settings icon
share icon
Vraag

Wat is die rots in Matt 16:18?

Antwoord


'n Debat woed oor die kwessie of "die rots" waarop Christus Sy kerk wil bou, Petrus is of Petrus se belydenis dat Jesus "die Christus, die Seun van die lewende God" is (Matt 16:16). In alle eerlikheid is daar geen manier dat ons absoluut seker kan wees watter siening korrek is nie. Die grammatikale konstruksie laat albei sienings toe.

Die eerste siening is dat Jesus verklaar dat Petrus die "rots" sou wees waarop Hy Sy kerk sou bou. Dit lyk asof Jesus rondspeel met woorde. "Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek My kerk bou." Aangesien Petrus se naam "rots" beteken en Jesus Sy kerk op 'n rots gaan bou – lyk dit dat Christus die twee saam verbind. God het Petrus grootliks gebruik in die oprigting van die kerk. Dit was Petrus wat eerste die Evangelie verkondig het op Pinksterdag (Hand 2:14-47). Petrus was ook teenwoordig toe die Samaritane vir die eerste keer die Heilige Gees ontvang het (Hand 8:14-17) en hy was die eerste wat die Evangelie na die Heidene geneem het (Hand 10:1-48). In 'n sekere sin was Petrus die "rotsfondament" van die Kerk.

Die ander populêre interpretasie van die rots is dat Jesus nie na Petrus verwys het nie, maar na Petrus se belydenis van geloof in vers 16: "U is die Christus, die Seun van die lewende God."Jesus het nooit uitdruklik vir Petrus en die ander dissipels die volheid van Sy identiteit geleer nie en Hy het opgelet dat God in Sy soewereiniteit Petrus se oë geopen het en aan hom openbaar het Wie Jesus werklik was. Sy belydenis van Jesus as die Seun van God het uit hom geborrel, 'n verklaring van sy persoonlike geloof vanuit Petrus se hart. Dit is hierdie persoonlike geloof in Christus wat die waarmerk van die opregte Christen is. Almal wat hul geloof in Christus geplaas het, soos Petrus gedoen het, is die kerk. Petrus verkondig hierdie waarheid in 1 Pet 2:4-5, "Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is."

Ná Petrus se belydenis verklaar Jesus dat God die waarheid aan Petrus geopenbaar het. Die woord vir "Petrus", Petros, beteken "'n klein klip" Joh 1:42) (sien New King James Version). Jesus het toe 'n soortgelyke woord "petra" gebruik, wat beteken " 'n fondamentbouer". Dieselfde woord word in Matt 7:24, 25 gebruik, waar Jesus die rots beskrywe waarop die wyse man sy huis bou. Petrus gebruik dieselfde beeld in sy eerste sendbrief: die kerk word gebou van talryke klein "petros", "lewende stene" (1 Pet 2:5), wat Petrus se belydenis deel dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God. Daardie belydenisse van geloof is die grondlegging van die kerk.

Die Nuwe Testament maak dit oorvloediglik duidelik dat Christus die fondament van die kerk is (Hand 4:11, 12; 1 Kor 3:11). Dit is 'n fout om te dink dat Jesus hierdie voorreg aan Petrus gegee het. Daar is 'n aanduiding dat al die apostels 'n fundamentele rol in die oprigting van die kerk gespeel het (Ef 2:20), maar die primêre posisie is vir Christus alleen gereserveer. Christus word die "belangrikste klip" genoem (1 Pet 2:6,7; Ef 2:20; Luk 20:17; Hand 4:11). As Christus die hoeksteen is, hoe kon Petrus die rots wees waarop die kerk gebou is?

Dus, Jesus se woorde in Matt 16:18 word die beste geïnterpreteer as 'n eenvoudige spel met woorde. Om dit te parafraseer, "Petrus, jy word 'n "klein klippie" genoem, maar uit jou mond uit sal 'n waarheid kom, so groot soos 'n rotsblok, wat die fondament van die kerk sal wees."

Die Rooms Katolieke Kerk argumenteer dat Petrus die rots is waarna Jesus verwys het en gebruik dan daardie interpretasie as getuienis dat dit die enigste ware kerk is. Soos ons egter gesien het, is Petrus as rots nie die enigste geldige interpretasie nie. Selfs al sou Petrus die rots wees in Matt 16:18, sou dit nie die Roomse Kerk enige outoriteit gegee het nie. Die Skrif noem nêrens dat Petrus in Rome was nie. Die Skrif beskryf Petrus nooit as outoriteit oor die ander apostels nie of as belangrikste leier van die vroeë kerk nie. Petrus was nie die eerste pous nie. Die ontstaan van die Katolieke Kerk word nie gegrond op die leringe van Petrus of enige ander apostel nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die rots in Matt 16:18?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries