragtige skepping te vorm: baie soos die lewe van 'n gelowige (Jes 64:8). Ons lewe met 'n beperkte begrip van die dinge van God, tog sal daar 'n dag kom wanneer ons alles sal ken en verstaan (Job 37:5; Jes 40:28; Prediker 11:5; 1 Kor13:12; 1 Joh 3:2). Waar is God wanneer dit seermaak? Die boodskap om saam te neem met jou in moeilike tye, is dat wanneer jy nie Sy hand kan sien nie, vertrou Sy hart en weet verseker dat Hy jou nie in die steek gelaat het nie. Wanneer dit voel asof jy geen krag meer van jou eie het nie, is dit dan wanneer jy ten volle in Sy teenwoordigheid kan rus en weet dat Sy krag tot volle werking kom, wanneer jy swak is (2 Kor 12:9-10).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waar is God? Waar is God as dit seermaak?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries