settings icon
share icon
Vraag

Is Sciëntologie Christelik of ‘n kultus?

Antwoord


Sciëntologie is ‘n moeilike religie om op te som. Dit is in 1953 deur die wetenskapfiksie-outeur, L. Ron Hubbard gestig en het populariteit gewen deur sommige beroemdes uit Hollywood, wat dit aangeneem het. Hubbard het ‘n multi-miljoenêr geword as gevolg van Sciëntologie. Een van die mees algemene kritieke hierteen is inderdaad dat dit niks meer as ‘n komplekse geldmaak-skema is nie. Die LA Times het gerapporteer dat Hubbard se finansiële beleid in sy eie woorde was, “MAKE MONEY, MAKE MORE MONEY, MAKE OTHERS PRODUCE SO AS TO MAKE MONEY” (Joel Sappell and Robert W. Welkos. “The Scientology Story, Part 2: The selling of a church.” Monday, 6/25/1990, page A1:1. Los Angeles Times. WEB. 11/23/2015).

Sciëntologie leer dat die mensdom ‘n onsterflike wese is (‘n Thetan genoem) en nie oorspronklik van hierdie planeet nie en ook dat die mens in ‘n strik gevang is deur materie, energie, ruimte en tyd (MEST). Verlossing kom vir hierdie denkwyse deur ‘n proses wat “auditing”” genoem word, waar “engram” (basies, herinneringe van pyn en bewusteloosheid wat energie-blokkasie laat ontstaan) verwyder word. Ouditering is ‘n lang proses en kan honderde of duisende dollars kos. Wanneer alle “engrams” verwyder is, kan die Thetan weer MEST beheer, in plaas van om daardeur beheer te word. Om by verlossing uit te kom, is elke Thetan voortdurend deur reïnkarnasie verander.

Dit is ‘n baie duur godsdiens om na te volg. Elke aspek daarvan vra een of ander geldelike bydrae. Dit is waarom die kerkbanke van Sciëntologie met die welgesteldes gevul is. Dit is ook ‘n baie streng godsdiens en strafgerig teen diegene wat nie hul leringe en lidmaatskap navolg nie. Die geskrifte is beperk tot slegs die geskrewe werke van L. Ron Hubbard.

Alhoewel hierdie godsdiens beweer dat dit met die Christelike geloof versoenbaar is, weerlê die Bybel elke oortuiging waaraan hul vashou. Volgens die Bybel is God die soewereine en enigste Skepper van die heelal (Gen 1:1); die mens is deur God geskep (Gen 1:27); die enigste verlossing vir die mens is uit genade deur geloof in die voltooide werk van Jesus Christus (Fil 2:8); verlossing is verniet en die mens kan niks doen om dit te verdien nie (Ef 2:8-9); Jesus Christus is lewend en sit nou reeds aan die regterhand van God die Vader (Hand 2:33; Ef 1:20; Heb 1:3), wagtend op die tyd om Sy mense bymekaar te maak en saam met Hom in die hemel te verenig. Al die ander sal in die hel gewerp word, geskei van God vir ewig (Open 20:15).

Sciëntologie ontken onvoorwaardelik die bestaan van die God van die Bybel, hemel en hel. Jesus Christus was doodgewoon ‘n goeie leraar, wat verkeerdelik doodgemaak is. Hierdie godsdiens verskil van die Bybelse Christendom op elke belangrike punt van lering. Sommige van die belangrikste verskille word hieronder opgesom:

God: Hulle glo dat daar ‘n veelvoudige klomp gode is en dat sommige bo die ander verhef is. Bybelse Christene erken egter die enigste en enigste ware God, wat Homself aan ons in die Bybel openbaar het en deur Jesus Christus. Diegene wat in Hom glo, kan nie die valse konsep van God glo, wat in Sciëntologie geleer word nie.

Jesus Christus: Soos ander Kultusse, ontken hulle die vergoddeliking van Christus. In plaas van om ‘n Bybelse oorsig van wie Christus is en wat Hy gedoen het, te hê, dig hulle aan Hom die kenmerke toe van ‘n “mindere” god wat oor die jare legendariese status verwerf het. Die Bybel leer duidelik dat Jesus God was in die vlees en deur Sy inkarnasie kon Hy as offerande vir ons sondes optree. Dit is deur Christus se dood en opstanding wat ons die hoop gee vir die ewige lewe saam met God (Joh 3:16).

Sonde: Hulle glo in die inherente goedheid van die mens en leer dat dit veragtelik en uiters minagtend is om vir ‘n mens te vertel dat hy boos is en moet bely. Aan die ander kant, leer die Bybel dat die mens ‘n sondaar is en die enigste hoop vir hom is om Christus as sy Here en Verlosser aan te neem (Rom 6:23).

Verlossing: Sciëntologie glo in reïnkarnasie en dat persoonlike verlossing in ‘n mens se leeftyd vryheid van die sirkel van geboorte en dood is, geassosieer met reïnkarnasie. Hulle glo dat godsdienstige toepassing van alle gelowe die universele weg na wysheid, begrip en verlossing is. In kontras met die Bybel, is daar net een weg van verlossing en dit is deur Jesus Christus. Jesus het Self gesê, “Ek is die weg, en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6).

Deur die leringe van Sciëntologie met die Bybel te vergelyk, kan ons sien dat hierdie twee baie min, indien enigiets in gemeen het. Sciëntologie lei net weg van God en die ewige lewe af, terwyl dit soms hul oortuigings in Christen-gefundeerde taal verbloem. In werklikheid opponeer hulle die Christendom lynreg op elke kern-oortuiging. Sciëntologie is duidelik en baie definitief nie-Christelik van aard nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is Sciëntologie Christelik of ‘n kultus?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries