settings icon
share icon
Vraag

Is religie die oorsaak van die meeste oorloë?

Antwoord


Baie konflikte regdeur die geskiedenis was skynbaar as gevolg van religieuse redes, met baie verskillende godsdienste daarby betrokke. Om net 'n paar in die Christendom te noem:

Die Kruistogte – 'n Reeks van veldtogte vanaf die 11de tot die 13de eeue, met die doel voor oë om die Heilige Land van die Moslem-invallers te herwin en tot hulp van die Bisantynse Keiserryk te kom.

Die Franse Religieuse Oorloë – 'n Opeenvolging van oorloë in Frankryk gedurende die 16de eeu tussen die Katolieke en die Protestantse Hugenote.

Die Dertigjarige Oorlog – Nog 'n oorlog tussen Katolieke en Protestante gedurende die 17de eeu in die hedendaagse Duitsland.

Hierdie lys is glad nie uitgeput nie. Daarby kan gevoeg word, die Taiping Rebellie en die probleme in Noord-Ierland. Die Christendom was sekerlik 'n faktor in baie konflikte regdeur die 2000-jarige geskiedenis.

In Islam sien ons die konsep "jihad" of "heilige oorlog." Die woord 'jihad" beteken letterlik "stryd," maar die konsep is gebruik om die oorlogsvoering te beskryf in die uitbreiding en verdediging van die Islamitiese gebied. Die byna aanhoudende oorlog in die Midde-Ooste gedurende die afgelope halfeeu het sekerlik bygedra tot die konsep dat religie die oorsaak van baie oorloë is. Die 11de September se aanval op die Verenigde State word gesien as 'n "jihad" teen die "Great Satan" Amerika, wat in die oë van die Moslems sinoniem is met Christendom. In Judaïsme is dit die oorloë wat opgeteken is in die Ou Testament (spesifiek in die boek Josua) in opdrag van God, wat die Beloofde Land oorwin het.

Dit is waarskynlik dat religie sekerlik deel gevorm het in baie oorloë. Is dit egter waar wat kritici beweer dat religie op sigself die oorsaak is? Die antwoord is ja en nee. Ja, in die sin van 'n sekondêre oorsaak, is religie op die oppervlak die stukrag agter baie van die konflik. Tog is die antwoord "nee" in die sin van dat godsdiens nooit die primêre oorsaak is nie.

Om hierdie punt te demonstreer, kyk ons na die 20ste eeu. Volgens alle verslae was die 20ste eeu een van die bloedigste eeue in die mens se geskiedenis.Twee groot wêreldoorloë wat niks te doen het met religie nie, die Joodse "Holocaust" en die Kommunistiese Revolusies in Rusland, China, Suidoos-Asië en Kuba, het enigiets tussen 50-70 miljoen sterftes aangeteken (sommige word bereken tot so hoog as 100 miljoen). Die een ding wat hierdie konflikte en volksmoorde in gemeen het, is die feit dat hulle ideologies was, nie religieus van aard nie. Ons kan maklik die saak uitmaak dat meer mense dood is gedurende die menslike geskiedenis as gevolg van ideologiese verskille, as religieus. Kommunistiese ideologie dwing oorheersing af oor ander. Nazi-ideologie dwing eliminering van minderheidsgroepe af. Hierdie twee ideologieë alleenlik is verantwoordelik vir die dood van miljoene en religie het niks daarmee te doen nie. Kommunisme is in werklikheid per definisie 'n ateïstiese ideologie.

Religie en ideologie is beide sekondêre oorsake vir oorlog. Die primêre oorsaak egter vir alle oorloë is sonde. Let op die volgende Skrifgedeeltes:

"Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry dit nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig" (Jak 4:1-3).

"Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, valse getuienis, kwaadpratery" (Matt 15:19).

"Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?" (Jer 17:9)

"Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink" (Gen 6:5).

Wat getuig die Skrif aangaande die primêre oorsaak van oorlog? Dit is ons sondige harte. Religie en ideologie is eenvoudig maar net die bronne waardeur ons die sondigheid van ons harte uitoefen. Om te dink, soos baie uitgesproke ateïste doen, dat deur op een of ander manier net ons "onpraktiese behoefte vir religie" uit te wis, kan ons 'n vredevoller samelewing skep, dit is 'n verkeerde siening oor menslike natuur. Die getuienis van menslike geskiedenis is dat indien ons religie moet verwyder, iets anders sy plek sal inneem en daardie iets is nooit positief nie. Die realiteit is dat opregte religie 'n oog hou oor die mensdom en sonder dit, sal sonde en boosheid ten volle regeer.

Selfs met die invloed van ware religie, Christenskap, sal ons nooit vrede sien in die huidige eeu nie. Daar is nooit 'n dag sonder konflik iewers in die wêreld nie. Die enigste geneesmiddel vir oorlog, is die Prins van Vrede, Jesus Christus! Wanneer Christus kom, soos Hy beloof het, sal Hy hierdie huidige tydperk sluit en 'n ewige vrede tot stand bring:

"Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie; en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie" (Jes 2:4).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is religie die oorsaak van die meeste oorloë?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries