settings icon
share icon
Vraag

Sal daar na die dood 'n tweede kans vir verlossing wees?

Antwoord


Terwyl daar 'n gedagte is dat daar 'n tweede kans op redding is, is die Bybel duidelik dat die dood die einde van alle kanse is. Heb 9:27 sê dat ons sterf en dan oordeel in die gesig staar. Dus, solank iemand nog lewe, het hy 'n tweede, derde, vierde, vyfde, ens. kans om Christus aan te neem en gered te word (Joh 3:16; Rom 10:9-10; Hand 16:31). As 'n persoon eers gesterf het, is daar geen kanse meer. Die vaevuur, waar mense sogenaamd na die dood gaan om vir hul sondes te betaal, het geen Bybelse oorsprong nie en is eerder 'n tradisie van die Rooms Katolieke Kerk.

Om te verstaan wat met ongelowiges gebeur nadat hulle gesterf het, gaan kyk ons na Openbaring 20:11-15, waar die Groot Wit Troon beskryf word. Hier vind die oopmaak van die boeke plaas en "Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het." Die boeke bevat al die denke en dade van hulle wat geoordeel word en ons weet vanuit Rom 3:20 dat "geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie." Dus, almal wat deur hul werke en denke geoordeel word, word verdoem tot die hel. Gelowiges in Christus, aan die ander kant, word nie geoordeel deur die boeke van die werke nie, maar hul name is gevind in 'n ander boek – die Boek van die Lam, die boek van die Lewe (Openbaring 21:27). Hierdie is die mense wat in die Here Jesus geglo het en net hulle sal toegelaat word om in die hemel in te gaan.

Enigeen wie se naam in die Boek van die Lam van die Lewe geskryf is, is gered "nog voordat die wêreld geskep is" (Ef 1:4) deur God se soewereine reddingsgenade om deel te vorm van Sy Seun se bruid, die kerk van Jesus Christus. Hierdie mense benodig nie 'n "tweede kans" op redding nie, omdat hul verlossing deur Christus verseker is. Hy het hulle gekies, Hy het hulle verlos en Hy sal hulle gered hou. Niks kan hulle van Christus verwyder nie (Rom 8:39). Diegene vir wie Hy gesterf het, sal gered wees, want Jesus sal toesien dat dit so is. Hy het verklaar dat "Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal Hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie" (Joh 6:37) "en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie" en "Niemand sal hulle uit My hand ruk nie" (Joh 10:28). Vir gelowiges is daar geen nodigheid vir 'n "tweede kans" nie, aangesien die eerste kans voldoende is.

Wat van hulle wat nie glo nie? Sou hulle nie berou hê en glo, indien hulle 'n tweede kans gegun word nie? Die antwoord is "nee", omdat hul harte nie verander is net omdat hulle gesterf het nie. Hulle harte en verstand is in vyandskap met God en sou Hom nie aanvaar nie, selfs al sien hulle Hom van aangesig tot aangesig. Dit kom na vore as getuienis in die storie van die ryk man en Lasarus in Luk 16:19-31. Indien daar ooit iemand was wat tot bekering sou kom, as hy 'n tweede kans kon kry om duidelik die waarheid te sien, dan was dit die ryk man. Alhoewel hy in pyniging in die hel was, het hy slegs gevra dat Abraham vir Lasarus moes terugstuur aarde toe, om sy broers te waarsku, sodat hulle nie dieselfde lyding moes deurmaak nie. Daar was geen hartsverandering by hom nie, net jammerte oor waar hy homself bevind het. Abraham se antwoord was duidelik: "As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan" (Luk 16:31). Hier sien ons dat die getuienis uit die Skrif genoegsaam vir verlossing is, vir diegene wat dit glo en geen ander openbaring sal verlossing bewerk vir hulle wat nie wil nie. Geen tweede, derde of vierde kanse sou genoeg wees om 'n kliphart om te keer na 'n hart van vlees nie.

Fil 2:10-11 sê, "sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde is, die knie sou buig en elke tong sou erken: 'Jesus Christus is Here!' tot eer van God die Vader." Teen daardie tyd is dit egter te laat vir redding. Ná die dood bly daar net oordeel vir die ongelowige oor (Openbaring 20:14-15). Dit is waarom ons in hierdie lewe op Hom moet vertrou.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Sal daar na die dood 'n tweede kans vir verlossing wees?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries