settings icon
share icon
Vraag

Hoekom is dit so moeilik om die Bybel te verstaan?

Antwoord


Elkeen, volgens verskillende grade, sukkel om die Bybel te probeer verstaan. Selfs na byna 2,000 jare van kerkgeskiedenis is daar sommige Bybelverse en –gedeeltes wat selfs die briljantste Bybelgeleerdes laat spekuleer oor die korrekte betekenis. Hoekom is dit so moeilik om die Bybel te verstaan? Voordat ons poog om te antwoord, moet daar gesê word dat God nie vaag gekommunikeer het nie. Die boodskap van Godswoord is volkome duidelik. Die rede hoekom die Bybel soms moeilik verstaanbaar is, is omdat ons gevalle wesens is – sonde plaas 'n sluier oor ons begrip en lei ons om die Bybel te verdraai soos dit ons pas.

Daar is verskeie faktore wat kan veroorsaak dat die Bybel moeilik verstaanbaar is. Eerstens is daar 'n verskil in tyd en kultuur. Die Bybel is tussen 3,400 en 1,900 jaar voor ons tyd vandag geskryf. Die kultuur waarin die Bybel geskryf was, het baie verskil van die meeste kulture wat vandag bestaan. Die optrede van nomadiese herders in 1800 v C in die Midde-Ooste maak dikwels nie sin vir die rekenaarprogrammeerders in die 21ste-eeuse Amerika nie. Dit is uiters belangrik dat, as ons probeer om die Bybel te verstaan, ons die kultuur waarin die Bybel geskryf was, moet erken.

Tweedens bevat die Bybel verskillende tipes literatuur, insluitende geskiedenis, wet, digkuns, liedere, wysheidsliteratuur, profesie, persoonlike briewe en apokaliptiese literatuur. Historiese literatuur moet anders geïnterpreteer word as wysheidsliteratuur. Digkuns kan nie op dieselfde wyse verstaan word as apokaliptiese geskrifte nie. 'n Persoonlike brief wat vir ons vandag betekenis inhou, mag 'n verskillende toepassing gehad het vir die oorspronklike gehoor. Die herkenning van verskillende genres in die Bybel is belangrik om verwarring en misverstand te voorkom.

Derdens is ons almal sondaars; ons maak almal foute (Pred 7:20; Rom 3:23; 1 Joh 1:8). Soveel as wat ons poog om nie ons vooraf uitgedinkte vooroordele in die Bybel in te lees nie, is dit onvermydelik om dit nie van tyd tot tyd te doen nie. Ongelukkig maak ons almal soms foute, as gevolg van die vooraf veronderstelling van die betekenis. Wanneer ons die Bybel bestudeer, moet ons vir God vra om ons eie veronderstellings weg te neem en ons te help om Sy Woord apart daarvan te interpreteer. Dit is dikwels moeilik om te doen, aangesien dit nederigheid van ons vra en ook 'n gewilligheid om foute te erken.

Daar is sonder twyfel drie stappe nodig om die Bybel behoorlik te verstaan. Volledige boeke is geskryf oor Bybelse uitlegkunde, dit is wetenskap met betrekking tot Bybelse interpretasie. Tog is hierdie stappe 'n uitstekende begin om die Bybel te verstaan. Ons moet die kulturele verskille tussen onsself en die mense in die Bybelse tye erken. Ons moet ook die verskillende genres van die literatuur in gedagte hou. Ons moet poog om toe te laat dat die Bybel vir homself praat en nie toelaat dat vooropgestelde aannames ons interpretasie bederf nie.

Om die Bybel te verstaan, kan soms 'n moeilike taak wees, maar met God se hulp is dit moontlik. Onthou, as jy 'n gelowige in Jesus Christus is, woon God se Gees in jou (Rom 8:9). Dieselfde God wat die Skrif "geïnspireer" het (2 Tim 3:16-17) is dieselfde God wat jou verstand sal open om die waarheid te ontdek , asook Sy Woord te verstaan en op Hom te vertrou. Dit is nie te sê dat God dit altyd maklik sal maak nie. God begeer dat ons Sy Woord deursoek en ten volle ontdek watter skatte daarin voorkom. Die verstaan van die Bybel is nie maklik nie, maar dit bring by uitstek baie beloning.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoekom is dit so moeilik om die Bybel te verstaan?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries