settings icon
share icon
Vraag

Wat beteken dit om ‘n persoonlike verhouding met God te hê?

Antwoord


‘n Persoonlike verhouding met God begin die oomblik as ons besef dat ons Hom nodig het, erken dat ons sondaars is en in geloof Jesus Christus as Verlosser aanvaar. God, ons hemelse Vader het altyd die begeerte om naby ons te wees en ‘n verhouding met ons te hê. Voordat Adam in die Tuin van Eden gesondig het (Gen 3), het hy en Eva vir God op ‘n intieme, persoonlike vlak geken. Hulle het saam met Hom in die Tuin gewandel en direk met Hom gepraat. As gevolg van die sonde van die mens, is ons van God verwyder en afgesny.

Wat baie mense nie weet of besef of voor omgee nie, is dat Jesus die wonderlikste geskenk gegee het – die geleentheid om die ewigheid by God deur te bring, indien ons op Hom vertrou. “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus, ons Here” (Rom 6:23). God het ‘n mens geword in die Persoon van Jesus Christus om ons sonde te dra, om doodgemaak te word en weer opgewek te word en sodoende Sy oorwinning oor sonde en dood te bewys. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Rom 8:1). Indien ons hierdie geskenk aanvaar, het ons aanvaarbaar geword vir God en kan ons ‘n verhouding met Hom hê.

Om ‘n persoonlike verhouding met God te hê, beteken om Hom in ons daaglikse lewens in te sluit. Ons moet bid, Sy Woord lees en mediteer op teksgedeeltes in ‘n poging om Hom beter te leer ken. Ons moet bid vir wysheid (Jak 1:5), wat die waardevolste bate is wat ons ooit kan besit. Ons moet ons versoeke na Hom toe neem en in die Naam van Jesus vra (Joh 15:16). Jesus is die Een wat ons só liefgehad het dat Hy Sy lewe vir ons gegee het (Rom 5:8) en Hy is die Een wat die gaping tussen ons en God oorbrug het.

Die Heilige Gees is vir ons as Voorspraak gegee. “As julle My liefhet, sal julle My opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die Waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Joh 14:15-17). Jesus het dit gesê voordat Hy gesterf het en na Sy sterwe Het die Heilige Gees vir almal wat Hom ernstig gesoek het, beskikbaar geword om Hom aan te neem. Hy is die Een wat in die harte van die gelowiges woon en hul nooit verlaat nie. Hy verdedig ons, leer ons die Waarheid en verander ons harte. Sonder hierdie goddelike Heilige Gees sou ons nie die vermoë gehad het om die bose en versoekings te weerstaan nie. Vandat ons Hom egter het, begin ons om die vrug van die Gees te dra, deurdat ons Hom toelaat om ons te beheer: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23).

Hierdie persoonlike verhouding met God is nie so moeilik om te vind as wat ons dink nie en daar is geen geheimsinnige formule om dit te verkry nie. So gou as wat ons kinders van God raak, ontvang ons die Heilige Gees en Hy sal begin om in ons harte te werk. Ons moet bid sonder ophou, die Bybel lees en by ‘n Bybelgefundeerde-kerk aansluit; al hierdie dinge sal ons help om geestelik te groei. Deur elke dag op God te vertrou en te glo dat Hy ons onderhouer is, is die manier om ‘n verhouding met Hom te hê. Alhoewel ons nie onmiddellike veranderinge sien nie, sal dit met verloop van tyd gebeur en alle waarhede sal duidelik na vore kom. English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit om ‘n persoonlike verhouding met God te hê?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries