settings icon
share icon
Vraag

Mag ‘n Christen na sekulêre musiek luister?

Antwoord


Baie Christene sukkel hiermee. Baie sekulêre musikante is uiters talentvol. Hierdie musiek kan baie vermaaklik wees. Daar is baie sekulêre liedere wat pragtige melodieë, gevoelvol is en positiewe boodskappe het. Om te bepaal of na sekulêre musiek geluister mag word, is daar drie hooffaktore om te oorweeg: 1) die doel van die musiek 2) die styl van die musiek en 3) die inhoud van die lirieke.

Die doel van die musiek: Is dit geskryf alleenlik vir aanbidding of het God bedoel dat hierdie musiek ook strelend kan wees en/of as vermaak moet dien? Die beroemdste musikant in die Bybel, Koning Dawid, het musiek hoofsaaklik gebruik vir die doel om God te aanbid (Ps 4:1; 6:1, 54, 55; 61:1; 67:1; 76:1). Toe Koning Saul egter deur bose geeste gepla was, het hy vir Dawid geroep om op die harp te speel en hom sodoende rustig te maak (1 Sam 16:14-23). Die Israeliete het ook musiekinstrumente gebruik om hul teen gevaar te waarsku (Neh 4:20) en hul vyande te verras (Rigters 7:16-22). In die Nuwe Testament raai die apostel Paulus die Christene aan om mekaar met musiek te bemoedig: “en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere” (Ef 5:19). Dit lyk asof die hoofdoel van musiek aanbidding is, maar die Bybel laat dit definitief ook toe vir ander gebruike.

Die musiekstyl. Ongelukkig kan musiekstyle baie verdeling onder Christene veroorsaak. Daar is Christene wat sterk daarop gesteld is dat geen musiekinstrumente gebruik mag word nie. Ander verkies net die “ou kerkliedere”. Sommige Christene soek meer ritmiese en kontemporêre musiek. Daar is Christene wat die beste aanbid in ‘n tipe “rock”-konsert-omgewing. In plaas daarvan om hierdie verskille as persoonlike voorkeure en kulturele verskille te aanvaar, kies sommige Christene dat hul voorkeurstyl net “Bybels” moet wees en alle ander vorms van musiek word beskou as onheilsaam, sondig en selfs satanisties.

Die Bybel veroordeel nêrens enige spesifieke musiekstyl nie. Die Bybel verklaar ook nêrens enige musiekinstrument as sondig nie. Die Bybel noem verskeie soorte snaarinstrumente, sowel as blaasinstrumente. Die Bybel noem nie spesifiek tromme nie, maar dit noem wel ander slaginstrumente (Ps 68:25; Esra 3:10). Feitlik al die vorms van moderne musiek is variasies en/of kombinasies van dieselfde tipes musiekinstrumente, maar dit word net teen verskillende spoed of met hoër klem gespeel. Daar is geen Bybelse grondslag om te verklaar dat sekere musiekstyle sondig of buite God se wil is nie.

Die inhoud van die lirieke. Aangesien nie die doel van die musiek of die musiekstyl bepalend is of ‘n Christen na sekulêre musiek mag luister nie, moet daar gekyk word na die inhoud van die lirieke. Fil 4:8 praat nie spesifiek van musiek nie, maar is ‘n uitstekende riglyn vir lirieke in musiek: “Verder broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” Indien ons oor sulke dinge dink, is dit sekerlik die dinge wat ons in ons gedagtes moet innooi, deur middel van musiek en lirieke. Kan die lirieke in ‘n sekulêre lied waar, edel, opreg, rein, mooi, bewonderenswaardig, uitstaande en prysenswaardig wees? Indien dit so is, dan is daar niks verkeerd as ‘n Christen na ‘n sekulêre lied van daardie aard luister nie.

Dit is tog so dat baie sekulêre musiek nie aan die standaarde van Fil 4:8 voldoen nie. Dit verkondig dikwels immoraliteit en geweld, terwyl dit reinheid en integriteit gering ag. As ‘n lied dinge wat God opponeer, uitdra, moet ‘n Christen nie daarna luister nie. Daar is egter sekulêre liedere wat God nie noem nie, maar tog goddelike waardes soos eerlikheid, reinheid en integriteit uitdra. As ‘n liefdeslied die heiligheid van die huwelik en/of die reinheid van ware liefde verkondig, al word God of die Bybel nie genoem nie, kan daarna geluister en kan dit geniet word.

Wat ookal ‘n persoon toelaat om sy gedagtes te vul, sal een of ander tyd sy woorde en sy dade beïnvloed. Dit is die veronderstelling agter Fil 4:8 en Kol 3:2,5: kweek deugsame gedagtes. 2 Kor 10:5 sê, “Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” Hierdie Skrifgedeeltes skets ‘n duidelike prent van die soort musiek waarna ons moet luister.

Die beste soort musiek is egter dit wat God prys en vereer. Talentvolle Christen-musikante werk feitlik in elke musiekgenre, van klassiek tot “rock”, “rap” en “reggae”. Daar is inherent niks verkeerd met enige spesifieke musiekstyl nie. Dit is die lirieke wat ‘n lied “aanvaarbaar” maak vir ‘n Christen om na te luister. Enigiets wat nie tot God se eer strek nie, moet vermy word. English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Mag ‘n Christen na sekulêre musiek luister?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries