settings icon
share icon
Vraag

Is daar enige sonde wat God nie wil vergewe nie?

Antwoord


Vir die wedergebore kind van God is daar geen onvergeeflike sonde nie. Die gelowige se sonde is by die kruis vergewe en "daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie" (Rom 8:1).

"God het nie Sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word" (Joh 3:17). Regdeur Sy bediening het Jesus die wonderbaarlike en verrassende vergifnis van God uitgedra. Saggeus (Luk 19), die sondige vrou in Kana (Luk 7), die verlamde man in Galilea (Luk 5) – hulle almal is deur die Here vergewe, ongeag wat hulle gedoen het: God was by magte om te vergewe. "Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in" (Matt 21:31).

Jesus se woorde vanaf die kruis, "Dit is volbring" (Joh 19:30), beteken dat die straf vir sonde ten volle betaal is. Die woorde "dit is volbring" is in Grieks een woord: "tetelestai". Dit is 'n wonderlike woord. Tetelestai was op kwitansies gestempel om te toon dat dit ten volle betaal is: "paid in full." Wanneer 'n veroordeelde krimineel sy gevangenisstraf voltooi het en losgelaat is, was daar op die deur van sy huis 'n teken aangebring, wat sê, "tetelestai" en dit het beteken dat hy niks meer skuldig is aan die gemeenskap nie.

Die Here Jesus Christus het in ons plek offerande vir sonde geword en " die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem" (Joh 1:29). Hy was die volmaakte offerande (Heb 9:14). Die belofte aan hulle wat in Christus glo, is dat elke sonde wat hulle ooit gepleeg het of nog sal pleeg, vergewe is: "die bloed van Jesus" reinig "ons van elke sonde" (1 Joh 1:7). 1 Kor 6:9-10 gee 'n klomp verskillende skandelike sondes wat op 'n tyd deel was van die gelowiges in Korinte. Paulus gebruik daardie lys om na hierdie waarheid te verwys: "En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God" (vers 11). Hul sonde is weg, weggeneem van hulle "so ver as die ooste van die weste af" (Ps 103:12).

Dit is belangrik om God se voorwaarde vir sondevergifnis te verstaan. Ons kan net by God uitkom deur die Here Jesus. Jesus het gesê, "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie" (Joh 14:6). God se vergifnis is beskikbaar vir almal wat Jesus aanneem (Joh 3:16; Hand 10:43), maar vir diegene wat die Here Jesus verwerp, is daar geen vergifnis of kwytskelding van sonde nie (1 Joh 5:12). God sal alle sondes vergewe in Christus. Vir hulle wat nie in Christus is nie, is geen vergewing: "wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom" (Joh 3:36).

Johannes het sy eerste sendbrief aan wedergebore gelowiges geskryf en hy het hierdie belofte ingesluit: "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid" (1 Joh 1:9). Ons sondig almal (1 Joh 1:8), maar God se genade staan gereed om Sy kinders te vergewe en die verhouding te herstel.

Die "as" in die teksvers van 1 Joh 1:9 dui 'n voorwaarde aan: as ons "bely." Hierdie woord in Grieks is "homologia" (letterlik "dieselfde woord") en dit beteken "om dieselfde ding te sê." Om ons sonde te bely, beteken dat ons met God daaroor saamstem. God se vergifnis gee nie vir ons 'n blanko bladsy om aan te hou sondig nie. Ons moenie genade só ligtelik opneem nie (Rom 6:1-2); nee, 'n wedergebore gelowige wat in 'n verhouding met God staan, sal sensitief wees om te sondig en vinnig om dit teenoor die Here te bely.

Een van die wonderlikste waarhede van die Skrif is dat God vryelik sonde vergewe. As gevolg van God se genade wat oneindig is, is daar geen beperking op sonde wat God gewillig is om in Christus te vergewe nie. Geen sonde is té groot vir God se genade nie. "en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword" (Rom 5:20). Die apostel Paulus was godslasterlik, 'n vervolger en wrede man (1 Tim 1:13) voordat hy verlos is en hy het homself "die grootste" sondaar genoem, maar nadat hy die genade van God ontvang het, het hy gesê, "Dit is 'n betroubare word en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste" (1 Tim 1:15). As God Paulus kon red, dan kan Hy enigiemand red.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is daar enige sonde wat God nie wil vergewe nie?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries