settings icon
share icon
Vraag

Moet vroue stilbly in die kerk?

Antwoord


1 Kor 14:33-35 sê, "Soos in alle Christelike gemeentes moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees, soos die wet ook sê. As hulle iets te wete wil kom, moet hulle tuis hulle eie mans vra, want dit is lelik vir 'n vrou om in die erediens te praat." Met die eerste blik lyk dit soos 'n allesomvattende opdrag dat vroue nooit toegelaat word om in enige kerk te praat nie. Egter vroeër in dieselfde sendbrief (1 Kor 11:5), noem Paulus situasies waar vroue toegelaat word om te bid en te profeteer in die gesamentlike gemeentelike byeenkomste. Dus moet 1 Kor 14:33-35 nie 'n absolute opdrag wees dat vroue te alle tye in alle kerkdienste moet stilbly nie. Die verbod moet op een of ander wyse beperk word deur die konteks.

Die besorgdheid oor 1 Kor 14 is die ordelike byeenkoms van die gemeente. Die kerk van Korinte was gekenmerk vir die chaos en die tekort aan orde wat buitensporig was in daardie byeenkoms (vers 33). Elkeen in die kerkdiens het deelgeneem op sy eie manier, hoe sy begeerte ookal was om daaraan uitdrukking te gee, so hard as wat hulle wou. Hulle wat die gawe van spreek in tale gehad het, het almal gelyk gepraat en niemand was begaan oor hoe dit geïnterpreteer was nie. Hulle wat 'n openbaring van God ontvang het, het dit los en vas uitgeskree, selfs al kon dit nie gehoor word bo die lawaai nie en dus kon niemand evalueer wat wel geprofeteer word nie.Die byeenkomste was gekenmerk deur chaos en niemand is opgebou of onderrig nie (sien verse 5,12,19). Om hierdie probleem reg te stel, bepaal Paulus 'n getal mense/groepe om op sekere tye stil te bly en ook onder sekere omstandighede:

Verse 27-28a, "Wat die ongewone tale of klanke betref, net twee of hoogstens drie moet dit praat, elkeen op sy beurt, en daar moet een wees wat dit uitlê. As daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, moet die een wat buitengewone tale of klanke spreek, stilbly in die byeenkoms van die gemeente en net tuis met himself en met God praat."

Verse 29-31a, "Wat die profete betref, twee of drie kan aan die woord kom en die ander moet beoordeel wat hulle sê. Maar as 'n ander een wat daar sit, 'n openbaring ontvang, moet die spreker stilbly. Julle kan almal God se boodskap verkondig, maar een vir een, sodat almal daaruit kan leer en almal bemoedig kan word."

Verse 34-35, "Soos in al die Christelike gemeentes moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees, soos die wet ook sê. As hulle iets te wete wil kom, moet hulle tuis hulle eie mans vra, want dit is lelik vir 'n vrou om in die erediens te praat."

Soos ons reeds opgemerk het, word vroue toegelaat om te bid en te profeteer in die kerk in 1 Kor 11:5 en dus kan 1 Kor 14:34-35 nie 'n absolute verbod plaas teen alle tipes van praat, deur alle vroue, te alle tye nie. Soos dit duidelik blyk uit die spreek in tale mense en profete, is sekere ander mense ook verbied om op sekere tye en om sekere redes te praat. Die konteks gee sekere leidrade van wat aangaan.

Eerstens lyk dit asof die opdrag vir vroue om stil te bly, met twee belangrike kwessies te make het: behoorlike orde in die kerk en behoorlike demonstrasie of erkenning van outoriteit. Sommige vroue het waarskynlik hulself uitgespreek op 'n wyse wat nie die geestelike outoriteit erken het nie – nie dié van hul mans of die kerkleiers nie. Hierdie saak word in 1 Kor 11 ook aangespreek. Vroue is toegelaat om te bid en te profeteer, solank as hul koppe bedek was om respek te toon vir geestelike outoriteit. (In die eerste eeu was die hoofbedekking die teken van 'n rein, respekvolle vrou. Dus moes vroue in die kerk dit nie verwerp nie; om dit te doen, was om onbeskaamdheid of onbetaamlikheid te vertoon, volgens die kontemporêre kultuur. Vandag het hoofbedekkings nie meer dieselfde boodskap nie en dus, volgens evangeliese interpreteerders is die betoon van respek deur kulturele simboliek, belangrik, nie spesifiek 'n hoofbedekking nie.) Ons kan ons vir Paulus voorstel as hy sê, "As 'n vrou wil bid of profeteer in die kerk, laat haar dit doen, terwyl sy behoorlike respek vir die kerk-outoriteit toon; andersins moet sy stilbly."

Die Griekse woord "qunaikes" in 1 Kor 14:34 kan óf "vrou" óf "eggenote" beteken, afhangende van die konteks. Die verwysing na mans in vers 35 kan moontlik aandui dat "eggenote" bedoel is en dat slegs getroude vroue in die kerk stil moet wees. Om die aansoek te beperk van Paulus se opdrag aan getroude vroue, los nie regtig die probleem op nie: in die antieke wêreld was die huwelik gewoonlik gesien as 'n verhewe status. Indien getroude vroue ingesluit word om stil te bly, hoeveel te meer sou van enkelvroue verwag word om stil te wees?

Die onderskeie moontlike interpretasies van 1 Kor 14:34-35 is té talryk om nou te bespreek. Die beste verduideliking is die inagneming van die omliggende konteks en om die spanning tussen 1 Kor 11 en 14 op te los. Die onmiddellike konteks het te doen met die lewering van profesie en die bespreking van die profesie. Indien iemand 'n profesie aan die kerk bring in 'n publieke byeenkoms, moet die kerk dit beoordeel (1 Kor 14:29). Dit beteken dat die kerk dit moet oorweeg en evalueer om te sien of dit werklik van God is en indien dit is, watter aksie oorweeg moet word. Dit wil voorkom asof die beste kontekstuele verstaan is, dat vroue moet swyg in hierdie beraadslagende proses, aangesien evaluerende profesie 'n oefening van geestelike outoriteit is. Verder kan daar ook komplikasies ontstaan: wat van as 'n vrou haar man se evaluering van 'n profesie bevraagteken of nie daarmee saamstem nie? In daardie geval sal dit ordentlik wees vir haar om te swyg in die byeenkoms en hom in privaatheid by die huis daaroor te vra (vers 35). Dit sal respek toon vir haar man se geestelike outoriteit en die moontlikheid van wanorde verminder in die kerk. (Alhoewel dit nie in die gedeelte gemeld word nie, mag 'n man dit wys vind om "hom aan die saak te onttrek" indien sy vrou se profesie onder die soeklig geplaas word!)

Paulus se oorspronklike bedoeling in 1 Kor 14:33-35 lyk asof dit beteken dat 'n vrou nie moet deelneem aan die beraadslagende proses van profesie-evaluering nie. Die vraag bly steeds hoe hierdie opdrag in die hede toegepas moet word.

In beide 1 Kor 11 en 14 is Paulus gretig om manlike geestelike leierskap in die huis en kerk as 'n universele beginsel te behou (sien ook 1 Tim 2:12). Pastore en ouderlinge is mans en vroue val onder daardie outoriteit saam met die res van die kerk. Hoe hierdie onderwerping aan outoriteit erken en toegepas word, kan verskil, afhangende van huidige kulturele praktyke. Indien 'n hoofbedekking (soos in hoofstuk 11) die kulturele toepaslike simbool van 'n vrou se reinheid en onderworpenheid is, dan moet 'n hoofbedekking gedra word. As daardie simbool van verbygaande aard is, dan mag dit weggewerp word ten gunste van ander kulturele relevante simbole. In modern Westerse kulture sou modeklerasie sekerlik 'n relevante simbool gewees het. Ander simbole soos 'n vrou wat haar man se van aanneem, sou baie belangrik wees op 'n tyd in Amerika, maar nou van minder belang.

Daar mag 'n ander rede wees, wat in kultuur geanker was, vir die opdrag vir vroue om in die kerk stil te bly. Vir 'n eerste-eeuse vrou om deel te neem in enige byeenkoms sou beskou word as 'n aanmatigende optrede teen outoriteit. Miskien in vandag se kultuur, waar vroue uitgenooi word om deel te neem, is hul stilswye nie nodig in die kerk, om sodoende werklik respek te toon teenoor hul mans of die kerkleierskap nie. Die interpretasie wat hier gemaak word, bevat die volgende: solank as die manlike leierskap in die huis en kerk gerespekteer word en vroulike aanvaarding daarvan word uitgedruk op kulturele relevante wyse, dan is die gees van dié gedeelte vervul.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Moet vroue stilbly in die kerk?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries