settings icon
share icon
Vraag

Wat was die verskillende sendingreise van Paulus?

Antwoord


Volgens die Nuwe Testament gaan Paulus op drie sendingreise om die boodskap van Christus in Klein-Asië en Europa te verkondig. Paulus was ‘n goed opgeleide Joodse leier, genoem Saul. Na Christus se dood en opstanding het hy in Jerusalem gebly en het hy sy bes gedoen om die Christelike kerk te vernietig. Hy het selfs deelgeneem aan die teregstelling van Stefanus, die eerste Christen-martelaar (Hand 7:55-8:4).

Op pad na Damaskus om nog meer Christene gevange te neem, het Paulus die Here ontmoet. Hy het tot geloofsoorgawe gekom en in Jesus Christus begin glo. Na hierdie gebeurtenis, het hy gepoog om Jode en Christene te oortuig van sy lewensveranderende oorgawe. Baie het getwyfel en hom ontwyk. Christene soos Barnabas het hom egter aanvaar en vir hom opgekom. Hulle twee het toe saam sendingwerk gedoen.

Gedurende drie aparte sendingreise – elkeen verskeie jare lank – het Paulus die nuus oor Jesus in baie kusdorpe en handelstede gepreek. Hier volg nou kortliks ‘n samevatting van hierdie sendingreise.

Eerste sendingreis (Hand 13-14): In antwoord op God se oproep om Christus te verkondig, het Paulus en Barnabas die kerk in Antiogië, Sirië verlaat. Aanvanklik was hul eerste metode om die Evangelie in die sinagoges in dorpe te verkondig. Toe baie van die Jode Christus egter verwerp het, het die sendelinge God se stem gehoor om eerder teenoor die Heidene te getuig.

As gevolg van sy dapper getuienis van Jesus, het Saul die vervolger Paulus die vervolgde geword. Diegene wat sy boodskap van verlossing deur Jesus Christus verwerp het, het probeer om hom te stop en leed aan te doen. In een stad is hy gestenig en vir dood agtergelaat, maar God het hom gespaar. Hy het aanhou preek en Christus verkondig, ten spyte van verhore, slae en tronkstraf.

Paulus se bediening het stryery onder die Heidene laat ontstaan oor wie gered kan word en hoe redding moes plaasvind. Tussen sy eerste en tweede sendingreise, het hy deelgeneem aan ‘n konferensie in Jerusalem, waar die weg van verlossing bespreek is. Die finale uitkoms was dat die Heidene Jesus kon aanneem, sonder om die Joodse tradisies in te boet.

Tweede sendingreis (Hand 15:36-18:22): Na nog ‘n besoek in Antiogië om die kerk daar te vestig, was Paulus gereed om ‘n tweede sendingreis te onderneem. Hy het Barnabas gevra om hom te vergesel en sodoende weer die kerke van sy eerste reis besoek. ‘n Onderlinge verskil het egter veroorsaak dat hulle moes skei van mekaar. God het egter hierdie aangeleentheid in iets positiefs omgekeer en twee sendingspanne laat ontstaan. Barnabas het na Siprus gegaan en Johannes en Markus saam geneem en Paulus het Silas na Klein-Asië geneem.

God het dit so bestuur dat Paulus en Silas na Griekeland gaan, om sodoende die Evangelie aan Europa te bring. In Filippi is die sendingspan geslaan en gevange geneem. Hulle was bly om vir Christus te ly en het gesing terwyl hulle in die tronk was. Skielik het God ‘n aardbewing gestuur om die tronkselle te laat oopgaan en hulle van die kettings te bevry. Die verbaasde tronkbewaarder en sy familie het in Christus begin glo, terwyl die regeringsamptenare hulle gesmeek het om weg te gaan.

Op pad na Athene het Paulus vir ‘n nuuskierige gehoor gepreek en getuig van die enigste ware God om te ken en te aanbid, sonder mensgemaakte afgode. Sommige het geglo en ander weer nie.

Diegene wat in Christus geglo het, het Paulus geleer en kerke tot stand gebring. Gedurende hierdie tweede sendingreis het Paulus baie dissipels van verskillende agtergronde gemaak: Timoteus, ‘n jongman, ‘n besigheidsvrou genaamd Lidia en ‘n getroude paar, Akwila en Priscilla.

Derde sendingreis (Hand 18:23-20:38): Gedurende Paulus se derde reis, het hy vurig in Klein-Asië gepreek. God het sy boodskap deur middel van wonderwerke bevestig. Hand 20:7-12 vertel van Paulus in Troas, waar hy ‘n buitengewone lang preek gelewer het. ‘n Jongman het hoog in ‘n vensterbank gesit en aan die slaap geraak. Hy het hom dood geval, maar Paulus het hom weer lewendig gemaak.

Die nuwe gelowiges in Efese was vantevore in die okkulte betrokke en het ál hul towerboeke uitgebrand. Die persone wat die afgode gemaak het, was nie tevrede met hul verlies in hul besigheid, ten bate van die een ware God en Sy Seun nie. Een of ander silwersmid, genaamd Demetrius, het in die stad opstokery begin en die godin Diana vereer. Verhore was altyd maar deel van Paulus se lewe. Die vervolging en opposisie het die ware Christene by uitstek versterk en die Evangelie versprei.

Teen die einde van Paulus se derde sendingreis, het hy geweet dat hy eersdaags gevange geneem en heel moontlik doodgemaak sou word. Sy finale woorde aan die kerk in Efese is ‘n aanduiding van sy toegewyde lewe aan Christus: “Julle weet hoe ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, onder julle geleef het; hoe ek die Here in alle nederigheid gedien het te midde van droefheid weens die vervolginge wat ek deur die komplotte van die Jode moes verduur. Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek en julle in julle huise onderrig het. Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo. En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie. Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak: dit is om die Evangelie van God se genade te verkondig” (Hand 20: 18-24).

Sommige Bybelkenners praat ook van ‘n vierde sendingreis en vroeë Christelike geskiedenis bevestig dit. Terselfdertyd is daar geen duidelike bewys daarvoor in die Bybel nie, indien dit gebeur het nadat die boek Handelinge afgesluit was.

Die doel van al Paulus se sendingreise was dieselfde: verkondiging van God se genade deur vergifnis van sonde deur Christus. God het Paulus se bediening gebruik om die Evangelie na die Heidene te bring en die kerk tot stand te bring. Sy briewe aan die kerke wat in die Nuwe Testament opgeneem is, is nog steeds die grondslag van die hedendaagse kerklike lewe en leerstellings. Alhoewel hy alles opgeoffer het, was Paulus se sendingreise die opoffering werd (Fil 3:7-11).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat was die verskillende sendingreise van Paulus?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries