settings icon
share icon
Vraag

Sal God aanhou om te vergewe, indien jy dieselfde sonde oor en oor weer doen?

Antwoord


Om hierdie vraag ten beste te beantwoord, moet ons gaan kyk na twee kragtige Skrifgedeeltes. Die eerste word gevind in Psalms: "So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af" (Ps 103:12). Een van die mees effektiewe streke wat Satan op Christene uithaal, is om ons te oortuig dat ons sondes nie werklik vergewe is nie, ongeag die belofte van God se Woord. Indien ons waarlik vir Jesus as Verlosser deur geloof aangeneem het en steeds daardie ongemaklike gevoel het en wonder of daar ware vergifnis is of nie, kom dit heel moontlik van demoniese invloede. Duiwels haat dit as mense vrygemaak is van hul vangnet en hulle probeer steeds om saad van twyfel in hul denke te saai, aangaande die werklikheid van hul redding. In sy eindelose arsenaal van skelmstreke, is een van Satan se grootste werktuie om ons aanhoudend te herinner aan ons oortredings van die verlede. Hy gebruik daardie om te bewys dat God ons onmoontlik kan vergewe of nuutmaak. Die duiwel se aanvalle maak dit 'n ware uitdaging vir ons om eenvoudig in God se beloftes te rus en Sy liefde te vertrou.

Hierdie Psalm vertel ons ook dat God nie slegs ons sondes vergewe nie, maar dit heeltemal uit Sy teenwoordigheid verwyder. Dit is 'n diepgaande waarheid! Dit is 'n moeilike konsep vir die mensdom om te begryp en dus is dit vir ons so maklik om te bekommer en te wonder oor vergifnis, in plaas daarvan om dit te aanvaar. Die sleutel lê daarin om net eenvoudig ons twyfel op te gee, asook ons skuldgevoelens en in Sy beloftes van vergifnis te rus.

'n Ander gedeelte is 1 Joh 1:9, "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid." Wat 'n ongelooflike belofte! God vergewe Sy kinders as hulle sondig en net na Hom toe kom in berou en vra om vergewe te word. God se genade is so groot dat dit die sondaar van sy sonde kan reinig, sodat hy 'n kind van God kan word. Selfs as hy struikel, kan ons steeds vergewe word.

In Matt 18:21-22 lees ons, "Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: 'Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?' Jesus antwoord hom: 'Ek sê vir jou, nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer.'" Petrus het moontlik gedink dat hy ruimhartig was. Eerder om 'n persoon wat sonde teenoor hom gepleeg het met gelyke munt terug te betaal, het Petrus voorgestel om die broeder 'n kans te gee – tot soveel as sewe keer. Maar die vergifnis en genade sal teen die agste keer opraak. Christus het egter Petrus se reëls aangaande genade uitgedaag, deur te sê dat vergifnis oneindig en onbepaald is vir hulle wat dit met 'n opregte hart soek. Dit is slegs moontlik as gevolg van die oneindige genade van God deur die storting van Christus se bloed aan die kruis. As gevolg van Christus se vergewende krag kan ons altyd skoongemaak word nadat ons gesondig het, indien ons in nederigheid by God Sy vergifnis soek.

Terselfdertyd is dit so dat dit nie Bybels is dat 'n persoon uit gewoonte kan sondig en as 'n leefstyl daarmee kan voortgaan én 'n gelowige wees nie (1 Joh 3:8-9). Dit is waarom Paulus ons vermaan: "Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie" (2 Kor 13:5). As Christene struikel ons soms, maar ons leef nie 'n lewe van aanhoudende, onbelyde sonde nie. Almal van ons het swakhede en kan in sonde val, selfs al wil ons nie. Selfs die apostel Paulus het gedoen wat hy nie wou doen nie, as gevolg van die sonde wat in sy liggaam gewerk het (Rom 7:15). Soos Paulus, is die gelowige se houding om sonde te haat, dit te bely en te vra vir goddelike genade om dit te oorkom (Rom 7:24-25). Alhoewel ons nie nodig het om te struikel, as gevolg van God se oorvloedige genade nie, gebeur dit soms, want ons maak staat op ons onvoldoende krag en sterkte. As ons geloof swak raak en ons, soos Petrus, ons Here in woord of in ons lewens ontken, selfs dan is daar nog steeds 'n kans om te bely en vergewe te word van ons sonde.

'n Ander spel van Satan is om ons te laat dink dat daar geen hoop is nie, geen moontlikheid dat ons vergifnis kan ontvang, genees en vernuwe word nie. Hy sal probeer dat ons opgeslurp en vasgeval voel deur skuldgevoelens, sodat ons nie enigsins meer God se vergifnis waardig is nie. Van wanneer af was ons ooit God se genade waardig? God het ons liefgehad, vergewe en ons gekies om in Christus te wees voor die grondlegging van die wêreld (Ef 1:4-6), nie as gevolg van enigiets wat ons gedoen het nie, maar "Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys" (Ef 1:12). Ons moet altyd in gedagte hou dat daar geen plek is waarheen ons kan gaan, waar God se genade nie kan reik nie en daar is geen diepte waarheen ons kan daal, waar God nie in staat is om ons uit te trek nie. Sy genade is groter as al ons sonde. Of ons net so pas begin het om die koers byster te raak of ons alreeds besig is om te sink en in ons sonde te verdrink, kan genade steeds ontvang word.

Genade is 'n geskenk van God (Ef 2:8). As ons sondig, sal die Gees ons van sonde bewus maak, sodat 'n goddelike jammerte sal voortvloei (2 Kor 7:10-11). Hy sal nie ons siele veroordeel asof daar geen hoop is nie, aangesien daar nie langer enige veroordeling is vir diegene wat in Christus Jesus is nie (Rom 8:1). Die Gees se bewusmaking binne-in ons is 'n beweging van liefde en genade. Genade is nie 'n ekskuus teenoor sonde nie (Rom 6:1-2) en dit mag nie misbruik word nie, met ander woorde sonde moet sonde genoem word en dit kan nie behandel word asof dit skadeloos en onskuldig is nie. Gelowiges wat nie bely het nie, moet liefdevol benader word en na vrymaking gelei word en ongelowiges moet geleer word dat hulle nodig het om belydenis te doen. Tog moet ons ook klem plaas op die geneesmiddel, want ons het genade op genade ontvang (Joh 1:16). Genade is hoe ons lewe, hoe ons gered is, hoe ons geheilig is en hoe ons bewaar en verheerlik sal word. Kom ons aanvaar genade as ons sondig en bely berouvol en sodanig bring ons sonde voor God. Waarom moet ons 'n sondige lewe lei, as Christus aanbied om ons volmaak en regverdig in die oë van God te maak?

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Sal God aanhou om te vergewe, indien jy dieselfde sonde oor en oor weer doen?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries