settings icon
share icon
Vraag

Hoe kan ek leer om op God te vertrou?

Antwoord


Ons kan nie iemand vertrou wat ons nie ken nie en dit is die geheim van leer om op God te vertrou. As iemand sê, “Vertrou my,” het ons een van twee reaksies. Ons kan sê, “Ja, ek sal jou vertrou,” of jy kan sê, “Hoekom sal ek?” In God se geval is dit so, dat as ons Hom van nature vertrou, volg dit outomaties, want ons verstaan dan hoekom ons dit moet doen.

Die hoofrede hoekom ons God moet vertrou, is die feit dat Hy ons vertroue werd is. Anders as mense, vertel Hy nooit leuens nie en Hy faal nooit in Sy beloftes nie. “God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?” (Numeri 23:19; Ps 89:34). Anders as mense, het Hy die mag om te laat gebeur wat Hy beplan. Jes 14:24 sê, “Die Here die Almagtige het ‘n eed afgelê: Soos Ek My voorgeneem het, so sal dit wees.” Verder is Sy planne volmaak, heilig en regverdig en Hy laat werk alles ten goede mee vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is (Rom 8:28). As ons moeite doen om God deur middel van Sy Woord te leer ken, sal ons sien dat Hy ons vertroue waardig is en sal ons vertroue in Hom daagliks groei. Om Hom te ken, is om Hom te vertrou.

Ons kan leer om God te vertrou, soos ons sien hoe Hy Homself as vertrouenswaardig in ons lewens bewys het, maar ook in andere se lewens. In 1 Kon 8:56 lees ons, “Geloof sy die Here wat aan Sy volk Israel ‘n vaste woonplek gegee het soos Hy beloof het. Nie een van die goeie beloftes wat Hy deur Sy dienaar Moses gemaak het, het onvervul gebly nie.” Die opgawe van God se beloftes is daar in Sy Woord vir almal om te sien en so ook die vervulling daarvan. Historiese dokumente verifieer daardie gebeure en vertel van God se getrouheid aan Sy mense. Elke Christen kan persoonlike getuienis gee van God se getrouheid soos ons Sy werk in ons lewens sien, met die vervulling van Sy beloftes om ons siele te red en ons te gebruik om Sy planne uit te voer (Ef 2:8-10), asook om ons te vertroos met die vrede wat alle verstand te bowe gaan, terwyl ons die wedloop hardloop wat Hy vir ons uitlê (Fil 4:6-7; Heb 12:1). Hoe meer ons Sy genade, getrouheid en goedheid beleef, hoe meer vertou ons op Hom (Ps 100:5; Jes 25:1).

‘n Derde rede om op God te vertrou, is dat ons nie werklik ‘n sinvolle alternatief het nie. Moet ons op onsself vertrou of op ander wat sondig, onvoorspelbaar en onbetroubaar is, beperkte wysheid het en wat dikwels swak besluite neem en keuses op ‘n emosionele wyse maak? Of vertrou ons op die alwyse, alwetende, almagtige, genadige, barmhartige, liefdevolle God wat goeie bedoelings vir ons het? Die keuse behoort voor die hand liggend te wees, maar ons faal God, omdat ons Hom nie ken nie. Soos alreeds genoem, kan ons nie op iemand vertrou wat hoofsaaklik ‘n vreemdeling vir ons is nie, maar dit is maklik om te verhelp. God het dit nie moeilik gemaak om Homself te vind of te ken nie. Al wat ons aangaande God moet weet, het Hy uit genade vir ons, Sy mense, in die Bybel - Sy heilige Woord, beskikbaar gestel. Om God te ken, is om op Hom te vertrou.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe kan ek leer om op God te vertrou?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries