settings icon
share icon
Vraag

Wat is die sewe seëls en sewe trompette in Openbaring?

Antwoord


Die sewe seëls (Open 6:1-17, 8:1-5), sewe trompette (Open 8:6-21, 11:15-19), en sewe bakke (Open 16:1-21) is drie opeenvolgende reekse van eindtyd-oordele van God. Die oordele raak geleidelik erger en meer verwoestend soos die eindtye aangaan. Die sewe seëls, trompette en bakke is die een met die ander verbind. Die sewende seël stel die sewe trompette voor (Open 8:1-5) en die sewende trompet stel die sewe bakke voor (Open 11:15-19, 15:1-8).

Die eerste vier van die sewe seëls is bekend as die vier perderuiters van die Apokalips. Die eerste seël stel die Antichris voor (Open 6:1-2). Die tweede seël veroorsaak groot oorlogvoering (Open 6:3-4). Die derde van die sewe seëls veroorsaak hongersnood (Open 6:5-6). Die vierde seël bring plae, verdere hongersnood en oorlogvoering mee (Open 6:7-8).

Die vyfde seël vertel ons van diegene wat gemartel is vir hul geloof in Christus gedurende die eindtye (Open 6:9-11). God hoor hul geroep vir geregtigheid en sal dit op Sy tyd gee – in die vorm van die sesde seël, saam met die trompet en bakke oordele. Wanneer die sesde van die sewe seëls gebreek is, sal ‘n verwoestende aardbewing plaasvind, wat massiewe omwenteling en vreeslike verwoesting sal saai, saam met ongewone astronomiese verskynsels (Open 6:12-14). Diegene wat oorleef, sal uitroep, “ Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit en vir die toorn van die Lam. Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek en wie sal staande kan bly?” (Open 6:16-17).

Die sewe trompette word in Open 8:6-21 beskryf. Die sewe trompette is die “inhoud” van die sewende seël (Open 8:1-5). Die eerste trompet veroorsaak hael en vuur wat die meeste van die plantlewe op aarde verwoes (Open 8:7). Die tweede trompet bring mee dat ‘n meteor die oseane tref en veroorsaak dat die meeste seelewe van die wêreld gedood word (Open 8:8-9). Die derde trompet is dieselfde as die tweede, behalwe dat dit die wêreld se mere en riviere affekteer, in plaas van die oseane (Open 8:10-11).

Die vierde van die sewe trompette veroorsaak dat die son en maan verdonker (Open 8:12). Die vyfde trompet loop uit op ‘n plaag van demoniese sprinkane wat die mensdom aanval en martel (Open 9:1-11). Die sesde trompet laat ‘n demoniese leërmag los wat een derde van die mensdom doodmaak (Open 9:12-21). Die sewende trompet bring die sewe engele met die sewe bakke waarin God se wraak is, voort (Open 11:15-19, 15:1-8).

Die sewe bakke oordele word in Openbaring 16:1-21beskryf. Die sewe bakke oordele word opgeroep deur die sewende trompet. Die eerste bak veroorsaak pynlike sere op die mense (Open 16:2). Die tweede bak veroorsaak dood in elke lewende ding in die see (Open 16:3). Die derde bak veroorsaak dat die riviere in bloed verander (Open 16:4-7). Die vierde van die sewe bakke veroorsaak dat die son se hitte vererger en groot pyn veroorsaak (Open 16:8-9). Die vyfde bak veroorsaak groot duisternis en die sere van die eerste bak vererger (Open 16:10-11). Die sesde bak bring mee dat die Eufraatrivier opdroog en die leërmagte van die Antichris kom bymekaar om die slag van Armageddon te voer (Open 16:12-14). Die sewende bak veroorsaak ‘n verwoestende aardbewing, gevolg deur reuse-haelstene (Open 16:15-21).

Openbaring 16:5-7 verklaar van God, “U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien…..Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is U oordele.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die sewe seëls en sewe trompette in Openbaring?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries