settings icon
share icon
Vraag

Waarna moet ek soek in ‘n kerk?

Antwoord


Om te weet waarna om te kyk in ‘n plaaslike kerk, moet ons eerstens God se doel vir die kerk – die liggaam van Christus – in die algemeen verstaan. Daar is twee uitstaande waarhede oor die kerk. Eerstens, “Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid” (1 Tim 3:15). Tweedens, Christus alleen is die Hoof van die kerk (Ef 1:22; 4:15; Kol 1:18).

Ten opsigte van die waarheid is die plaaslike kerk ‘n plek waar die Bybel (God se enigste Waarheid) ten volle outoriteit het. Die Bybel is die enigste onfeilbare rigsnoer vir geloof en praktyk (2 Tim 3:15-17). Dus, wanneer daar gesoek word vir ‘n kerk om by te woon, moet ons een vind waar, volgens bybelse standaarde, die evangelie gepredik word, sonde veroordeel word, aanbidding uit die hart uit kom, die onderrig bybels is en geleenthede om ander te bedien, bestaan. Kyk na die model van die vroeë kerk in Hand 2:42-47, “Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”

Ten opsigte van die tweede waarheid aangaande die kerk, moet Christene ‘n plaaslike byeenkoms bywoon wat Christus as Hoof verklaar in alle sake rakende doktrine en praktyk. Geen mens, pastoor, priester of pous is die hoof van die kerk nie. Alle mense sterf. Hoe kan die lewende kerk van die lewende God ‘n dooie hoof hê? Dit kan nie wees nie. Christus is die kerk se een allerhoogste outoriteit en alle kerkleierskap, gawes, orde, dissipline en aanbidding word deur Sy soewereiniteit aangewys, soos dit in die Skrif gevind word. Eers as hierdie twee fundamentele waarhede ingestel is, sal die res van die faktore (geboue, aanbiddingstyle, aktiwiteite, programme, ligging, ens.) maar hoofsaaklik ‘n kwessie van persoonlike voorkeur wees. Voordat ‘n kerk bygewoon word, is daar navorsing wat gedoen moet word. Dogmatiese leerstellings, doelwitvoorstellings, missie-voorstelle of enigiets wat insig kan gee in wat die kerk glo, moet versigtig ondersoek word. Baie kerke het webtuistes waar jy kan bepaal wat hulle glo aangaande die Bybel, God, die Drie-eenheid, Jesus Christus, sonde en verlossing.

Die volgende stap sal wees om die kerke te besoek, wat lyk asof hulle die fundamentele dinge in plek het. Bywoning van twee of drie dienste by elke kerk sal van hulp wees. Enige literatuur wat hul vir besoekers het, moet noukeurig bestudeer word en veral hul geloofsdokumente. Kerk-evaluering moet gebaseer wees op die bostaande beginsels. Word die Bybel as die enigste outoriteit gebruik? Word Christus verhoog as die Hoof van die kerk? Plaas die kerk fokus op dissipelskap? Word jy gelei om God te aanbid? Watter tipe bediening is die kerk self in betrokke? Was die boodskap bybels en volgens die evangelie aangebied? Hoe was die samekoms? Jy moet ook gemaklik voel daar. Het jy welkom gevoel? Bestaan die gemeente uit opregte aanbidders?

Ten slotte, onthou dat geen kerk perfek is nie. Op sy beste, is dit steeds gevul met geredde sondaars wie se vlees en gees gedurig in oorlog gewikkel is. Moet ook nooit die belangrikheid van gebed vergeet nie. Gebed aangaande die kerk wat God jou gelei het om te besoek, is deurslaggewend, regdeur die besluitnemingsproses.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarna moet ek soek in ‘n kerk?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries