settings icon
share icon
Vraag

Hoe het die val in Eden die mensdom beïnvloed?

Antwoord


"Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood en het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het" (Rom 5:12). Die uitwerking van die val is talryk en strek wyd. Sonde het alles geaffekteer, elke aspek van ons wese. Dit het ons lewens op aarde beïnvloed en ons ewige bestemming.

Een van die onmiddellike invloede van die val, was dat die mensdom van God geskei was. In die tuin van Eden het Adam en Eva volmaakte gemeenskap en verhouding met God gehad. Toe hulle teen Hom gerebelleer het, was die verhouding verbreek. Hulle het van hul sonde bewus geraak en was skaam voor Hom. Hulle het weggekruip (Gen 3:8-10) en sedertdien kruip die mens vir God weg. Slegs deur Christus kan die verhouding herstel word, omdat ons in Hom regverdig en sonder sonde in God se oë kan wees, soos Adam en Eva was, voordat hulle gesondig het. "Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel, sodat ons deur ons eenheid met Christus deur God vrygespreek kan wees" (2 Kor 5:21).

As gevolg van die val, het sonde 'n realiteit geword en alles in die skepping was daaraan onderworpe. Al die mense sterf, al die diere gaan dood, al die plante gaan dood. Die "hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting" (Rom 8:22), in afwagting vir Christus se Wederkoms om dit te bevry van die dood se uitwerking. As gevolg van die sonde, is die dood 'n onstuitbare realiteit en niemand is immuun daarteen nie. "Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus, ons Here" (Rom 6:23). Die ergste is steeds dat ons nie slegs sterwe nie, maar indien ons sonder Christus sterf, beleef ons die ewige dood.

'n Ander gevolg van die val is dat mense uitsig verloor het op die doel waarvoor hulle geskep is. 'n Mens se hoogste en belangrikste doel in die lewe is om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet (Rom 11:36; 1 Kor 6:20; 1 Kor 10:31; Ps 86:9). Om dié rede is die liefde vir God die kern van alle moraliteit en goedheid. Die teenoorgestelde is die keuse van die eie ek. Selfsugtigheid is die essensie van die val in Eden en wat volg, is al die ander oortredinge teen God. In alle opsigte is sonde 'n inkeer na onsself, wat 'n bevestiging is van hoe ons ons lewens leef. Ons plaas die aandag op onsself en ons goeie kwaliteite en dit wat ons bereik. Ons minimaliseer ons tekortkominge. Ons soek spesiale gunste en geleenthede in die lewe en smag na 'n ekstra voordeel wat niemand anders het nie. Ons toon waaksaamheid teenoor ons eie behoeftes, terwyl ons ander s'n ignoreer. Kortliks plaas ons onsself op die troon van ons lewens en neem die rol van God oor.

Toe Adam gekies het om teen sy Skepper te rebelleer, het hy sy onskuld verloor, die straf van fisiese en geestelike dood op hom geneem en sy verstand was deur sonde verduister, soos die verstand van sy opvolgers. Die apostel Paulus het aangaande Heidene gesê, "En omdat hulle dit van geen belang ag om God te dien nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is" (Rom 1:28). Hy het aan die Korintiërs vertel: "Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is" (2 Kor 4:4). Jesus het gesê, "Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie" (Joh 12:46). Paulus het die Efesiërs herinner, "Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig" (Ef 5:8). Die doel van verlossing is om die oë van ongelowiges oop te maak en hulle van duisternis na lig te laat draai "en van die mag van die Satan tot God" te laat bekeer (Hand 26:18).

Die val in die tuin van Eden produseer in mense 'n toestand van verdorwenheid. Paulus het gepraat van diegene "wie se gewete toegeskroei is" (1 Tim 4:2) en hulle wie se verstand geestelik verduister is, as gevolg van die waarheid wat hulle verwerp (Rom 1:21). In hierdie toestand is die mens nie by magte om te doen of te kies wat vir God aanvaarbaar is nie, behalwe deur goddelike genade. "Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie" (Rom 8:7).

Sonder die bonatuurlike wedergeboorte deur die Heilige Gees, sou alle mense in hul gevalle toestand gebly het. Deur Sy genade egter, Sy barmhartigheid en goedertierenheid, het God Sy Seun gestuur om aan die kruis te sterf en die straf van ons sonde op Hom te neem, ons met God te versoen en die ewige lewe deur Hom vir ons moontlik te maak. Wat in die Tuin van Eden verlore gegaan het, is weer aan die Kruis terug geëis.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe het die val in Eden die mensdom beïnvloed?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries