settings icon
share icon
Vraag

Is daar profete in die kerk vandag?

Antwoord


Dit wil voorkom asof die gawe van profesie 'n tydelike gawe is, gegewe deur Christus om die kerk tot stand te bring. Profete was fundamenteel ten opsigte van die kerk (Ef 2:20). Die profeet het 'n boodskap oorgedra vanaf die Here aan vroeë gelowiges. Soms was 'n profeet se boodskap openbarend (nuwe openbaring en waarheid vanaf God) en soms was dit voorspellend (sien Hand 11:28 en 21:10). Die vroeë Christene het nie die volledige Bybel gehad nie en sommige van hulle het nie toegang gehad tot enige Nuwe Testamentiese boeke nie. Die Nuwe Testamentiese profete het die "gaping gevul" deur God se boodskap te verkondig aan mense wat nie andersins daartoe toegang gehad het nie. Die laaste boek van die Nuwe Testament (Openbaring) was eers laat in die eerste eeu voltooi. Dus het die Here profete gestuur om God se Woord aan Sy mense te verkondig.

Is daar ware profete vandag? Indien die doel van 'n profeet was om die waarheid vanaf God te openbaar, waarom sou ons vandag profete nodig hê, aangesien ons die volledige openbaring in die Bybel het? As profete die "fondament" van die vroeë kerk was, is ons vandag nog steeds besig om die "fondament" te bou? Kan God aan iemand 'n boodskap gee om aan iemand anders oor te dra? Absoluut! Openbaar God waarhede aan iemand in 'n bonatuurlike manier en bemagtig daardie persoon om die boodskap aan ander oor te dra? Absoluut! Maar is dit die Bybelse gawe van profesie? Nee.

Wanneer 'n persoon beweer dat hy namens God praat (die essensie van profesie), is die sleutel daarvan om dit wat hy/sy sê te vergelyk met wat die Bybel sê. Indien God deur iemand praat vandag, moet die boodskap in volledige ooreenstemming wees met wat God reeds in die Bybel gesê het. God weerspreek Homself nooit nie. 1 Joh 4:1 leer ons, "Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is." 1 Tess 5:20-21 verklaar, "Moenie uitsprake van dié wat die boodskap van God verkondig, geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is en bly weg van alles wat sleg is." Dus, óf dit 'n "woord van die Here" is óf veronderstel is om 'n profesie te wees, moet ons benadering dieselfde wees. Vergelyk dit wat gesê is met dit wat die Woord van God sê. Indien dit die Bybel weerspreek, verwerp dit. Indien dit saamstem met die Bybel, bid vir wysheid en onderskeiding oor hoe die boodskap toegepas moet word (2 Tim 3:16-17; Jakobus 1:5).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is daar profete in die kerk vandag?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries