settings icon
share icon
Vraag

Wat beteken dit om Christus werklik te volg?

Antwoord


In die Evangelies (Matteus, Markus, Lukas en Johannes) gee Jesus die opdrag “Volg My” en dit verskyn herhaaldelik (bv. Matt 8:22, 9:9, Mark 2:14; Luk 5:27; Joh 1:43). In baie gevalle het Jesus die twaalf manne geroep, wat Sy dissipels sou word (Matt 10:3-4). Ander tye het Hy met enigeen gepraat, wat dit wat Hy aangebied het, wou aanvaar (Joh 3:16; Mark 8:34).

In Matt 10:34-39 het Jesus dit duidelik gestel wat dit beteken om Hom te volg. Hy het gesê,”Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ‘n man en sy pa en tussen ‘n dogter en haar ma, tussen ‘n skoondogter en haar skoonma; ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees. Hy wat sy pa of ma liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat nie sy kruis dra en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Jesus se woorde van ‘n “swaard” bring en familielede teen mekaar draai, kan effens grof klink, ná woorde soos, “sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie” (Joh 3:16). Jesus het egter nooit die waarheid versag nie en die waarheid is dat om Hom te volg, na moeilike keuses lei. Om my rug te draai, kan soms baie aantreklik klink. Toe Jesus se lering oorgegaan het van die Bergrede (Matt 5:3-11) na die komende kruis, het baie volgelinge van Hom weggedraai (Joh 6:66). Selfs die dissipels het besluit dat, om ‘n volgeling van Jesus te wees, die nag van Sy arrestasie te moeilik sou wees. Hulle almal het Hom alleen gelaat (Matt 26:56; Mark 14:50). In daardie nag het dit vir ‘n volgeling van Christus arrestasie en teregstelling beteken. Eerder om sy eie lewe in gevaar te stel, het Petrus drie keer ontken dat hy Jesus geken het (Matt 26:69-75).

Om werklik vir Jesus te volg, beteken dat Hy alles vir ons geword het. Almal volg iets: vriende, populêre kultuur, familie, selfsugtige begeertes of God. Ons kan slegs een ding op ‘n slag volg (Matt 6:24). God sê dat ons geen ander gode voor Hom moet dien nie (Eks 20:3; Deut 5:7; Mark 12:30). Om werklik vir Jesus te volg, beteken om niks anders te volg nie. Jesus het in Luk 9:23 gesê, “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en My volg.” Daar is nie so iets soos ‘n “halfweg dissipel” nie. Soos die dissipels gewys het, kan niemand Christus volg uit eie krag nie. Die Fariseërs was goeie voorbeelde om van uit hul eie krag te probeer om God te gehoorsaam. Hul eie poging het slegs gelei tot arrogansie en vernietiging van die hele doel van God se Wet (Luk 11:39; Matt 23:24).

Jesus het aan Sy dissipels die geheim gegee om Hom in geloof te volg, maar hulle het dit nie op daardie tydstip verstaan nie. Hy het gesê, “Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie” (Joh 6:63). En “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie” (vers 65). Die dissipels het vir drie jaar saam met Jesus gestap, geleer, waargeneem en deel uitgemaak van Sy wonderwerke. Tog kon hulle Hom nie deur hul geloof, in eie krag volg nie. Hulle het ‘n Helper nodig gehad.

Jesus het baiekeer belowe dat, as Hy eers na Sy Vader opgevaar het, Hy ‘n “Helper” vir hulle sou stuur – die Heilige Gees (Joh 14:26; 15:26). Hy het ook gesê dat dit goed was vir hulle dat Hy weggaan, sodat die Heilige Gees kon kom (Joh 16:7). Die Heilige Gees woon in die hart van elke gelowige (Gal 2:20; Rom 8:16; Heb 13:5; Matt 28:20). Jesus het Sy volgelinge gewaarsku dat hulle nie oor Hom moes begin getuig nie, “totdat julle met krag van bo toegerus is” (Luk 24:49; Hand 1:4). Toe die Heilige Gees op daardie eerste gelowiges gekom het tydens Pinksterfees, het hulle skielik al die krag gehad wat nodig was om Christus te volg, selfs tot die dood toe, indien nodig sou wees (Hand 2:1-4; 4:31; 7:59-60).

Om Jesus te volg, beteken om te strewe om soos Hy te wees. Hy het altyd aan Sy vader gehoorsaam gewees en dit is dus wat ons poog om te doen (Joh 8:29; 15:10). Om werklik vir Christus te volg, beteken om Hom die Hoof te maak. Dit is wat dit beteken om vir Jesus Here van ons lewens te maak (Rom 10:9; 1 Kor 12:3; 2 Kor 4:5) Elke besluit en droom word deur middel van Sy Woord gefiltreer, met die doel om Hom in alles te verheerlik (1 Kor 10:31). Ons word nie gered deur die dinge wat ons vir Christus doen nie (Ef 2:8-9), maar deur dit wat Hy vir ons gedoen het. As gevolg van Sy genade, begeer ons om Hom in alles bly te maak. Al hierdie dinge word bereik as ons die Heilige Gees toelaat om volkome beheer oor elke area van ons lewens te hê (Ef 5:18). Hy verduidelik die Skrif (1 Kor 2:14), bemagtig ons met geestelike gawes (1 Kor 12:4-11), vertroos ons (Joh 14:16) en lei (herinner en leer) ons (Joh 14:26). Om Christus te volg, beteken om die waarhede wat ons uit Sy Woord leer, toe te pas en te lewe asof Jesus langs ons in persoon geloop het.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit om Christus werklik te volg?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries