settings icon
share icon
Vraag

Wat is die gewildste/belangrikste vrae in die Bybel?

Antwoord


Daar is baie, baie vrae in die Bybel. Dit is moeilik om ‘n presiese getal te gee, omdat die antieke Hebreërs en Koine-Grieks nie punktuasie gebruik het nie – ons kan nie net die Dooie See Perkamentrolle uithaal en die vraagtekens tel nie! Dikwels is dit moeilik om te weet of ‘n sin werklik bedoel is om ‘n vraag te vra. Maar Bybelgeleerdes bereken dat daar ongeveer 3 300 vrae in die Bybel voorkom. Die lys van vrae in die Bybel is definitief nie volledig nie. Dit is eenvoudig ‘n vraelys van die gewildste en belangrikste vrae in die Bybel.

“Het God werklik gesê. . . .?” (Gen 3:1)

Dit is die eerste vraag in die Bybel en ook die eerste geval waar iemand God se Woord bevraagteken. Satan verlei Eva om God se Woord in twyfel te trek. Eva reageer deur by te voeg tot God se Woord: “en ons mag dit nie aanraak nie.” God het gesê om nie van die boom te eet nie. Hy het nie gesê om dit of die vrugte nie aan te raak nie. Adam en Eva reageer op Satan se vraag deur ongehoorsaam aan God se Woord te wees. Dit het alles begin deur ‘n klein vragie.

“Waar is jy?” (Genesis 3:9)

Dit is die eerste vraag in die Bybel deur God gevra. Natuurlik het God presies geweet waar Adam en Eva fisies was. Die vraag was tot hulle voordeel. God het hoofsaaklik gevra, “julle was ongehoorsaam aan My. Het dinge uitgedraai soos julle dit wou hê of hoe Ek dit voorspel het?” Die vraag toon ook God se hart aan, wat die hart van ‘n herder is, soekende na verlore lammers om hulle sodoende terug te bring na die kudde. Jesus sou later kom “om te soek en te red wat verlore is” (Luk 19:10).

“Moet ek dan my broer oppas?” (Gen 4:9)

Dit was Kain se vraag in reaksie op God se vraag van waar Abel was. Behalwe die feit dat Kain so pas sy broer vermoor het, was Kain besig om die gevoel uit te druk wat ons almal beleef as ons nie omgee vir ander mense of na hulle wil omsien nie. Is ons ons broer se oppasser? Ja, ons is. Beteken dit dat ons moet weet waar hulle is en wat hulle die hele tyd mee besig is? Nee, maar ons moet genoeg in ander mense belê, om waar te neem as iets verkeerd gaan. Ons moet genoeg omgee om in te meng, sou dit nodig wees.

“Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” (Genesis 18:25)

Ja, die regter van die aarde doen altyd reg. Abraham het hierdie vraag gevra toe hy voor God gepleit het om die regverdiges te spaar en te beskerm teen die oordeel. Indien iets wat God doen, onregverdig lyk, dan verstaan ons dit verkeerd. As ons God se regverdigheid bevraagteken, is dit omdat ons aanvoeling vir regverdigheid verdraai is. As ons sê, “Ek verstaan nie hoe ‘n goeie en regverdige God dit kan toelaat nie,” is dit omdat ons nie reg verstaan wat dit beteken om ‘n goeie en regvedige God te wees nie. Baie mense dink hulle het ‘n beter begrip van die regverdigheid van God.

“Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!” (Job 2:9) Die hele boek Job weerklink met hierdie vraag van Job se vrou. Deur dit alles het Job sy integriteit behou. Job se “vriende” het herhaaldelik gesê, “Job, jy moes iets werklik slegs gedoen het, dat God dit aan jou doen. “ God het Job se vriende vermaan omdat hulle hom aanval en oor hul aanmatigende houding rakende God se soewereine wil. Dan vermaan God vir Job deur hom te herinner dat slegs God volmaak is in al Sy besluite. Ingesluit in God se voorlegging van Sy grootheid, is daar baie vrae: “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?” (Job 38:4).

“As ‘n mens sterf, sal hy weer lewe?” (Job 14:14)

Deur die wederkoms van Christus in ons leeftyd af te wag, sal ons tog almal eendag sterf. Is daar lewe na die dood? Almal wonder oor hierdie vraag een of ander tyd. Ja, daar is lewe na die dood en almal sal dit beleef. Dit is eenvoudig net ‘n saak van “waar” ons sal wees. Lei alle paaie na God toe? Op ‘n manier, ja. Ons sal almal voor God staan na ons gesterf het (Hebr 9:27). Ongeag watter pad ‘n mens volg, hy sál God ontmoet na die dood. Daniël 12:2: “Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting.”

“Hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoon hou?” (Ps 119:9)

Die antwoord: deur volgens God se Woord te leef. Wanneer ons God se Woord in ons harte “bewaar,” weerhou die Woord ons van sonde (Ps 119:11). Die Bybel vertel ons nie alles nie. Dit bevat nie die antwoord vir elke vraag nie. Maar die Bybel vertel ons alles wat ons moet weet hoe om die Christelike lewe te moet lei (2 Pet 1:3). God se Woord vertel ons wat ons doel is en gee instruksies hoe om daardie doelwit te vervul. Die Bybel gee ons die metodes en die einde. God se Woord het “groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk” (2 Tim 3:16-17).

“Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” (Jes 6:8)

Die korrekte antwoord word deur Jesaja uitgespreek: “Hier is ek! Stuur my!” Té dikwels is ons antwoord, “Hier is ek, maar stuur iemand anders.” Jes 6:8 is ‘n populêre vers om te gebruik in verband met internasionale bedieninge. Maar in konteks, God het nie gevra vir iemand om na die ander kant van die planeet te gaan nie. God het gevra vir iemand om Sy boodskap aan die Israeliete te bring. God wou hê dat Jesaja die waarheid aan die mense wat hy elke dag gesien het, moes bring, sy eie mense, sy familie, sy bure, sy vriende.

“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” (Matt 18: 21)

Vergifnis is moeilik. Petrus se voorstel van sewevoudige vergifnis het moontlik gelyk, vir hom, om voortreflike genade te betoon. Jesus se antwoord het gewys hoe verspot ons vergifnis gewoonlik is. Ons moet vergewe, omdat God ons vir soveel meer vergewe het (Kol 3:13). Ons vergewe nie omdat ‘n persoon dit verdien nie. “Verdien” het niks met genade te doen nie. Ons vergewe, omdat dit die regte ding is om te doen. Daardie persoon verdien dalk nie ons vergifnis nie, maar ons verdien ook nie God s’n nie en God het ons in elk geval vergewe.

“Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?” (Matt 27:22)

Dit was Pilatus se vraag aan die skare by Jesus se verhoor. Hulle antwoord: “Kruisig Hom!” Hul geskreeu ‘n paar dae gelede was heel anders: “Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” (Matt 21:9). Dit is verbasend hoe onvervulde verwagtinge en die groepsdruk publieke opinie kan verander. In die eerste-eeuse Jerusalem, het mense ‘n dwaalsiening van Jesus en Sy bediening gehad en Hom verwerp; dus, vandag, as mense die Christelike geloof aanneem met ‘n verdraaide begrip van wie Christus is, sal hulle uiteindelik van Hom wegdraai. Ons moet seker maak dat ons aanbieding van wie Jesus is, akkuraat is en wat die Christendom werklik beteken, wanneer ons ons geloof met ander deel.

“Maar julle, het Hy gevra, “wie sê julle, is Ek?” (Matt 16:15)

Hierdie vraag van Jesus is een van die belangrikste wat ‘n persoon ooit sal antwoord. Vir die meeste mense is Hy ‘n goeie Leermeester. Vir sommige is Hy ‘n profeet en vir ander is Hy ‘n legende. Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” en dit is die korrekte antwoord (Matt 16:16).

“Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?” (Markus 8:36)

Indien die koste jou siel is, dan is wat as wins verkry word – selfs die hele wêreld – goed vir niks. Dis hartseer dat die oorgrote meerderheid mense streef na “niks” – die dinge van hierdie wêreld. Om jou siel te verloor, het twee betekenisse. Eerstens, die waarskynlikste is dat jou siel vir die ewigheid verlore gaan, deur ewige dood in die hel te beleef. Dis egter so, om die hele wêreld te wil verkry, veroorsaak ook om jou siel op ‘n ander manier te verloor, gedurende hierdie lewe. Jy sal nooit die lewe van oorvloed ervaar wat daar vir jou is deur Jesus Christus nie (Joh 10:10). Salomo het plesier nagejaag en homself niks ontsê nie, tog het hy gesê, “het ek gesien dat alles niks was, ‘n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks” (Prediker 2:11).

“Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” (Lukas 18:18) en “wat moet ek doen om gered te word?” (Hand 16:30)

Dit is interessant om die baie verskillende antwoorde van Jesus aan Paulus te lees, oor wat hoofsaaklik dieselfde vraag was. Jesus het die selfvoldaanhouding van die ryk jongman geken, en hom gesê om die gebooie te gehoorsaam. Die man het slegs “gedink” dat hy regverdig was; Jesus het geweet dat materialisme en gulsigheid/hebsug die man weerhou het om waarlik verlossing te soek. Die man moes eerstens verstaan dat hy ‘n sondaar was, en ‘n Verlosser nodig gehad het. Paulus het besef dat die Filippynse tronkbewaarder gereed was om gered te word en vir hom gesê, “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” Die tronkbewaarder het geglo en sy familie het hom gevolg, deur ook Jesus as Verlosser te aanvaar. Deur dus te besef waar iemand in sy eie geestelike reis is, kan ‘n impak maak hoe om so iemand se vrae te beantwoord en die beginpunt te verander van ons aanbieding van die evangelie.

“Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” (Joh 3:4) Hierdie vraag het van Nikodemus af gekom toe Jesus hom vertel het dat hy weer gebore moes word. Mense in vandag se lewe sukkel steeds om te verstaan wat dit beteken. Feitlik iedereen verstaan dit as ‘n tweede fisiese geboorte. Tog faal die meeste om die volle implikasie hiervan te begryp. Om ‘n Christen te raak – weer gebore te word – is die begin van ‘n totale nuwe lewe. Dit is om te beweeg van ‘n toestand van geestelike dood na ‘n toestand van geestelike lewe (Joh 5:24). Dit is om ‘n nuwe skepsel te word (2 Kor 5:17). Om wedergebore te raak, is nie om iets “by te voeg” tot jou bestaande lewe nie; dit is om jou bestaande lewe radikaal te “vervang,”

“Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?” (Rom 6:1)

Ons word uit genade gered (Ef 6:8). As ons ons geloof in Jesus Christus plaas, word al ons sondes vergewe en die ewige lewe in die hemel is ons waarborg. Verlossing is God se genadegawe. Beteken dit dan dat ‘n Christen kan leef soos hy/sy wil en steeds gered wees? Ja, maar ‘n ware Christen sál nie leef “soos hy/sy wil nie.” ‘n Christen het ‘n nuwe Meester en dien nie homself meer nie. Genade is nie ‘n lisensie om te sondig nie. Moedswillige, onbelyde sondes in iemand se lewe maak ‘n bespotting van genade en plaas twyfel oor daardie persoon se redding (1 Joh 3:6). Ja, daar is tye van mislukking en rebellie in ‘n Christen se lewe. En, nee, sondelose volmaaktheid is nie moontlik in hierdie wêreld nie. Maar die Christen moet dankbaarheid uitleef teenoor God se genade en nie uit God se genade munt slaan nie. Die balans word gevind in Jesus se woorde aan die vrou wat op egbreuk betrap was. Na Hy geweier het om haar te veroordeel, het Hy gesê, “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Joh 8:11).

“God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?” (Rom 8:31)

Kinders van God sal teenstand in hierdie wêreld ondervind (Joh 15:18). Die duiwel en sy demone staan ons teë. Baie mense in hierdie wêreld is teen ons gekant. Die filosofieë, waardes en prioriteite van die wêreld is teen ons. In terme van ons aardse lewens, kan ons oorweldig word, verslaan word en selfs doodgemaak word. Maar in terme van die ewigheid, het God belowe dat ons sal oorwin (1 Joh 5:4). Wat is die ergste ding wat moontlik met ons in hierdie wêreld kan gebeur? Die dood. Vir hulle wat uit God gebore is, wat gebeur na die dood? Die ewigheid is die mees glorieryke plek denkbaar.

Daar is baie ander groot vrae in die Bybel. Vrae van soekendes, vrae van spotters, vrae van moedelose gelowiges en vrae van God self. Moenie bang wees om vrae te vra nie, maar wees gereed om God se antwoord te aanvaar, wanneer dit kom.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die gewildste/belangrikste vrae in die Bybel?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries