settings icon
share icon
Vraag

Waarom laat God toe dat ons deur toetsings en beproewings gaan?

Antwoord


Een van die moeilikste dele van die Christelike lewe is die feit dat om ‘n dissipel van Christus te word, ons nie immuun maak teen die lewe se toetse en beproewings nie. Waarom sal ‘n goeie en liefdevolle God toelaat dat ons deur dinge soos die dood van ‘n kind gaan, siekte en beserings – onsself en ons geliefdes, finansiële probleme, vrees en bekommernis? As Hy ons liefgehad het, sou Hy tog sekerlik al hierdie dinge van ons wegneem. As Hy ons nie liefhet nie, beteken dit dat Hy ons lewens maklik en sonder probleme wil hê? Wel, nee, dit is nie so nie. Die Bybel leer ons duidelik dat God hulle liefhet wat Sy kinders is en dat “God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet” (Rom 8:28). Dit moet dus beteken dat die toetse en beproewings wat Hy in ons lewens toelaat, deel vorm van die “ten goede meewerking” van alles in ons lewens. Dus, vir die gelowige moet alle toetse en beproewinge ‘n goddelike doel hê.

Soos in alle dinge, is God se hoogste doel vir ons om meer en meer te groei na die beeld van Sy Seun (Rom 8:29). Dit is die doel van die Christen en alles in die lewe, insluitende die toetse en beproewinge, wat voorkom , om ons in staat te stel om daardie doel te bereik .Dit is deel van die proses van heiligmaking, om afgesonder te word vir God se doelwitte en om te lewe tot Sy eer. In 1 Pet 1:6-7 word die wyse waarop toetsing werk, verduidelik, ”Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings, sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.” Die ware gelowige se geloof word getoets deur wat ons ondervind in die vorm van versoekings, sodat ons kan rus in die kennis wat waar is en wat vir ewig sal bly bestaan.

Beproewinge ontwikkel karakter en dit stel ons in staat om ons te verheug “ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het Sy liefde ins ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom 5:3-5). Jesus Christus het die volmaakte voorbeeld gestel. “Maar God bewys Sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom 5:8). Hierdie verse openbaar aspekte van Sy goddelike doel vir beide Jesus Christus se toetse en beproewinge en ons s’n. Volharding bewys dat ons glo. “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Fil 4:13).

Ons moet egter versigtig wees om nie verskonings uit te dink vir ons “toetse en beproewings”, as hulle die resultaat van ons eie verkeerde optrede is nie. “As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy ‘n moordenaar is of ‘n dief of ‘n misdadiger of ‘n kwaadstoker nie” (1 Pet 4:15). God sal ons sondes vergewe, omdat die ewige straf daarvoor betaal is deur Jesus se offerande aan die kruis. Tog, ly ons nog steeds die natuurlike gevolge in hierdie lewe, as gevolg van ons sondes en swak besluite. God gebruik egter selfs daardie lyding om ons te vorm vir Sy doel en ons uiteindelike voordeel.

Toetse en beproewinge kom met beide ‘n doel en ‘n beloning. “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word, sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming…..Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet” (Jak 1:2-4, 12).

Deur al die toetse en beproewings van die lewe, het ons die oorwinning. “Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in Sy triomftog, omdat ons een is met Christus” (2 Kor 2:14). Alhoewel ons in ‘n geestelike stryd gewikkel is, het die Satan geen outoriteit meer oor die gelowige in Christus nie. God het vir ons Sy Woord gegee om ons te lei, Sy Heilige Gees om ons in staat te stel en die voorreg om na Hom te kom enige plek, op enige tyd en om te bid oor enigiets. Hy het ons ook verseker dat geen beproewing ons bokant ons krag sal toets, sodat ons dit nie kan dra nie en Hy sal ook “die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan” (1 Kor 10:13).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarom laat God toe dat ons deur toetsings en beproewings gaan?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries