Wat was die doel van die Bybelse gawes met verwysing na tekens?


Vraag: "Wat was die doel van die Bybelse gawes met verwysing na tekens?"

Antwoord:
Wanneer ons van die Bybelse gawes soos tekens praat, verwys ons na wonderwerke soos praat in tale, visioene, opwekking van die dooies en profetering. Daar is geen vraag onder gelowiges of dit bestaan of nie, aangesien die Bybel dit eenvoudig beskryf. Waar daar verskille tussen gelowiges opkom, is hul doelstelling, sowel as die vraag of ons dit vandag nog beleef. Sommige sê dat hierdie gawes 'n teken van 'n persoon se verlossing is, terwyl ander weer sê dat dit 'n teken van die doping van die Heilige Gees is. Ander sê weer dat hul doelstelling is om die boodskap van die Evangelie te staaf. Hoe kan ons die waarheid weet? Ons moet die Skrif ondersoek om sodoende God se doelstellings hieroor te vind.

Een van die vroegste verwysings na gawes van tekens in die Bybel word in Eks 4 gevind, toe Moses deur God opdrag ontvang het aangaande die naderende vrylating uit Egipte. Moses was bekommerd dat die mense nie sou glo dat God hom gestuur het nie, dus het God hom die tekens van die staf, wat 'n slang geraak het en sy hand wat melaats geword het, gegee. God het gesê dat hierdie tekens nodig was, sodat hulle kon glo "dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het" (vers 5). Indien die mense nog steeds nie wou glo nie, het God Moses beveel om water uit die Nyl te neem en dit op die grond uit te gooi, waar dit in bloed sou verander (vers 9). Die doel vir die kinders van Israel was, dat hulle sou glo dat Moses God se boodskapper was.

God het ook vir Moses wonderwerkende tekens gegee om aan Farao te toon, sodat hy die mense sou laat gaan. In Eks 7:3-5 het God aan Moses gesê dat Hy Sy tekens en wonders in Egipte sou vermenigvuldig: "As Ek Egipte tref, sal hulle besef dat Ek die Here is en dan sal Ek Israel tussen hulle uit laat trek." God wou hê dat die Egiptenare moes weet dat Hy die Een was wat meegewerk het om die Israeliete te bevry. In Eks 10:7 het Moses aan Farao gesê dat die laaste plaag wat die eersgeborenes sou laat sterf, gebruik sou word om te toon dat God 'n onderskeid gemaak het tussen die Egiptenare en die Israeliete. Die tekens en wonders het God se boodskap aan Farao en die Egiptenare bevestig en sodoende sou hulle weet dat Moses deur God gestuur was.

Toe Elia die vals profete op die Karmelberg gekonfronteer het (1 Kon 18), het hy tot God gebid om wonderbaarlik vuur vanuit die hemel te stuur, sodat die mense kon weet "dat U God is in Israel en dat ek U dienaar is wat op U bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer" (verse 36-37). Die wonderwerke wat hy en die ander profete gedoen het, was 'n bevestiging dat God die profete gestuur het en dat God in Israel se midde gewerk het.

Joël het 'n boodskap ontvang aangaande God se oordeel oor Israel en tesame met daardie boodskap was daar 'n profesie van genade en hoop. Toe die oordeel gekom het, soos geprofeteer, en die mense met berou geantwoord het, het God gesê dat Hy die straf sou verwyder en Sy seën sou herstel: "Dan sal julle besef dat Ek by Israel is, dat Ek die Here julle God is, dat daar buiten My nie 'n ander is nie. My volk sal nooit weer in die skande kom nie" (Joël 2:27). Dadelik na daardie bevestiging, het God gepraat oor die uitstort van Sy Gees oor die mense, sodat hulle sou profeteer, visioene sien en wonderwerke laat gebeur. Toe die dissipels in tale begin praat het op Pinksterdag (Hand 2:1-21), het Petrus verklaar, "Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het." Wat was die doel? Dat die mense sou besef dat die boodskap wat Petrus en die ander gebring het, God se boodskap was.

Jesus se bediening was deur verskeie tekens en wonders vergesel. Wat was die doel van Sy wonderwerke? In Joh 10:37-38 het Jesus met die Jode gepraat, wat Hom weens godslastering wou stenig en Hy het gesê, "As Ek nie die werke van My Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is." Netsoos in die Ou Testament was die doel van Jesus se wonderwerke om God se hand op Sy Boodskapper te bevestig.

Toe die Fariseërs vir Jesus gevra het om vir hulle 'n teken te wys, het Jesus gesê, "'n Slegte en afvallige geslag vra 'n teken en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. Die mense van Nineve sal op die oordeelsnag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!" (Matt 12:39-41). Jesus het dit duidelik gestel wat die doel van 'n teken was: dat die mense God se boodskap sou erken en daarvolgens reageer. In Joh 4:48 het Jesus die regeringsamptenaar vermaan, "As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie." Die tekens was 'n hulpmiddel vir diegene wat gesukkel het om te glo, maar die verlossingsboodskap in Christus was die fokuspunt.

Hierdie verlossingsboodskap is deur Paulus uiteengesit in 1 Kor 1:21-23, "Dit was die bedoeling van God in Sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in Sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin." In 1 Kor 14:22 stel Paulus dit duidelik, "So is die gebruik van ongewone tale of klanke dan 'n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie." God het wondertekens, soos praat in tale, gebruik om ongelowiges te oortuig dat Christus se boodskap die Waarheid is, maar soos die res van die hoofstuk toon, was die belangriker ding die duidelike oordra van die Evangelieboodskap.

Een ding wat dikwels oor die hoof gesien word in gesprekke aangaande tekens en wonderwerke, is die tyd en plasing daarvan in die Skrif. Teenstrydig met populêre geloof, het mense in Bybelse tye nie die hele tyd wonderwerke gesien nie. Die Bybelse wonderwerke is gewoonlik rondom spesiale gebeure, soos God met die mensdom gehandel het,

gegroepeer. Israel se vrymaking vanuit Egipte en ingang na die Beloofde Land is deur baie wonderwerke vergesel, maar die wonderwerke het agterna gou vervaag. Gedurende die laat koninkryksjare, het God besluit om Sy mense in ballingskap te plaas en het Hy toegelaat dat 'n paar profete wonderwerke doen. Toe Jesus tussen ons kom woon het, het Hy wonderwerke gedoen en gedurende die vroeë bediening van die apostels, het hulle wonderwerke gedoen, maar buiten daardie tye, sien ons baie min tekens en wonders in die Bybel. Die oorgrote meerderheid mense wat in Bybelse tye geleef het, het nooit tekens en wonders met hul eie oë gesien nie. Hulle moes deur geloof leef deur wat God alreeds aan hulle geopenbaar het.

In die vroeë kerk was die tekens en wonders hoofsaaklik gefokus op die eerste aanbieding van die Evangelie onder verskeie groepe mense. Op Pinksterdag lees ons dat daar "Jode uit al die nasies onder die son" in Jerusalem bymekaargekom het (Hand 2:5). Dit was aan hierdie Jode, wat in ander lande opgegroei het en wat vreemde tale gepraat het (verse 6-11), aan wie die teken van spreek in tale eerste gegee is. Hulle het erken dat hulle in hul moedertaal gehoor het van die wonderwerke van God en Petrus het aan hulle vertel dat die enigste gepaste antwoord, berou oor hul sondes was (vers 38). Toe die Evangelie vir die eerste keer onder die Samaritane verkondig was, het Filippus tekens en wonderwerke gedoen (Hand 8:13).

Toe Petrus weer na Kornelius, 'n Heiden, gestuur is, het God 'n wonderteken gegee om Sy werk te bevestig. "Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie" (Hand 10:45-46). Toe Petrus deur die ander apostels ondervra is, het hy dit as getuienis gegee van God se leiding en die ander gelowiges "het God geprys en gesê: 'God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee'" (Hand 11:18).

Elke keer was die tekengawes 'n bevestiging van God se boodskap en boodskapper, met die doel dat mense kan hoor en glo. Eers as die boodskap bevestig was, het die tekens vervaag. Kenmerkend van ons lewens, het ons nie nodig dat daardie tekens herhaal hoef te word nie, maar ons het nodig om dieselfde Evangelieboodskap te ontvang.

English


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat was die doel van die Bybelse gawes met verwysing na tekens?