settings icon
share icon
Vraag

Wat was die betekenis van die voorhangsel in die tempel wat in twee geskeur het, toe Jesus gesterf het?

Antwoord


Gedurende die leeftyd van Jesus was die heilige tempel in Jerusalem die senter van die Joodse godsdienstige lewe. Die tempel was die plek waar diereoffers gebring is en eerbetoon is volgens die Wet van Moses gelowig nagevolg. Heb 9:1-9 beskryf die voorhangsel in die tempel, wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het (God se aardse plek, waar Hy teenwoordig was) van die res van die tempel, waar die mense aanbid het. Dit het aangedui dat die mens van God geskei was deur sonde (Jes 59:1-2). Slegs die hoëpriester is toegelaat om eenmaal per jaar daardie voorhangsel verby te gaan (Eks 30:10; Heb 9:7) en sodoende in God se teenwoordigheid vir die hele Israel te verskyn en versoening vir hul sondes te bring (Lev 16).

Salomo se tempel was 30 el hoog (1 Kon 6:2), maar Herodus het dit verhoog na 40 el, na aanleiding van die geskrifte van Josephus, ‘n eerste-eeuse Joodse historikus. Daar is onsekerheid oor die presiese mate van ‘n el, maar dit is veilig om te veronderstel dat die voorhangsel ongeveer 60 voet hoog was. Josephus vertel ook dat die voorhangsel 4 duim dik was en in Eksodus lees ons dat hierdie dik voorhangsel van blou, pers en skarlakenrooi en fyn geweefde linne gemaak was.

Die grootte en dikte van die voorhangsel maak die gebeure tydens Jesus se sterwe aan die kruis soveel meer aangrypend. “Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur” (Matt 27:50-51a).

Wat maak ons dus hiervan? Watter betekenis het hierdie geskeurde voorhangsel vandag vir ons? Die skeuring van die voorhangsel met Jesus se sterwe simboliseer op dramatiese wyse dat Sy offerande, die storting van Sy eie bloed, genoegsame versoening vir ons sondes was. Dit dui daarop dat die Allerheiligste nou oop was vir alle mense, vir alle tye, beide Jode en Heidene.

Toe Jesus gesterf het, het die voorhangsel geskeur en God het uitbeweeg uit daardie plek om nooit weer in ‘n tempel wat met hande gemaak is (Hand 17:24) te woon nie. God was klaar met daardie tempel en sy godsdienstige stelsel en die tempel en Jerusalem is “verlate” agtergelaat (verwoes deur die Romeine) in 70 AD, soos Jesus in Luk 13:35 geprofeteer het. Solank as wat die tempel gestaan het, het dit op die voortbestaan van die Ou Verbond gedui. Heb 9:8-9 verwys na die eeu wat verbygegaan het, toe die Nuwe Verbond opgerig is (Heb 8:13).

In ‘n sekere sin was die voorhangsel simbolies van Christus self as die enigste weg na die Vader toe (Joh 14:6). Dit word aangedui as gevolg van die feit dat die hoëpriester die Allerheiligste deur middel van die voorhangsel moes binnegaan. Nou is Christus ons ewige Hoëpriester en as gelowiges in Sy afgehandelde werk, vorm ons deel van hierdie beter priesterskap. Ons kan nou die Allerheiligste deur Hom binnegaan. Heb 10:19-20 sê dat die gelowige die Heiligdom binnegaan deur die “bloed van Jesus, deur die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons oopgemaak het deur die voorhangsel, Sy liggaam.” Hier sien ons hoe die liggaam van Jesus vir ons geskeur is, netsoos Hy die voorhangsel vir ons geskeur het.

Die voorhangsel wat van bo na onder geskeur is, is ‘n geskiedenisfeit. Die diepe betekenis van hierdie gebeurtenis word in glorieryke detail in Hebreërs beskryf. Die dinge van die tempel was skaduwees van die dinge wat moes kom en dit het by uitnemendheid na Jesus Christus gewys. Hy was die voorhangsel na die Allerheiligste en deur Sy sterwe het die gelowige nou vrye toegang tot God.

Die voorhangsel in die tempel was ‘n voortdurende herinnering dat sonde die oorsaak was dat die mensdom nie in God se teenwoordigheid kon kom nie. Die feit dat die sondoffer jaarliks gebring was en ontelbare ander offers daagliks herhaal moes word, het getoon dat sonde nie deur diere-offerandes weggeneem of versoen kon word nie. Jesus Christus het deur Sy sterwe die versperrings tussen God en die mens verwyder en nou mag ons tot Hom nader met vrymoedigheid en dapperheid (Heb 4:14-16). English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat was die betekenis van die voorhangsel in die tempel wat in twee geskeur het, toe Jesus gesterf het?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries