Vraag
Wanneer is dit reg om ‘n kerk te verlaat?
Antwoord
Die beste manier miskien om te onderskei of jy rede het om ‘n kerk te verlaat, is om na die fundamentele feite toe terug te gaan. Wat is die doel van die kerk? Die Bybel is duidelik dat die kerk die “draer en beskermer van die waarheid” is (1 Tim 3:15). Alles in die kerkstruktuur, lering, aanbidding, programme en aktiwiteite moet gesentreer wees rondom hierdie feit. Daarby moet die kerk Jesus Christus erken as die enigste hoof daarvan (Ef 1:22; 4:15; Kol 1:18) en aan Hom ondergeskik wees in alles. Dit is duidelik dat hierdie dinge slegs gedoen kan word as die kerk aan die Bybel kleef, as standaard en outoriteit. Ongelukkig pas min kerke vandag in hierdie beskrywing in.
Gelowiges wat die begeerte voel om ‘n kerk te verlaat, moet duidelik wees in hul redes. Indien die kerk nie die waarheid verkondig of die Bybel onderrig en Christus vereer nie en daar is ‘n ander kerk in die omgewing wat dit doen, dan is daar rede om te gaan. ‘n Saak kan egter uitgemaak word om te bly en te werk vir veranderinge ten goede. Ons word vermaan “om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het” (Judas 1:3). Indien iemand sterk oortuig voel om die kerk te beweeg na ‘n meer Bybel-gefundeerde kerk en’n meer Christus vererende rigting en dit kan doen op ‘n liefdevolle wyse, dan sal om daar aan te bly, die beter optrede wees.
Die Bybel gee nie reëls of ‘n prosedure hoe om ‘n kerk te verlaat nie. In die vroeë dae van die kerk sou ‘n gelowige na ‘n ander dorp moes beweeg om ‘n ander kerk te vind. In sommige plekke vandag is daar feitlik op elke straathoek ‘n kerk en ongelukkig verlaat gelowiges een kerk vir ‘n ander, in plaas van om die probleem wat hulle in die gesig staar, aan te spreek. Vergifnis, liefde en eenheid moet gelowiges se karakter wees (Joh 13:34-35; Kol 3:13; Joh 17:21-23), nie bitterheid en verdeeldheid nie (Ef 4:31-32).
Sou ‘n gelowige gelei voel om ‘n kerk te verlaat, is dit uiters belangrik dat hy/sy dit op so ‘n wyse doen dat dit nie onnodige verdeeldheid of verwarring bring nie (Spreuke 6:19; 1 Kor 1:10). As daar ‘n leemte aan bybelse lering is, dan is die pad oop en moet ‘n nuwe kerk gevind word. Tog is baie mense se ontevredenheid met hul kerk as gevolg van hul eie tekort aan betrokkenheid in die bedieninge van die kerk. Dit is baie makliker om geestelik deur die kerk gevoed te wees, indien jy aktief deelneem om ander “te voed.” Die doel van die kerk is duidelik uitgelê in Ef 4:11-14. Laat hierdie gedeelte jou lei om ‘n kerk te kies en te vind.
English
Wanneer is dit reg om ‘n kerk te verlaat?