settings icon
share icon
Vraag

Wie is die vier perderuiters van Openbaring?

Antwoord


Die vier perderuiters in die Apokalips word beskryf in Openbaring 6:1-8. Dit is ‘n simboliese beskrywing van verskillende gebeure wat in die eindtye sal plaasvind. Die eerste perderuiter kom voor in Openbaring 6:2,”Ek het gesien: daar was ‘n wit perd. Sy ruiter het ‘n pyl en boog gehad. ‘n Oorwinnaarskroon is aan hom gegee en hy het as oorwinnaar uitgegaan om nog verder te oorwin.” Die eerste een verwys waarskynlik na die Antichris, wat mag sal kry en almal sal oorwin wat hom teenstaan. Die Antichris is die valse nabootser van die ware Christus, wat ook op ‘n wit perd sal terugkom (Open 19:11-16).

Die tweede ruiter verskyn in Openbaring 6:4, “Daar het ‘n ander perd, ‘n vuurrooie, uitgegaan. Aan sy ruiter is opdrag gegee om die vrede van die aarde af weg te neem, sodat die mense mekaar sal uitmoor, ‘n Groot swaard is aan hom gegee.” Hierdie perderuiter verwys na vreeslike oorlogsvoering van die eindtye. Die derde perderuiter is in Openbaring 6:5-6, “Ek het gesien: daar was ‘n swart perd. Sy ruiter het ‘n skaal in sy hand gehad. Toe het ek iets soos ‘n stem by die vier lewende wesens hoor sê: Net een skeppie koring vir ‘n dagloon en net drie skeppies gars vir ‘n dagloon. Maar moenie die olyfolie en die wyn bederf nie.” Die derde ruiter verwys na ‘n groot hongersnood wat sal plaasvind, waarskynlik as gevolg van die oorloë van die tweede ruiter.

Die vierde perderuiter kom in Openbaring 6:8 voor, “Ek het gesien: daar was ‘n vaal perd. Sy ruiter se naam was Die Dood en die doderyk het agter hom aan gegaan. Aan hulle is mag oor ‘n kwart van die aarde gegee om mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde.” Hierdie vierde ruiter is ‘n simbool van dood en verwoesting. Dit wil voorkom of dit ‘n kombinasie van die vorige ruiters is. Die vierde een sal verdere oorlogvoering en erge hongersnode saam met aaklige plae en siektes bring. Wat so verstommend of liewer vreesaanjaend is, is die feit dat die vier perderuiters van Openbaring net voorlopers van selfs erger oordeel is, wat later gedurende die verdrukking kom (Open 8-9 en 16).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wie is die vier perderuiters van Openbaring?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries