settings icon
share icon
Vraag

Wat vorm ‘n huwelik volgens die Bybel?

Antwoord


Die Bybel stel dit nêrens duidelik op watter stadium God ‘n bruidspaar as getroud beskou nie. Daar is drie algemene sienings: 1) God beskou slegs ‘n bruidspaar getroud, as hulle wettig getroud is. 2) ‘n Paartjie is in God se oë getroud wanneer hulle een of ander formele huwelikseremonie afgehandel het. 3) God beskou ‘n paartjie as getroud, die oomblik wanneer hulle seksueel met mekaar gemeenskap het. Kom ons kyk na elk van hierdie drie sienings en evalueer die sterk en swak punte.

Eerstens beskou God ‘n paartjie as getroud wanneer hulle wettig getroud is. Die Skrif rugsteun hierdie siening deur middel van die Bybelse opdrag om die wette van die owerheid te gehoorsaam (Rom 13:1-7; 1 Pet 2:17). Die argument is dat, indien die regering sekere prosedures en papierwerk vereis voordat ‘n huwelik erken word, behoort ‘n paartjie hul daartoe te verbind. Dit is definitief Bybels vir ‘n paartjie om hul te onderwerp aan die staat, solank as die vereistes nie God se Woord weerlê nie en dit billik is. Rom 13:1-2 sê, “ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry.”

Daar is egter swakhede en potensiële probleme met hierdie siening. Eerstens, die huwelik het bestaan voordat enige regering in plek was. Vir duisende jare is mense getroud sonder enige huwelikslisensie. Tweedens, selfs vandag is daar sommige lande wat geen erkenning vanaf die staat se kant vir die huwelik vereis en/of geen wettige vereistes stel nie. Derdens is daar owerhede wat onbybelse vereistes stel, nog voor die huwelik wettig erken is. Sommige lande vereis byvoorbeeld dat ‘n troue in ‘n Katolieke kerk gehou word, volgens Katolieke lerings en met ‘n Katolieke priester as toesighouer. Vir diegene wat sterk verskille met die Katolieke Kerk en die Katolieke begrip van die huwelik as ‘n sakrament het, sal dit onbybels wees om hulself daaraan ondergeskik te stel.

Die tweede siening meen dat ‘n paartjie in God se oë getroud is, indien hulle ‘n formele huwelikseremonie voltooi het. Sommige interpreteerders verstaan God se ‘bring’ van Eva na Adam toe (Gen 2:22), asof God die toesighouer was van die eerste “huwelikseremonie” – die moderne “weggee” van die dogter deur die pa by die huwelikseremonie, reflekteer dan nou op God se handeling in Eden. In Joh 2 het Jesus ‘n troue bygewoon. Jesus sou nie so ‘n byeenkoms bygewoon het, indien Hy dit nie goedgekeur het nie. Dit dui ook geensins daarop dat God ‘n huwelikseremonie vereis nie, maar dit dui wel daarop dat so ‘n seremonie vir God aanvaarbaar is. Feitlik elke kultuur in die geskiedenis van die mensdom het een of ander soort van formele huwelikseremonie. In elke kultuur is daar ‘n gebeurtenis, handeling, verbond of proklamasie wat erken word as verklaring dat ‘n man en vrou getroud is.

Die derde siening gaan oor die seksuele daad, waarvolgens God dan die paartjie as getroud sou beskou. Daar is diegene wat meen dat ‘n getroude paar nie werklik “getroud” is in God se oë, indien die fisiese seksdaad nie plaasgevind het nie. Ander argumenteer weer dat, indien enige man en vrou seks het, God hulle dan as getroud beskou. Die basis vir hierdie siening is as gevolg van die feit dat seksuele omgang tussen man en vrou die hoogste vervulling van die “een vlees”-beginsel is (Gen 2:24; Matt 19:5; Ef 5:31). Hiervolgens is seksuele omgang die finale “seël” op ‘n huweliksverbond. Tog is hierdie siening nie Bybels gefundeerd nie. Indien ‘n paartjie wettig en seremonieel getroud is, maar om een of ander rede nie seksuele omgang kan hê nie, is hulle nog steeds getroud.

Ons weet dat God nie seksuele omgang met die huwelik gelykstel nie, gebaseer op die feit dat die Ou Testament dikwels onderskei tussen ‘n vrou en ‘n byvrou: 2 Kron 11:21 beskryf een koninklike familie so, “Rehabeam het vir Maäka dogter van Abisalom liewer gehad as vir al sy ander vrouens en byvrouens. Hy het altesaam agtien vrouens en sestig byvrouens gehad en was die pa van ag en twintig seuns en sestig dogters.” In hierdie vers word byvrouens wat seksuele omgang met Koning Rehabeam gehad het, nie beskou as vrouens nie en word as ‘n aparte kategorie aangehaal.

Ook 1 Kor 7:2 dui aan dat seks voor die huwelik onsedelik is. Indien seksuele omgang die oorsaak is dat ‘n paartjie moet trou, kan dit nie as onsedelik beskou word nie, sou hulle dan as getroud beskou word, sodra omgang plaasvind. Daar is absoluut geen Bybelse grondslag vir ‘n ongetroude paar om seks te hê en hulself dan as getroud te verklaar en sodoende alle toekomstige seksuele verhoudinge as sedelik te beskou en dus God daardeur te probeer eer nie.

Dus, wat stel die huwelik in God se oë saam? Dit wil voorkom asof die volgende beginsels gevolg behoort te word: 1) So lank as die vereistes redelik en nie teen die Bybel is nie, kan ‘n paartjie enige regerings-instelling wat beskikbaar is, gebruik. 2) ‘n Paartjie behoort enige kulturele en familiepraktyke te volg, wat erkenning gee dat hulle “amptelik getroud” is. 3) Indien moontlik behoort ‘n paartjie die seksuele daad in die huwelik te volvoer, om sodoende die fisiese aspek van die “een vlees”-beginsel te vervul.

Wat gebeur nou indien een of meer van hierdie beginsels nie volvoer word nie? Is so ‘n paartjie steeds in God se oë getroud? Dit is beslis tussen God en die paartjie. God ken ons harte (1 Joh 3:20). God ken die verskil tussen ‘n ware huweliksverbond en ‘n poging om seksuele onsedelikheid te regverdig.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat vorm ‘n huwelik volgens die Bybel?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries