settings icon
share icon
Vraag

Watter boeke van die Bybel het verlore gegaan?

Antwoord


Daar is geen verlore boeke van die Bybel of boeke wat uit die Bybel weggeneem is nie. Daar is baie legendes en gerugte van verlore boeke, maar daar steek geen waarheid in nie. Elke boek wat God beplan en geïnspireer het om in die Bybel te wees, is in die Bybel. Daar is letterlik honderde godsdienstige boeke wat gedurende dieselfde tyd as die Bybelboeke geskryf is. Sommige van hierdie boeke bevat ware berigte van dinge wat werklik gebeur het (Makkabeërs 1, bv). Sommige bevat goeie geestelike lering (die Wysheid van Salomo, bv). Hierdie boeke is egter nie deur God geïnspireer nie. As ons enige van hierdie boeke lees, die Apokriewe as voorbeeld, behoort ons hul as feilbare geskiedkundige boeke te hanteer, nie as die geïnspireerde, onfeilbare Woord van God nie (2 Tim 3:16-17).

Die evangelie van Tomas, byvoorbeeld, was ‘n vervalsing in die derde of vierde eeu nC en daar is voorgegee dat dit deur die apostel Tomas geskryf is. Dit was nie so nie en die vroeë kerkvaders het feitlik universeel dié evangelie as kettery verwerp. Dit bevat baie valse en ketterse dinge wat Jesus sogenaamd gesê en gedoen het. Niks daarvan (of baie min daarvan) is waar. Die sendbrief van Barnabas is nie deur die Bybelse Barnabas geskryf nie, maar deur ‘n bedrieër. Dieselfde kan gesê word aangaande die evangelie van Filippus, die Apokalips (openbaring) van Petrus, ens.

Daar is een God. Die Bybel het een Skepper. Dit is een boek. Dit het een genadeplan, opgeteken van die begin af, deur die doodstraf, tot voleindiging. Van uitverkiesing tot verheerliking, die Bybel is die storie van God wat Sy uitverkore mense tot Sy lof en heerlikheid vrygekoop het. Soos God se verlossingsdoel en -plan in die Skrif ontvou, beklemtoon die herhaalde temas gedurig die karakter van God, die straf oor sonde en ongehoorsaamheid, die seën op geloof en gehoorsaamheid, die Here Verlosser en offerande vir sonde en die koninkryk wat kom en die heerlikheid. Dit is God se bedoeling dat ons hierdie vyf temas ken en verstaan, aangesien ons lewens en ewige bestemming daarvan afhang. Dus is dit ondenkbaar dat God sal toelaat dat sommige van hierdie wesenlike inligting op enige manier verlore sal gaan. Die Bybel is volledig, sodat ons wat dit lees en verstaan ook “volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk” (2 Tim 3:16,17).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Watter boeke van die Bybel het verlore gegaan?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries