settings icon
share icon
Vraag

Wat is opregte aanbidding?

Antwoord


Die apostel Paulus beskryf opregte of ware aanbidding volledig in Rom 12:1-2: “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Hierdie gedeelte bevat al die elemente van ware aanbidding. Eerstens is daar die motivering om te aanbid: “die genade van God.” God se genade is alles wat Hy vir ons gegee het, wat ons nie verdien nie: ewige liefde, ewige genade, die Heilige Gees, ewige vrede, ewige blydskap, reddende geloof, vertroosting, krag, wysheid, hoop, geduld, goedheid, eer, heerlikheid, regverdigheid, sekuriteit, ewige lewe, vergifnis, versoening, geregtigheid, heiligmaking, vryheid, intersessie en baie meer. Die kennis en begrip van hierdie ongelooflike gawes motiveer ons om voort te gaan in lofprysing en danksegging – met ander woorde, aanbidding!

In die gedeelte is ook ‘n beskrywing van die manier waarop ons moet aanbid: “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers.” Dit beteken dat ons deur ons liggame aan God te gee, ons onsself aan hom gee. Die verwysing na ons liggame hier, beteken ons hele menslike wese – ons harte, verstande, hande, gedagtes, optredes – word vir God gegee, Met ander woorde, ons moet beheer oorgee van hierdie dinge en aan Hom oorlaat, netsoos ‘n letterlike offerande op die altaar totaal aan God oorgegee was. Maar hoe? Weereens is dit duidelik uit die gedeelte: “deur ons denke te vernuwe.” Ons vernuwe dit daagliks deur reiniging van die wêreld se “wysheid” en dit te vervang met opregte wysheid wat van God af kom. Ons aanbid Hom met ons nuwe en gewaste denke, nie met ons emosies nie. Emosies is wonderlik, maar tensy hulle nie gevorm is deur die verstand wat in Waarheid deurweek is nie, kan hulle vernietigende, buite beherende magte wees.Waar die verstand gaan, volg die wil en so ook die emosies. 1 Kor 2:16 sê dat ons “die Gees van Christus” het, nie die emosies van Christus nie.

Daar is net een manier om ons verstand te hernieu en dit is deur die Woord van God. Dit is die waarheid, die kennis van die Woord van God, die kennis van God se genade en ons is terug waar ons begin het. Om die waarheid te ken, om die waarheid te glo, om die oortuigings aangaande waarheid te behou en om die waarheid lief te hê, sal op natuurlike wyse uitloop op ware geestelike aanbidding. Dit is oortuiging gevolg deur goedgesindheid, ‘n eienskap van liefde wat antwoord op die waarheid, nie op enige uitwendige prikkels nie, insluitende musiek. Musiek op sigself het niks met aanbidding te doen nie. Musiek kan nie aanbidding voortbring nie, alhoewel dit sekerlik mosie kan opwek. Musiek is nie die oorsprong van aanbidding nie, maar kan die uitdrukking daarvan wees. Moenie na musiek kyk om jou aanbidding voort te bring nie; sien musiek eenvoudig as ‘n uitdrukking van wat voortvloei uit ‘n hart wat deur God se genade weggevoer word, in gehoorsaamheid aan Sy opdragte.

Ware aanbidding is God-gesentreerde aanbidding. Mense is geneig om vasgevang te word in waar hulle moet aanbid, watter musiek hulle in aanbidding moet sing en hoe hul aanbidding vir ander mense lyk. Om op hierdie dinge te fokus, word die punt gemis. Volgens Jesus sal ware aanbidders God aanbid in gees en waarheid (Joh 4:24). Dit beteken ons aanbid vanuit die hart en die wyse wat God daargestel het. Aanbidding kan gebed insluit, God se Woord lees met ‘n oop hart, sing, deelneem aan die Nagmaal en ander dien. Dit is nie beperk tot een handeling nie, maar dit word deeglik gedoen, wanneer die hart en gesindheid van die mens op die regte plek is.

Dit is ook belangrik om te weet dat aanbidding net vir God gereserveer word. Net Hy is waardig en nie een van Sy diensknegte nie (Openbaring 19:10). Ons mag nie heiliges, profete, standbeelde, engele, enige valse gode of Maria, die moeder van Jesus, aanbid nie. Ons moet ook nie aanbid met die verwagting om iets terug te ontvang nie, soos ‘n wonderwerk van genesing nie. Aanbidding word vir God gedoen – omdat Hy dit verdien – en vir Sy blydskap alleenlik. Aanbidding kan openbare lof aan God wees (Ps 22:22; 35:18) in ‘n gemeentelike byeenkoms, waar ons deur gebed en lofprysing ons bewondering en dankbaarheid teenoor Hom kan bekend maak en ook wat Hy vir ons gedoen het. Ware aanbidding word innerlik gevoel en word deur ons aksies uitgedruk. “Aanbidding” uit plig maak nie vir God bly nie en is heeltemal van geen waarde nie. Hy kan deur al die valsiteit sien en dit haat Hy. In Amos 5:21-24 gee Hy ‘n voorbeeld en Hy praat van die oordeel wat kom. ‘n Ander voorbeeld is die storie van Kain en Abel, die eerste seuns van Adam en Eva. Hulle albei het offergawes aan die Here gebring, maar God was net tevrede met Abel s’n. Kain het sy offergawe uit plig gebring; Abel het sy beste lammers uit sy trop gebring uit geloof en bewondering vir God.

Ware en opregte aanbidding is nie beperk tot wat ons in die kerk doen of openlike lofprysing nie (alhoewel hierdie dinge beide goed is en ons in die Bybel gesê word om dit te doen). Ware aanbidding is om God te erken en al Sy mag en heerlikheid in alles wat ons doen. Die hoogste vorm van lofprysing en aanbidding is gehoorsaamheid aan Hom en Sy Woord. Om dit te doen, moet ons vir God ken; ons kan nie oningelig wees aangaande Hom nie (Hand 17:23). Aanbidding is om God te verheerlik en groot te maak – om ons lojaliteit en bewondering teenoor ons Vader te toon.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is opregte aanbidding?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries