settings icon
share icon
Vraag

Waarom is die opstanding van Jesus Christus belangrik?

Antwoord


Die opstanding van Jesus is om verskeie redes belangrik. Eerstens getuig dit van die enorme krag van God self. Om in die opstanding te glo, is om in God te glo. As God bestaan en Hy die heelal geskep het en dit beheer, het Hy krag om die dooies op te wek. As Hy nie hierdie krag het nie, is Hy nie ‘n God wat ons geloof en lofprysing waardig is nie. Slegs Hy wat lewe geskep het, kan dit opwek na die dood, slegs Hy kan die afskuwelikheid van die dood omkeer en net Hy kan die angel wat die dood is, verwyder en die oorwinning oor die graf behaal (1 Kor 15:54-55). Deur Jesus se opstanding uit die graf , herinner God ons aan Sy absolute soewereiniteit oor lewe en dood.

Tweedens is die opstanding van Jesus ‘n getuienis van die opstanding van ons as mense, wat ‘n basiese beginsel van die Christelike geloof is. Anders as al die ander godsdienste, het Christenskap sy oorsprong te danke aan Christus wat dood oorwin het en wat aan Sy volgelinge beloof dat hulle dieselfde sal verkry. Alle ander godsdienste is deur mense en profete tot stand gebring en hul einde was die dood. As Christene het ons die versekering dat ons God mens geword het, vir ons sondes gesterf het en die derde dag weer opgewek is uit die dood. Die graf kon Hom nie vashou nie. Hy lewe en sit vandag aan die regterhand van God die Vader in die hemel.

In 1 Kor 15 verduidelik Paulus volledig die belangrikheid van Christus se opstanding. Sommige in Korinte het nie in die opstanding uit die dood geglo nie en in hierdie hoofstuk gee Paulus ses vernietigende gevolge, sou daar nie ‘n opstanding wees nie: 1) om Christus te verkondig, sou sinneloos gewees het (v 14), 2) geloof in Christus sou hopeloos wees (v 14), 3) al die getuies en verkondigers van die opstanding sou leuenaars gewees het (v 15) 4) niemand sou van sonde verlos wees nie (v 17) 5) alle vroeëre gelowiges sou verlore gaan (v 18) en 6) Christene sou die bejammerenswaardigste mense op aarde wees (v 19). “Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het” (v 20), met dié versekering dat ons Hom in die opstanding sal volg.

Die geïnspireerde Woord van God waarborg die opstanding van die gelowiges by die wederkoms van Jesus Christus, om Sy Liggaam (die Kerk) met die wegraping te kom haal. Hierdie hoop en sekerheid word uitgebeeld in Paulus se groot oorwinningslied in 1 Kor 15:55, “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Hoe word hierdie versgedeeltes verbind met die opstanding? Paulus antwoord, “omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie” (v 58). Hy herinner ons dat, aangesien ons weet dat ons in ‘n nuwe lewe opgewek gaan word, ons vervolging en gevaar vir die saak van Christus kan ly (v 29-310, netsoos Hy moes ly. Ons kan die voorbeeld van duisende martelaars deur die geskiedenis volg, wat blymoedig hul aardse lewe vir die ewige lewe, deur die opstanding, verruil het.

Die opstanding is die triomfantelike en glorieryke oorwinning vir elke gelowige. Jesus Christus het gesterwe, was begrawe en het op die derde dag, volgens die Skrif, weer opgestaan en Hy kom weer! Diegene wat in Christus gesterf het, sal opgewek word en hulle wat oorgebly het en lewe by Sy koms, sal verander en nuutgemaak word, verheerlikte liggame (1 Tess 4:13-18). Waarom is die opstanding van Jesus Christus belangrik vir redding? Dit is ‘n bewys dat God die offerande van Jesus namens ons, aanvaar het. Dit bewys dat God die mag het om ons uit die dood op te wek. Dit waarborg dat hulle wat in Christus glo, nie in die dood sal bly nie, maar tot die ewige lewe opgewek sal word. Dit is ons salige hoop!

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarom is die opstanding van Jesus Christus belangrik?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries