settings icon
share icon
Vraag

Wat as ek nie gered voel nie?

Antwoord


Dit is 'n baie algemene vraag onder Christene. Baie mense twyfel aan hul redding, omdat hulle niks voel nie of as gevolg van hul gevoelens. Die Bybel het baie te sê oor redding, maar niks oor die onderwerp om "gered te voel" nie. Verlossing is 'n proses waardeur die sondaar vrygemaak word van die "vloek", dit is van God se straf oor sonde (Rom 5:9; 1 Tess 5:9). Dit was spesifiek Jesus se dood aan die kruis en daaropvolgende opstanding uit die dood, wat ons redding bewerk het (Rom 5:10; Ef 1:7).

Ons aandeel in die verlossingsproses is dat ons gered word deur geloof. Eerstens moet ons die Evangelie hoor – die goeie nuus van Jesus se sterwe en opstanding (Ef 1:13). Dan moet ons glo – die Here Jesus ten volle vertrou (Rom 1:16) en Sy offerande. Ons het geen vertroue in vleeslike werke om sodoende redding te verkry nie. Hierdie geloof – wat 'n gawe van God is, is nie iets wat ons op ons eie kan bekom nie (Ef 2:8-9) – dit sluit berou in, 'n verandering van denke aangaande sonde en Christus (Hand 3:19) en om die Naam van die Here aan te roep (Rom 10:9-10, 13). Verlossing vloei voort in 'n veranderde lewe, waar ons begin leef soos 'n nuwe skepsel (2 Kor 5:17).

Ons woon in 'n gemeenskap waar gevoel die oorsprong van alles is en dis so hartseer dat dit ook oorgespoel het in die Kerk. Gevoelens is onbetroubaar. Hulle varieer soos die see se getye, wat alle soorte seegras en oorblyfsels na die kus toe uitspoel. Dan trek dit terug en spoel die grond waarop ons staan, weer in die see in. So is diegene se lewens wat deur hul emosies beheer word. Die eenvoudigste omstandigheid – 'n hoofpyn, 'n bewolkte dag, 'n ondeurdagte woord, gespreek deur 'n vriend – kan ons vertroue wegspoel "in die see wegwas" en ons in angs en onmag laat. Twyfel en ontmoediging, veral in die Christen se lewe, is 'n onafwendbare gevolg van 'n poging om ons gevoelens te interpreteer asof hulle die werklikheid was. Hulle is dit nié.

Die Christen egter wat vooraf gewaarsku is en goed bewapen is, word nie deur gevoelens geregeer nie, maar deur die waarheid wat hy ken. Hy maak nie staat op sy gevoelens om enigiets aan homself te bewys nie. Om op gevoelens staat te maak, is presies die fout wat die meeste mense in die lewe maak. Hulle is so in hulself gekeer dat hulle so in gedagte raak met hulself, gedurig besig om hul eie gevoelens te ontleed. Dit is hierdie mense wat gedurig besig is om hul verhouding met God te bevraagteken. "Is ek werklik lief vir God?" "Is Hy regtig lief vir my?" "Is ek goed genoeg?" Wat ons behoort te doen, is om op te hou om oor onsself te dink en op ons gevoelens te fokus, maar eerder ons fokus op God te rig en op die waarheid wat ons ken, vanuit Sy Woord.

Wanneer ons beheer word deur onderliggende gevoelens wat rondom onsself gesentreerd is, eerder as die objektiewe waarheid rondom God, dan lewe ons in 'n konstante toestand van mislukking. Objektiewe waarheid is rondom die groot leerstellings van die geloof en hul tersaaklikheid ten opsigte van die lewe: die soewereinteit van God, die hoëpriesterlike intersessie van Christus, die belofte van die Heilige Gees en die hoop op die ewige heerlikheid.Deur hierdie groot waarhede te verstaan en ons gedagtes rondom hulle te sentreer en hulle in ons denke in te oefen, sal dit ons in staat stel om vanuit die waarheid te redeneer, in al ons lewensbeproewings. Dan sal ons geloof sterk en lewendig wees. Om te redeneer vanuit ons gevoelens – eerder as van wat ons van God weet – is die sekere pad na neerlaag. Die Christelike lewe is een van in jouself sterf en op te staan in 'n "nuwe lewe" (Rom 6:4) en daardie nuwe lewe word gekenmerk deur gedagtes aangaande Hom wat ons verlos het, nie gedagtes aangaande die dooie vlees wat saam met Christus gekruisig is nie. Wanneer ons aanhoudend oor onsself en ons gevoelens dink, is ons hoofsaaklik begaan oor 'n dooie liggaam, vol verrotting en doodsheid.

God het belowe om ons te red as ons in geloof na Hom toe kom. Hy het nooit belowe dat ons gered sou "voel" nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat as ek nie gered voel nie?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries