settings icon
share icon
Vraag

Ek het ______ sonde gedoen. Sal God my vergewe?

Antwoord


Voeg enige sondes wat jy gedoen het in die leë spasie in _______. Ja, God kan en wil enige sonde vergewe. Die versoeningsleer verduidelik verlossing en vergewing van sonde. God het Christus se regverdigheid oorgeplaas op hulle wat nederig om vergifnis vra vir sonde (Jes 53:5-6; 2 Kor 5:21). Hy het die volle prys vir ons sondes betaal en gelowiges word volkome vergewe vir elke sonde wat hulle doen – verlede, hede en toekoms. Daar is ook daaglikse vergifnis soos ons, ons sondes bely en agterweë laat vir ons heiligmaking. Sou ons enige sonde vergelyk met die moord op Jesus, is dit nie vergelykbaar nie, tog het Jesus gesê, “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:34).

Die konsepte van verlossing en vergifnis word onlosmaaklik verbind. Gelukkig is God se genade genoeg vir enige en alle sonde, watter sonde jy ookal invul in die oop spasie. Om vergifnis te ontvang, hang van die individu af. Dit is die eerste kwessie wat jy moet aanspreek: Wil jy die verlossing (vergifnis van sonde) wat Christus jou aanbied, ontvang? Indien die antwoord “ja” is, dan is jy ten volle vergewe van al jou sondeskuld (Hand 13:38-39). Hierdie vergifnis kom deur geloof in Jesus en God se genade alleenlik, nie deur werke of goeie dade nie (Rom 3:20,22). Verlossing begin deur nederig te erken dat ons nooit goed genoeg sal wees om op ons eie meriete in die hemel te kom nie en dat ons daarvoor vergifnis benodig. Om Jesus Christus aan te neem, beteken dat Sy dood en opstanding die straf betaal het vir alle sonde wat ooit gepleeg is en dat dit voldoende is om alle sonde uit te wis (2 Kor 12:9).

As jy dus vir Jesus Christus as jou Verlosser aanvaar het, het God alreeds al jou sondes vergewe. Indien jy dit nog nie gedoen het nie, bely jou sondes voor God en Hy sal jou skoon was en jou verhouding met Hom herstel (1 Joh 1:8-9). Selfs met vergifnis mag jy nog steeds skuldgevoelens ervaar. Om skuldig te voel oor sonde, is eintlik ‘n natuurlike bewusmaking van ons gewete en dit is daar, om ons te herinner om nie sondige patrone te herhaal nie. Om te verstaan dat Jesus volkome by magte is om enige sonde, hoe groot ookal, te vergewe, is die hoop van ons verlossing en redding. Om vergifnis te verstaan, is die genesing vir skuldgevoelens.

Om te weet dat vergifnis regtig ‘n kosbare, genadegawe uit God se hand is, ‘n God wat ons liefhet, laat ons toe om te sien hoe wonderlik Hy werklik is. Wanneer ons, ons sonde berouvol voor Hom bring en besef hoe ellendig en onwaardig ons is en hoe dringend ons vergifnis benodig, word dit duidelik dat God liefdevol, barmhartig en ons aanbidding waardig is. Ons sondige trots wat vergifnis weerstaan, is die probleem wat tussen ons en ‘n verhouding met ‘n deernisvolle Verlosser staan. Hulle wat egter vra om vergifnis, kan glo dat Jesus voldoende en verlangend is om te vergewe en hulle van hul sonde te red. Hulle sal uiteindelik in Sy poorte ingaan met lofsange (Ps 100:4).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Ek het ______ sonde gedoen. Sal God my vergewe?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries