settings icon
share icon
Vraag

Wat is die sonde wat tot die dood lei?

Antwoord


1 Joh 5:16 is een van die moeilikste verse in die Nuwe Testament om te verklaar. “As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.” Van al die interpretasies wat daar bestaan, is daar geeneen wat al die vrae rakende hierdie vers beantwoord nie.

Die beste uitspraak word moontlik gekry deur hierdie teksvers met Ananias en Saffira se gebeure te vergelyk in Hand 5:1-10 (sien ook 1 Kor 11:30). Die “sonde wat tot die dood lei” is moedswillige, aanhoudende, onbelyde sonde. God het Sy kinders geroep om heilig te lewe (1 Pet 1:16) en God wys hul tereg as hulle sondig. Ons word nie vir ons sonde “gestraf” in die sin van dat ons, ons verlossing verloor of om vir ewig van God geskei te word nie, tog word ons gedissiplineer, “want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem” (Heb 12:6).

1 Joh 5:16 sê dat daar ‘n tyd kom wanneer God nie langer ‘n gelowige toelaat om met ‘n onbelyde sonde voort te gaan nie. Wanneer daardie stadium bereik word, mag God besluit om die lewe van daardie koppige, sondige gelowige te neem. Die “dood” is ‘n fisiese dood. Soms reinig God Sy kerk deur diegene wat opsetlik ongehoorsaam is aan Hom, te verwyder. Die apostel Johannes maak ‘n onderskeid tussen “sonde wat tot die dood lei” en die “sonde wat nie tot die dood lei nie”. Nie alle sonde in die kerk word op dieselfde manier hanteer nie, omdat nie alle sonde so erg is soos die “sonde wat tot die dood lei nie.”

In Hand 5:1-10 en 1 Kor 11:28-32 handel God met opsetlike, beplande sonde in die kerk deur fisies die sondaar se lewe te neem. Dit is dalk ook wat Paulus gemeen het deur te skryf, “So sou sy sondige aard vernietig word, sodat sy gees gered kan word op die dag wanneer die Here kom” in 1 Kor 5:5.

Johannes sê dat ons moet bid vir Christene wat sondig en dat God ons gebede sal verhoor. Alhoewel, daar mag ‘n tyd kom wat God besluit om so ‘n gelowige se lewe kort te knip, as gevolg van onbelyde sonde. Gebede vir so ‘n agtelosige persoon sal nie effektief wees nie.

God is goed en regverdig en Hy sal uiteindelik vir ons ‘n kerk “sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik” maak (Ef 5:27). Om dit te bespoedig, suiwer Hy sy kinders. Mag die Here ons bewaar van hardkoppigheid, wat ons daartoe kan aanspoor om die “sonde wat tot die dood lei” te pleeg.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die sonde wat tot die dood lei?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries