Wat is Verbondsteologie en is dit Bybels?



Vraag: "Wat is Verbondsteologie en is dit Bybels?"

Antwoord:
Verbondsteologie is nie juis ‘n “teologie” in die sin van ‘n sistematiese stel doktrines nie, as wat dit ‘n raamwerk is om die Skrif te interpreteer. Dit is gewoonlik in kontras met ‘n ander Skrif-verklarende raamwerke, naamlik “Bedelingsteorie” of “Dispensationalism”, tans die mees populêre verklarende metode in die Amerikaanse evangelisme. Dit is vanaf die helfte van die 19de eeu so tot die 21ste eeu. Verbondsteologie bly egter die vernaamste verslag vir Protestantisme sedert die tyd van die Hervorming en hierdie sisteem is gewild by diegene van ‘n meer Hervormde of Calvinistiese oortuiging.

Waar dispensasionalisme die Skrif in ‘n reeks van sewe dispensasies sien ontvou (‘n dispensasie kan beskou word as God se spesifieke manier om met die mens en die skepping gedurende ‘n gegewe periode in verlossings-geskiedenis te handel), kyk die Verbondsteologie na die Skrif deur die raam van die verbond. Verbondsteologie omskryf twee oorhoofse verbonde: die Werksverbond (CW) en die Genadeverbond (CG). ‘n Derde verbond word soms genoem, naamlik, die Verlossingsverbond (CR), wat die ander twee voorafgaan. Ons sal hierdie verbonde beurtelings bespreek. Die belangrike ding om in gedagte te hou, is dat al die verskeie verbonde in die Skrif (bv. die verbonde van Noag, Abraham, Moses, Dawid en die Nuwe Verbond) is uitvloeisels van die Werksverbond of die Genadeverbond.

Kom ons begin deur die onderskeie verbonde in die Verbondsteologie te ondersoek, eerstens die Verlossingsverbond, wat die ander voorafgaan. Volgens die Verbondsteologie, is die CR ‘n verbond tussen drie Persone van die Drie-eenheid om ‘n verkose groep individue uit te kies, te versoen en te red tot verlossing en die ewige lewe. Soos een populêre pastor-teoloog gesê het van die Verlossingsteologie, “die Vader kies ‘n bruid vir Sy Seun”. Die CR is nie duidelik in die Skrif genoem nie, maar die Skrif praat van die ewige verlossingsplan (Ef 1;3-14; 3:11; 2 Tess 2:13; 2 Tim 1:9; Jak 2:5; 1 Pet 1:2). Jesus verwys ook dikwels na Sy taak om Sy Vader se wil uit te voer (Joh 5:3, 43; 6:38-40; 17:4-12). Dat die verlossing van die ‘uitverkorene’ God se intensie van die begin van die skepping was, kan nie betwyfel word nie; die CR formuleer net hierdie ewigheidsplan in verbondstaal.

Vanuit ‘n historiese verlossingsperspektief, is die Werksverbond die eerste verbond in die Skrif. Toe God die mens geskep het, het Hy hom in die tuin van Eden geplaas en aan hom een eenvoudige opdrag gegee: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy” (Gen 2:16-17). Ons kan die verbondstaal herken wat in hierdie opdrag te kenne gegee word. God plaas Adam in die tuin en beloof hom en sy nageslag ewige lewe, so lank as wat hy God se opdragte gehoorsaam. Dit is verbondstaal.

Sommige geleerdes sien ‘n vorm van ‘n “Suzerain-Vassal”-verbond in die Werksverbond. In hierdie tipe van verbonde, die “suzerain” (koning of heerser) offer die voorwaardes van die verbond aan die ondergeskikte (vassal). Die “suzerain” voorsien dan weer seën en beskerming vir die ondergeskikte se bydrae. In die Werksverbond beloof God (die suzerain) ewige lewe en seëninge aan die mens (die vassal, verteenwoordig deur Adam as die hoof van die menslike ras) in ruil vir die mens se gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die verbond (om nie van die boom te eet nie). Ons sien iets soortgelyks by die gee van die Ou Verbond deur Moses aan Israel. Israel het ‘n verbond met God by Sinai gemaak. God sou die Beloofde Land, ‘n herstelde ”Eden” (“n land van melk en heuning”) aan hulle gee en Sy seën en beskerming teen alle vyande, in ruil vir Israel se gehoorsaamheid aan die voorwaardes van die verbond. Die straf vir die verontagsaming van die verbond was verbanning uit die land (wat gebeur het tydens die oorwinning van die Noordelike Koninkryk in 722 vC en die Suidelike Koninkryk in 586 vC).

Toe Adam misluk het om die Werksverbond te hou, het God die derde verbond, Genadeverbond, ingestel. In die CG offer God aan sondaars (diegene wat nie die CW kon hou nie) die ewige lewe en versoening deur geloof in Jesus Christus. Ons sien die voorsiening vir die CG net na die val, toe God oor die “saad van die vrou” in Gen 3:15 profeteer. Terwyl die Werksverbond voorwaardelik is en beloftes inhou van seën vir gehoorsaamheid en straf vir ongehoorsaamheid, is die Genadeverbond onvoorwaardelik en gee vryelik op die basis van God se genade. Die CG neem die vorm aan van antieke landtoelaes, waar die koning dan grond aan die ontvanger sou gee as geskenk en daar geen skelmstreke by betrokke was nie. ‘n Mens kan redeneer dat geloof ‘n voorwaarde vir die Genadeverbond is. Daar is baie aansporings in die Bybel vir die ontvangers van God se onvoorwaardelike genade, om getrou te bly tot aan die einde . Dus in die ware sin van die word, om geloof te behou, is ‘n voorwaarde van die CG, maar die Bybel leer baie duidelik dat selfs reddende geloof ‘n genadegeskenk van God is(Ef 2:8-9).

Ons sien dat die Genadeverbond in die onderskeie onvoorwaardelike verbonde wat God met individue in die Bybel maak, manifesteer. Die verbond wat God met Abraham gemaak het (om vir hom ‘n God te wees en dat Abraham en sy nakomelinge aan Hom behoort) is ‘n verlengstuk van die CG. Die Dawidsverbond (dat ‘n afstammeling van Dawid vir altyd as koning sal regeer) is ook ‘n verlengstuk van die CG. Die Nuwe Verbond is die finale uitdrukking van die CG, toe God Sy wet op hul harte geskryf het en ons sondes volkome vergewe het. Een ding waaroor ons duidelikheid moet kry wanneer ons na hierdie OT verbonde kyk, is dat hul almal hul vervulling in Jesus Christus kry. Die Dawidskoning wat vir ewig oor God se mense sal regeer, was ook in Christus vervul en die Nuwe Verbond was vanselfsprekend in Christus vervul. Selfs in die Ou Verbond was daar tekens van die CG dat al die OT se offergawes en rituele na die verlossingswerk van Christus heengewys het, ons groot Hoëpriester (Heb 8-10). Dit is waarom Jesus in die Bergpredikasie sê dat Hy nie gekom het om die Wet te vernietig nie, maar om dit te vervul (Matt 5:17).

Ons sien ook die CG in aksie in die OT, toe God Sy mense van die straf wat hul verdien het oor hul herhaalde sondes, gespaar het. Alhoewel die aanwysings van die Mosaïese Verbond (‘n toepassing van die CW) God se straf vir Israel, as gevolg van hul ongehoorsaamheid teenoor Sy gebooie ingehou het, hanteer God Sy verbondskinders tog met geduld. Dit gaan gewoonlik gepaard met die aanhaling, “Die Here was hulle genadig en het Hom oor hulle ontferm. Hy het Hom na hulle gewend ter wille van Sy verbond met Abraham, Isak en Jakob” (2 Kon 13:23; Ps 105; Jes 29:22; 41:8); God se belofte om die Genadeverbond te vervul (wat per definisie ‘n eensydige verbond is) het dikwels sy reg oorheers om die Werksverbond af te forseer.

Dit is ‘n kort beskrywing van die Verbondsteologie en hoe dit die Skrif interpreteer, deur die lens van die verbond. ‘n Vraag wat soms opduik aangaande Verbondsteologie, is of die CG die CW vervang. Met ander woorde, is die CW uitgedien soos die Ou Verbond Heb 8:13)? Die Ou (Mosaïese) Verbond, ‘n toepassing van die CW, is nie die CW nie. Die CW gaan terug na Eden, toe God lewe vir gehoorsaamheid en dood vir ongehoorsaamheid belowe het. Die CW is verder deeglik verwerk in die Tien Gebooie, waar God weer lewe vir gehoorsaamheid en dood en straf vir ongehoorsaamheid belowe. Die Ou Verbond is meer as net die morele wet wat in die Tien Gebooie saamgevat is. Die Ou Verbond sluit die reëls en regulasies ten opsigte van die aanbidding van God in. Dit bevat ook die siviele wet wat die volk van Israel gedurende die teokrasie en monargie geregeer het. Met die koms van Jesus Christus, die beloofde Messias van die OT, raak baie aspekte van die Ou Verbond uitgedien, omdat Jesus die Ou Verbond kom vervul het (Heb 8-10). Die Ou Verbond verteenwoordig die “skaduwee”, waar Christus die “werklikheid” verteenwoordig (Kol 2:17). Christus het gekom om die Wet te vervul (Matt 5:17). Soos Paulus sê, “Hy is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop ‘Amen’ sê” (2 Kor 1:19,20).

Dit herroep egter nie die Werksverbond asof gekodifiseer in die morele wet nie. God het heiligheid van Sy volk in die OT verwag (Lev 11:44) en verwag dit nog steeds in die NT (1 Pet 1:16). Dus is dit steeds ons verantwoordelikheid om die voorskrifte van die CW te vervul. Die goeie nuus is dat Jesus Christus, die laaste Adam en ons Verbondshoof, die opdragte van die CW volledig vervul het en dat volmaakte regverdigheid die rede is waarom God die CG teenoor die uitverkorene kan verleng. Rom 5:12-21 beskryf die situasie tussen die twee ‘federale’ hoofde van die menslike ras. Adam verteenwoordig die mens in die Tuin en het misluk om die CW te onderhou, sodoende is hy en sy nageslag in sonde en die dood gedompel. Jesus Christus het as die mens se verteenwoordiger gestaan, van Sy versoeking in die woestyn al die pad na Golgota en so het Hy die CW volkome vervul. Dit is waarom Paulus kan sê, “Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor 15:22).

Om saam te vat, Verbondsteologie beskou die Skrif as manifestasies van die CW of die CG. Die volledige verhaal van versoening kan gesien word asof God die CG van sy beginstadium (Genesis 3:15) regdeur tot by verwerkliking in Christus ontvou. Dit is daarom ‘n baie Christusgesentreerde wyse om na die Skrif te kyk, omdat dit die OT as die Christusbelofte sien en die NT as die vervulling in Christus. Sommige het die Verbondsteologie beskuldig as lering, genaamd “Vervangingsteologie” (die Kerk vervang Israel). Dit is ver weg van die waarheid af. Anders as Dispensasionalisme, sien Verbondsteologie nie ‘n groot onderskeid tussen Israel en die Kerk nie. Israel vorm God se volk in die OT en die Kerk (wat bestaan uit Jode en Heidene) vorm God se volk in die NT; beide vorm net een volk van God (Ef 2:11-20). Die Kerk vervang nie vir Israel nie; die Kerk is Israel en Israel is die Kerk (Gal 6:16). Alle mense wat dieselfde geloof as Abraham beoefen, is deel van die Verbondsvolk van God (Gal 3:25-29).

Baie meer kan nog oor die Verbondsteologie gesê word, maar die belangrike ding om te onthou, is dat Verbondsteologie ‘n interpretasie-hulpmiddel is om die Skrif te verstaan. Soos ons reeds gesien het, is dit nie die enigste nie. Verbondsteologie en Dispensasionalisme verskil baie en soms lei dit tot teenoorgestelde leringe, maar beide dra by tot die wesenlike van die Christelike geloof: Verlossing is net deur genade alleen, alleenlik deur geloof, slegs in Christus en slegs aan God alleen kom al die eer toe!


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is Verbondsteologie en is dit Bybels?