settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel omtrent dobbel? Is dobbel ‘n sonde?

Antwoord


Dobbel kan gedefinieer word as “om met geld te waag in ‘n poging om die geld te vermenigvuldig op iets buitengewoons.” Die Bybel veroordeel nie dobbel, weddenskappe en die lotery as sulks nie. Nietemin waarsku die Bybel ons om weg te bly van die liefde vir geld (1 Timotheüs 6:10; Hebreërs 13:5). Die Skrif moedig ons ook aan om weg te bly van pogings “om vinnig ryk te word” (Spreuke 13:11; 23:5; Prediker 5:10). Dobbel fokus definitief op die liefde vir geld en onteenseglik verlei dit mense met die belofte van vinnige en maklike rykdom.

Wat is verkeerd met dobbel? Die ganse kwessie van dobbel is ‘n moeilike aangeleentheid, aangesien dit op moderne wyse en slegs tydens sekere geleenthede gedoen word. Sodoende is dit wel ‘n vermorsing van geld, maar nie noodwendig “boos” nie. Mense mors geld op allerlei soorte aktiwiteite. Dobbel impliseer geensins ‘n mindere of meerdere mate van geld mors, as byvoorbeeld die sien van ‘n rolprent (in baie gevalle) of die eet van ‘n onnodige duur maaltyd, of die aankoop van ‘n waardelose item nie. Terselfdertyd regverdig die feit dat geld op ander dinge gemors word nie die dobbelaktiwiteit opsigself nie. Geld behoort nie vermors te word nie. Oortollige geld behoort gespaar te word vir toekomstige behoeftes of vir die Here se werk gegee te word – nie weggedobbel te word nie.

Dobbel in die Bybel: Alhoewel daar nêrens in die Bybel eksplisiet van dobbel melding gemaak word nie, word “geluks-“ of “kans- speletjies” egter wel genoem. Ons lees byvoorbeeld hoe die lot in Levitikus gewerp word sodat daar gekies kon word tussen die offerbok en die sondebok. Joshua het die lot gewerp om te bepaal hoe die land tussen die verskillende stamme verdeel kon word. Nehemia het die lot gewerp om te bepaal wie tussen die mure van Jerusalem kon bly en wie nie. Die apostels het die lot gewerp sodat hul kon vasstel wie ‘n geskikte plaasvervanger vir Judas sou kon wees. In Spreuke 16:33 lees ons, “ In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die Here.” Nêrens in die Bybel word dobbel of “kans” gebruik as blote vermaak of voorgestel as ‘n aanvaarbare praktyk vir God se volgelinge nie.

Kasino’s en loterye: Kasino’s gebruik allerhande soorte bemarkingsskemas om die dobbelaar te verlei om soveel geld as moontlik te waag. Hulle bied dikwels goedkoop of selfs gratis alkohol aan, wat dronkenskap aanmoedig wat dan gevolglik lei tot ‘n onvermoë om wyse besluite te neem. Alles binne die kasino is spesifiek so ingerig om groot somme geld te neem en niks terug te gee nie, behalwe vir vervlietende en leë plesiertjies. Loterye poog om hulself uit te beeld as instansies wat fondse verskaf aan onderwys en/of sosiale programme. Studies toon egter dat diegene wat aan ‘n lotery deelneem dikwels juis diegene is wat dit die minste kan bekostig om geld op ‘n lotery kaartjies te spandeer. Die aanloklikheid van “vinnig ryk word” is ‘n té groot versoeking om te weerstaan vir sover dit die desperate ouens aanbetref. Die kanse dat hul gaan wen, is oneindig klein, wat daartoe lei dat baie mense se lewens geruïneer word.

Waarom lotery steeds nie God plesier nie: Baie mense voer aan dat hulle juis aan loterye of dobbel deelneem om sodoende geld aan die kerk of aan ‘n ander goeie saak te gee. Terwyl dit wel ‘n goeie motief mag wees, wys die werklikheid ons egter daarop dat slegs ‘n paar van daardie mense hulle winste vir goddelike doeleindes aangewend het. Studies bewys dat die oorgrote meerderheid van lotery wenners selfs in ‘n erger finansiële situasie verkeer het ‘n paar jaar nadat hul die Jackpot gewen het, as waarin hul voorheen was. Slegs ‘n paar, indien enige het waarlik die geld vir ‘n goeie saak gegee. God het buitendien nie ons geld nodig om Sy sending in die wêreld te finansier nie. In Spreuke 13:11 lees ons, “Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir bietjie bymekaar maak, word ryk”. God is soewerein en sal op ‘n eerlike wyse in die behoeftes van die kerk voorsien. Kan God werklik vereer word deur gesteelde dwelmgeld te ontvang, of geld wat gesteel is tydens ‘n bankroof? God het nóg die geld nodig en nóg wil Hy geld hê wat by die armes “gesteel” is vanweë die feit dat die rykes oorspronklik verlei was.

1 Timotheüs 6:10 vertel ons, "Want die geldgierigheid is die wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” In Hebreërs 13:5 word verklaar, "Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie”. In Mattheüs 6:24 word verklaar, “Niemand kan twee Here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel omtrent dobbel? Is dobbel ‘n sonde?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries