settings icon
share icon
Vraag

Hoe moet Christenouers ‘n tienerdogter wat swanger geraak het, hanteer?

Antwoord


Dit lyk asof een van die moeilikste dinge vir Christene is, om te onthou dat dit nie sonde is om swanger te wees nie. Dit is nie sonde om buite die huwelik swanger te wees nie. Dit is ook nie sonde om uit ongetrouder ouers gebore te word nie. Dit is sonde om seks buite die huweliksverhouding te hê – en dit is net soveel sonde vir die man as vir die vrou. ‘n Onbybelse intieme verhouding is ‘n baie makliker ding om vir kritiese oë weg te steek, as ‘n swangerskap en, ongelukkig, veroorsaak dit minder skade aan ‘n familie se reputasie in die Christelike gemeenskap.

So teleurstellend en oorweldigend as dit mag wees om uit te vind dat ‘n tienerdogter swanger is, is dit uiters belangrik om ‘n koninkryksperspektief te behou. Die sonde is gedoen. Wat ookal die invloede was waaronder die tiener tot daardie sonde gelei het, kan nie nou vermy word nie. Hierdie nuwe situasie gaan nie oor die moraliteit van seks buite die huwelik of die familie se reputasie nie. Dit gaan oor die opvoeding van ‘n kind. Alle kinders is gawes van God en Hy het vir elkeen ‘n plan (Ps 139:13-18). Selfs as die omstandighede waarin die baba kom, nie ideaal is nie, is daardie kind netso kosbaar en geliefd deur God as alle ander kinders.

Die swanger dogter is ook kosbaar vir God. Die rol van die ouers is om hul kinders te onderrig en te lei om godvresend te lewe, wat ookal op hul pad kom. Hierdie is ‘n uitstaande geleentheid om dit te doen. Die dogter sal bang, skaam en emosioneel wees, maar dit is haar ouers se verantwoordelikheid om haar deur daardie emosies te help en haar lewe om te draai na haar Hemelse Vader toe.

Sommige ouers vrees dat die liefde en ondersteuning wat sy benodig, haar sal aanmoedig tot die gedrag wat tot die swangerskap gelei het. Maar weereens, om swanger te wees en geboorte aan ‘n kind te gee, is nie sonde nie en daar is so baie voordele om aktief en openlik met ‘n swanger tiener om te gaan. Dit kweek ‘n omgewing waarin die kind gewaardeer word as ‘n geskenk, Dit bemoedig die vader om verantwoordelikheid sonder vrees te neem. Dit maak ook dat aborsie ‘n minder aanvaarbare oorweging word.

As ‘n familie hul swanger tiener verwerp – selfs emosioneel – sal sy baie meer geneig wees om verkeerde besluite te neem. Sy kan dink dat om met die kind se vader te trou, die enigste opsie is. Sy sal dalk nie weet hoe om na haar en die baba se gesondheid te kyk nie. Ander swanger tieners sien dalk die onbestendige verhouding en sodoende hou hulle hul eie toestand geheim.

Aan die ander kant sal die dogter baie wyser besluite aangaande haarself en haar baba se toekoms kan neem, as sy kan staatmaak op haar ouers se aanvaarding en liefdevolle leiding. Om hierdie pad emosioneel moeiliker vir haar te maak, sal haar nie helder laat dink nie. Wyse ouers sal hul dogter help deur die opsies om die baba te behou of te laat aanneem. Dit kan ook voordelig wees om die vader en sy familie te betrek; hy moet net soveel eienaarskap neem as die ma. Na ernstige gebed, moet die ouers duidelik wees in verband met die vlak van ondersteuning wat hulle kan gee vir die kind se opvoeding. Maak gebruik van Christelike krisis- swangerskap organisasies.

Ons God is ‘n almagtige God wat vreugde en seën kan bring, selfs uit ons sonde. Daar kan ongelooflike moeilike tye voorlê vir die swanger tiener en haar familie, maar ons God is die God wat vrymaak.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe moet Christenouers ‘n tienerdogter wat swanger geraak het, hanteer?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries