settings icon
share icon
Vraag

Hoekom is daar twee verskillende Skepping-weergawes in Gen 1 en 2?

Antwoord


Gen 1:1 sê, “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Later in Gen 2:4 lyk dit asof ‘n tweede, ander storie oor die skepping begin. Die idee van twee verskillende skepping-weergawes is blote wanpersepsie van twee gedeeltes wat dieselfde skeppingsgebeure beskryf. Hulle stem saam oor die orde hoe dinge geskep is en weerspreek nie die een die ander nie. Gen 1 beskryf die “ses skeppingsdae” (en ‘n sewende dag van rus). Gen 2 dek net een dag van daardie skeppingsweek – die sesde dag – en daar is geen weerspreking nie.

In Gen 2 tree die outeur terug in die reeks tot op die sesde dag, toe God die mens gemaak het. In die eerste hoofstuk bied die outeur van Genesis die skepping van die mens op die sesde dag aan, as die toppunt van die skepping. Dan, in die tweede hoofstuk gee hy meer detail oor die skepping van die mens.

Daar is twee primêre sienings van teenstrydighede tussen Gen 1 en 2. Die eerste is met betrekking tot die plantlewe. Gen 1:11 noem dat God die plante op die derde dag gemaak het. Gen 2:5 sê dat voordat die mens geskep is, “was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie en daar was nog nie ‘n mens om die grond te bewerk nie.” Dus, het God op die derde dag plante geskep, voor die mens geskep is (Gen 1) of nadat Hy die mens geskep het (Gen 2)? Die Hebreeuse woord vir “plantegroei” verskil in die twee gedeeltes. Gen 1:11 gebruik die term wat na “plantegroei in die algemeen” verwys. Gen 2:5 gebruik ‘n meer spesifieke term wat verwys na plantegroei wat landboukundigheid vereis, iemand moet daarna omsien, ‘n tuinier. Die gedeeltes weerspreek nie. Gen 1:11 praat van God wat plantegroei skep en Gen 2:5 praat van God wat nié bewerkbare plantegroei skep, voordat Hy die mens geskep het nie.

Die tweede teenstrydigheid is ten opsigte van die dierelewe. Gen 1:24-25 vertel dat God op die sesde dag dierelewe geskep het, voordat die mens geskep is. Gen 2:19, in sommige vertalings lees dit dat God diere geskep het nadat Hy die mens gemaak het. Nogtans lees ‘n goeie en betroubare vertaling van Gen 2:19-20, “Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees. Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere..” Die teksgedeelte sê nie dat God die mens geskep het, dan die diere gemaak het en dan die diere na die mens toe gebring het nie. Dit sê eerder, “Die Here God het toe (reeds) uit grond…” – daar is geen teenstrydigheid nie. Op die sesde dag het God die diere gemaak, toe die mens en toe het Hy die diere na die mens toe gebring, sodat die mens die name kon gee.

Deur die twee skepping-weergawes indivdueel te oorweeg en dan dit te versoen, sien ons dat God die volgorde van die skepping in Gen 1 beskryf, dan sit Hy die belangrikste besonderhede uiteen, veral die sesde dag in Gen 2. Daar is geen teenstrydigheid hier nie, bloot net ‘n gewone literêre manier van skryf om ‘n gebeurtenis van die algemene tot die spesifieke te omskryf.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoekom is daar twee verskillende Skepping-weergawes in Gen 1 en 2?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries