settings icon
share icon
Vraag

Is openbare gebed bybels? Is dit reg om in die openbaar te bid?

Antwoord


Openbare gebed is ‘n saak waarmee baie Christene sukkel. Aangesien baie gelowiges bekend is daarvoor om in die publiek te bid soos in die Bybel, Jesus Self het dit gedoen, is daar niks mee verkeerd nie. Baie Ou Testamentiese leiers het in die openbaar vir die volk gebid. Salomo het voor die ganse volk vir hulle en homself gebid. Daar is geen aanduiding dat hierdie gebed nie vir die Here aanvaarbaar was nie (1 Kon 8:22-23). Na die terugkeer van die Israeliete uit die Babiloniese gevangenskap, was Esra só oorweldig deur die kennisname dat die Israeliete die aanbidding van die ware God versaak het, dat hy bitterlik gehuil en gebid het voor die tempel van die Here. Sy gebed was so vurig dat “‘n groot aantal Israeliete rondom hom kom staan, mans, vrouens en kinders. Hy het gehuil en die mense het ook hard gehuil” (Esra 10:1).

Die voorbeelde van Hanna en Daniël illustreer dat dit moontlik is om verkeerd verstaan te word of selfs vervolg kan word as gevolg van openbare gebed. Soos met alle gebed, moet openbare gebed met die korrekte instelling en motief gedoen word. Vanaf sekere voorbeelde uit die Skrif, kry ons ‘n duidelike beeld van aanvaarbare en God-verheerlikte publieke gebede.

Hanna, die moeder van die profeet, Samuel, was vir jare kinderloos, en verduur vir lang tye die skaamte en vervolging wat kinderloosheid vir vroue in Bybelse tye gebring het (1 Sam 1:1-6). Sy het gereeld Tempel toe gegaan om God te versoek om vir haar ‘n kind te gee, en so het sy vurig gebid, vol smart en pyn. Haar gebed was só hartverskeurend dat Eli, die priester, aangeneem het dat sy dronk was (1 Sam 1:10-16).

Hierdie is ‘n voorbeeld van publieke gebed wat verkeerd geïnterpreteer was. Hanna se gebed was opreg en haar hart op die regte plek. Sy het nie probeer om die aandag op haarself te vestig nie, maar was eenvoudig verbysterd en oorweldig, as gevolg van die nood om te bid. Eli het gedink dat sy dronk was, maar dit was sy fout, nie haar sonde nie.

Daniël se publieke gebed was ‘n geleentheid vir sy vyande om hom te vervolg en dood te maak. Hy het so uitgeblink in sy pligte as een van die administrateurs onder koning Darius, dat die koning van plan was om hom hoof te maak oor die hele koninkryk (Dan 6:1-3). Dit het die ander goewerneurs-generaal woedend gemaak en hulle het ‘n manier gesoek om iets teen Daniël te kry om hom te vernietig. Hulle het Darius aangemoedig om ‘n dekreet uit te vaardig om sodoende sy onderdane te verbied om tot enige iemand anders te bid, as net tot die koning, vir die daaropvolgende dertig dae. Die straf vir ongehoorsaamheid daaraan sou wees om in die leeukuil gegooi te word. Daniël het egter voortgegaan om openlik tot God te bid, dat hy gesien kon word deur sy kamervenster. Hy het gebid op ‘n manier wat nie alleenlik sigbaar was vir ander nie, maar hy het hom aan sy vyande vertoon. Tog het hy duidelik geweet dat hy God vereer het deur sy gebed en het nie sy gewoonte opgegee nie. Hy het nie die opinies en selfs die dreigemente van mense bokant sy begeerte geplaas,om die Here te gehoorsaam nie.

In Matt 6:5-7 gee Jesus twee maniere om te verseker dat ons gebede regverdig is. Eerstens moet bidders nie bid vir die doel om deur ander as regverdig of “geestelik” gesien te word nie. Tweedens moet bidders se gebede geloofwaardig wees, soos vanuit die hart en nie net vae herhalings of “leë frases” nie. As ons dit egter met ander Skrifgedeeltes vergelyk, waar mense in die openbaar bid, weet ons dat dit nie ‘n vermaning is om altyd alleen te bid nie. Dit gaan daaroor om sonde te vermy. Hulle wat met die begeerte sukkel om as regverdig gesien te word en wat agterkom dat versoeking inkruip gedurende openbare gebed, sal goed doen om Jesus se voorskrif in ag te neem om alleen te bid en slegs tot die Vader te bid, wat in die geheim sal beloon. Jesus het geweet dat die begeerte van die Fariseërs was om deur mense as regverdig gesien te word, en dat hulle nie regtig met God wou praat nie. Hierdie stelling oor gebed was bedoel om te oortuig en is leersaam vir alle Christene, maar dit beteken nie dat alle gebed in die geheim hoef plaas te vind nie.

Openbare gebed moet God verheerlik, onselfsugtig wees en gebaseer op ‘n ware begeerte om met God te praat en nie met mense nie. As ons in die publiek kan bid sonder om hierdie beginsels te oortree, is dit goed om in die openbaar te bid. As ons gewete dit verbied, is daar niks minder effektiwiteit aan ons gebede wat in die geheim gebid word nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is openbare gebed bybels? Is dit reg om in die openbaar te bid?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries