settings icon
share icon
Vraag

Wat het Jesus bedoel toe Hy aan ons ‘n oorvloedige lewe belowe het?

Antwoord


In Joh 10:10 het Jesus gesê, “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Anders as die dief, kom die Here Jesus nie om selfsugtige redes nie. Hy kom om te gee, nie om te kry nie. Hy kom dat mense die betekenisvolle, doelgerigte, vreugdevolle en ewige lewe in Hom kan hê. Ons ontvang hierdie oorvloedige lewe wanneer ons hom as Verlosser aanneem.

Hierdie woord “oorvloedig” in die Grieks is “perisson” en beteken “oorvloediglik, baie hoog, uitermate, meer, oortollig, ‘n hoeveelheid só oorvloedig, om aansienlik meer te wees as wat iemand sal verwag of voorstel.” In kort, Jesus belowe ons ‘n baie beter lewe as wat ons ooit kan voorstel, ‘n konsep wat herinner aan 1 Kor 2:9: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.” Die apostel Paulus sê dat God magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink en Hy doen dit deur Sy mag, ‘n krag wat in ons werk wat aan Hom behoort (Ef 3:20).

Voordat ons begin om visioene te kry van luukse huise, duur motors, wêreldwye seevaarte en baie meer geld as wat ons weet wat om daarmee te doen, moet ons stil word en dink wat Jesus leer aangaande die oorvloedige lewe. Die Bybel sê dat rykdom, aansien, posisie en mag in hierdie wêreld nie God se prioriteite vir ons is nie (1 Kor 1:26-29). In terme van ekonomiese, akademiese en sosiale status, kom die meeste Christene nie van die bevoorregte klasse nie. Dit is dan duidelik dat die oorvloedige lewe nie bestaan uit ‘n oorvloed van materiële dinge nie. Indien dit so sou wees, sou Jesus die rykste van mense gewees het, maar die teenoorgestelde is waar (Matt 8:20).

Oorvloedige lewe is ewige lewe, ‘n lewe wat, die oomblik wanneer ons Christus as Verlosser aanvaar, begin en voortgaan tot in alle ewigheid. Die Bybelse definisie van lewe – spesifiek die ewige lewe – word deur Jesus self voorsien: “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God en Jesus Christus, wat deur U gestuur is” (Joh 17:3). Hierdie definisie maak nie melding van die lengte van dae, gesondheid, voorspoed, familie of beroep nie. Die feit van die saak is, die enigste ding wat genoem word is om God te ken, wat die sleutel tot die ware, oorvloedige lewe is.

Wat is die oorvloedige lewe? Eerstens is dit geestelike oorvloed, nie materialisties nie. God is nie oormatig begaan oor die fisiese omstandighede in ons lewens nie. Hy verseker ons om nie bekommerd te wees oor wat ons moet eet of aantrek nie (Matt 6:25-32; Fil 4:19). Fisiese seëninge kan of kan nie deel wees van ‘n God-gesentreerde lewe nie; nie ons rykdom of ons armoede is ‘n vaste aanduiding van waar ons met God staan nie. Salomo het al die materiële seëninge beskikbaar gehad en dit betekenisloos gevind (Prediker 5:10-15). Paulus aan die ander kant was tevrede in watter fisiese omstandighede hy homself bevind het (Fil 4:11-12).

Tweedens is die ewige lewe die lewe waaroor ‘n Christen werklik begaan moet wees en dit word nie bepaal deur die duur daarvan nie, maar deur ‘n verhouding met God. Dit is hoekom ons, as ons eers tot bekering kom en die Heilige Gees as geskenk ontvang, ons dan die ewige lewe reeds het (1 Joh 5:11-13), alhoewel natuurlik nog nie in volheid nie. Die lengte van lewe op aarde is nie sinoniem met die oorvloedige lewe nie.

Laastens is dit so dat ‘n Christen se lewe wentel rondom “Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus” (2 Pet 3:18). Dit leer ons dat die oorvloedige lewe ‘n aanhoudende proses van leer is, beoefening en meer volwasse raak, sowel as om te misluk,te herstel, te verander, te verduur en te bowe kom, omdat, in ons huidige toestand die volgende teksvers waar is, “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld” (1 Kor 13:12). Eendag sal ons God van aangesig tot aangesig sien en sal ons Hom volkome ken, soos ons volkome geken sal word (1 Kor 13:12). Ons sal nie meer sukkel met sonde en twyfel nie. Dit sal die uitermate, vervulde oorvloedige lewe wees.

Alhoewel ons van nature begerig is na materiële dinge, moet ons as Christene se perspektief op die lewe totaal hervorm wees (Rom 12:2). Netsoos ons nuwe skepsels word wanneer ons by Christus uitkom (2 Kor 5:17), so moet ons begrip van “oorvloedig” getransformeer word. Die werklike oorvloedige lewe bestaan uit ‘n oorvloed van liefde, blydskap, vrede en die res van die vrug van die Gees (Gal 5:22-23), nie ‘n oorvloed van “goed” nie. Dit bestaan uit ‘n lewe wat ewig is en dus is ons belangstelling gerig op die ewige, nie die tydelike nie. Paulus vermaan ons, “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe en julle lewe is saam met Christus verborge in God” (Kol 3:2-3).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat het Jesus bedoel toe Hy aan ons ‘n oorvloedige lewe belowe het?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries