settings icon
share icon
Vraag

Wat behels die verskillende teorieë in verband met die versoening?

Antwoord


Regdeur die kerk se geskiedenis is daar verskeie sieninge oor die versoening, sommige waar en ander onwaar, deur verskillende individue of denominasies geopper. Een van die redes is dat beide die Ou en Nuwe Testamente baie waarhede oor Christus se versoening openbaar en dit maak dit moeilik, byna onmoontlik om enige enkele “teorie” te vind wat die rykheid van die versoening ten volle saamvat of verklaar. Wat ons ontdek deur die Skrif te bestudeer, is ‘n ryke beeld met veelvuldige fasette. Dit is omdat die Bybel baie waarhede aangaande die verlossing wat Christus bewerk het, met mekaar integreer. ‘n Ander bydraende faktor is dat die versoening vanuit die belewenis en perspektief van God se mense onder die Ou Verbond se offerstelsel verstaan moet word.

Die doel en wat die versoening van Christus meegebring het, is so ‘n ryk onderwerp dat baie daaroor geskryf is. Hierdie artikel gee net kortliks ‘n oorsig in verband daarmee. Ons moet onthou dat enige siening wat nie die sondigheid van die mens erken of die plaasvervangende aard van die versoening nie, is op sy beste gebrekkig en ‘n erge dwaallering.

Losprys aan Satan:
Hierdie siening dui daarop dat Christus ‘n losprys aan Satan betaal het om die mens se vryheid te koop en van Satan se slawerny te bevry. Dit is gebaseer op die geloof dat die mens se geestelike toestand in gevangenskap met Satan is en dat die betekenis van Christus se dood daarop dui om God se oorwinning oor Satan te verseker. Hierdie teorie het bitter min Skriftuurlike ondersteuning, met min aanhangers dwarsdeur die kerkgeskiedenis. Dit is onbybels, aangesien dit die Satan sien as die een wat ‘n betaling vir sonde gesoek het, eerder as God. Aldus ignoreer dit totaal God se opdragte rakende straf, soos dit regdeur die Skrif voorkom. Dit het ook ‘n hoër siening van Satan en ook van sy mag, as wat hy enigsins besit. Daar is geen ondersteuning vanaf die Skrif se kant dat sondaars enigiets aan Satan verskuldig is nie, maar regdeur die Skrif sien ons dat God die Een is wat ‘n betaling vir sonde wou hê.

Rekapitulerende teorie:
Hierdie teorie verklaar dat die versoening van Christus die rigting van die mensdom omgeswaai het, vanaf ongehoorsaamheid na gehoorsaamheid. Dit glo dat Christus se lewe al die stadia van die mens se lewe saamgevat het en daardeur die ongehoorsaamheid wat by Adam ontstaan het, omgeswaai het. Dit kan nie in die Skrif bewys word nie.

Dramatiese Teorie:
Hierdie siening dui daarop dat die versoening van Christus die oorwinning verseker het in ‘n goddelike konflik tussen goed en kwaad en so die mens se losmaking van gevangenskap van Satan verseker het. Die betekenis van Christus se dood was om God se oorwinning oor Satan te verseker en om ‘n weg te berei om die wêreld te verlos uit die kloue van die bose.

Mistieke Teorie:
Die mistieke teorie beskou die versoening van Christus as oorwinning oor Sy eie sondige natuur, deur die krag van die Heilige Gees. Daar word geglo dat kennis hieroor op mistieke wyse die mens beïnvloed en sy “godbewustheid” aanwakker. Hul glo ook dat die mens se geestelike toestand nie die gevolg van sonde is nie, maar doodeenvoudig ‘n tekort aan “godbewustheid”. Dit is duidelik onbybels, aangesien ‘n mens dan moet glo dat Christus ‘n sondige natuur gehad het, terwyl die Skrif duidelik daaroor is dat Jesus die volmaakte God-mens was, sonder sonde in elke aspek van Sy natuur (Hebr 4:15).

Morele-beïnvloedingsteorie:
Dit is die geloof dat die versoening van Christus ‘n demonstrasie van God se liefde is, wat veroorsaak dat die mens se hart sag word en belydenis doen. Die mens is geestelik siek en benodig hulp en dat hy beweeg word om God se vergifnis te aanvaar, deur God se liefde vir die mens te sien. Die doel en betekenis van Christus se dood, was om God se liefde vir die mens te demonstreer. Dit is waar dat Christus se versoening die uiterste voorbeeld van God se liefde is, maar hierdie siening is onbybels, omdat dit die ware geestelike toestand van die mens ontken – dood as gevolg van julle oortredings en sondes (Ef 2:1) – en ontken dat God werklik ‘n boetedoening vir sonde vereis. Hierdie siening laat die mens sonder ‘n ware offer vir die betaling van sonde.

Voorbeeldteorie:
Die siening hier is dat die versoening van Christus eenvoudig maar ‘n voorbeeld van geloof en gehoorsaamheid is, om die mens te inspireer om aan God gehoorsaam te wees. Hul glo dat die mens geestelik lewend is en dat Christus se lewe en versoening maar net ‘n voorbeeld van ware geloof en gehoorsaamheid was, om sodoende die mens op hierdie wyse te inspireer. Hierdie en die morele beïnvloedingsteorie is dieselfde en beide ontken dat God se straf werklik betaling vir sonde vereis en dat Christus se dood aan die kruis daardie betaling was. Die hoofverskil hier is dat eersgenoemde teorie meen dat Christus se dood ons leer hoe lief God vir ons is en die voorbeeldteorie wys daarop dat Christus se dood ons leer hoe om te lewe. Dit is natuurlik waar dat Christus ‘n voorbeeld vir ons is, om na te volg, selfs in Sy dood, maar die voorbeeldteorie misluk daarin om die mens se ware geestelike toestand te erken en dat God se straf betaling vereis vir die mens se sonde, wat hy (mens) nie by magte is om voor te betaal nie.

Kommersiële Teorie:
Hierdie teorie sien die versoening van Christus in die lig van oneindige eer wat aan God gebring word. Dit loop uit op God wat vir Christus as vergoeding gegee het, wat Hy nie nodig gehad het nie en Christus het daardie vergoeding na die mens toe aangegee. Die mens se geestelike toestand is dus een van ontering van God en so Christus se dood, wat oneindige eer aan God bring en aangewend kan word as redding van sondaars. Hierdie teorie, soos baie ander, ontken die ware geestelike toestand van onwedergebore sondaars en hul behoefte aan ‘n totale nuwe natuur, verkrygbaar net in Christus (2 Kor 5:17).

Owerheidsteorie:
Hier word geglo dat God se hoë agting vir Sy wet en Sy houding teenoor sonde gedemonstreer word, deur die versoening van Christus. Dit is deur Christus se dood dat God rede het om sondes te vergewe van diegene wat bely en aanvaar dat Christus se dood plaasvervangend is. Hul glo dat die mens se geestelike toestand soos een is, wat God se morele wet geskend het en dat die betekenis van Christus se dood soos ‘n plaasvervanger vir straf oor die sonde was. Aangesien Christus die betaling vir sonde gedoen het, is dit moontlik vir God om volgens wet diegene te vergeef wat Christus as hul plaasvervanger aanvaar. Hierdie siening het die tekort dat dit nie leer dat Christus werklik die skuld vir die wesenlike sondes van enige mense betaal het nie, maar in plaas daarvan het Sy lyding maar net aan die mensdom gewys dat God se wette gebreek is en dat een of ander boete daarvoor betaal is.

Straf-plaasvervangende Teorie:
Hierdie teorie sien die versoening van Christus as ‘n plaasvervangende offer, wat die opdragte van God se straf teenoor sonde bevredig. Met Sy offer, het Christus die boetedoening van die mens se sonde betaal, vergifnis gebring, regverdigheid toegereken en die mens met God versoen. Diegene wat hierdie siening handhaaf, glo dat elke aspek van die mens – sy verstand, wil en emosies – deur sonde bederf is en dat die mens heeltemal ontaard en geestelik dood is. Hierdie teorie glo dat Christus se dood die prys vir sonde betaal het en dat die mens deur geloof Christus se betaling as plaasvervanger van sonde kan aanvaar. Hierdie siening is baie akkuraat en in lyn met die Skrif, rakende sonde, die natuur van die mens en die gevolge van die dood van Christus aan die kruis.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat behels die verskillende teorieë in verband met die versoening?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries