Vraag
Beskryf die oorlog in die hemel in Openbaring 12 Satan se oorspronklike val of ‘n eindtyd engele-geveg?
Antwoord
Die laaste groot engele-geveg en Satan se uiteindelike uitwerping uit die hemel word in Openbaring 12:7-12 beskryf. In hierdie gedeelte sien Johannes ‘n groot oorlog van Migael en die engele van God versus die draak (Satan) en sy gevalle engele of demone. Dit sal in die eindtyd plaasvind, gedurende die verdrukking. Satan, in sy groot trots en wanvoorstelling dat hy soos God kan wees, sal die finale rebellie teen God lei. Dit sal ‘n kosmiese wanverhouding wees. Die draak en sy demone sal die geveg verloor en vir ewig uit die hemel gewerp word.
Ons weet dat hierdie geveg nog toekomstig is, as gevolg van die konteks van Openbaring 12. Vers 6 sê dat die vrou (Israel) vlug voor die draak (Satan) “na die woestyn toe…..waar God vir haar ‘n plek gereedgemaak het, sodat die mense haar daar twaalf honderd en sestig dae lank kon versorg.” Vers 7 begin met “Daar het toe oorlog gekom in die hemel.” Toe Israel vlug, breek oorlog uit in die hemelse ryk. Die vlug van die vrou in Openbaring 12:6 korrespondeer met Jesus se uitroep vir die Jode in Judea, om die berge in te vlug, as hulle “die ding wat ‘n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan” (Matt 24:15). Teen die middelpunt van die verdrukking, sal die Antichris sy ware kleure wys, Satan sal beperk wees tot die aarde en Israel goddelik beskerm word vir 1260 dae (drie en ‘n half jaar of die tweede helfte van die verdrukking).
‘n Algemene wanopvatting is dat Satan en sy demone toegesluit was in die hel na Satan se val. Dit is duidelik uit baie Bybelgedeeltes dat Satan nie uit die hemel geban was na sy eerste rebellie nie. In Job 1:1-2; 8, verskyn hy voor God om vir Job te beskuldig, deur te vertel van bedekte motiewe in sy aanbidding van God. In Sag 3 verskyn Satan weer voor God om vir Josua, die hoëpriester te beskuldig. Ook die profeet Miga vertel van ‘n visioen van bose geeste wat in God se teenwoordigheid staan in 1 Kon 22:19-22. Dus, selfs na die val, het Satan steeds toegang tot die hemel gehad.
In hierdie tyd nou, het Satan en sy engele steeds beperkte toegang tot die hemel en opponeer die engele van God (Dan 10:10-14). Maar by die geveg wat in Openbaring 12 beskryf word, sal Satan en sy trawante alle toegang tot die hemel verloor (vers 8) en tot hierdie planeet gebonde wees (vers 9). Sy ingekorte vryheid sal maak dat Satan “met groot woede” gevul word, omdat hy weet “dat hy min tyd het” (vers 12).
Daar sal groot blydskap in die hemel wees, aangesien die eeue-oue aanklaer vir ewig uitgeban sal wees en nie meer die uitverkorenes kan laster nie. Die bewoners van die aarde sal egter wreed ly na hierdie gebeurtenis, as gevolg van Satan se woede en God se oorblywende oordele op die aarde.
Die geveg tussen Migael en Satan sal beslissend wees. Wanneer God se heilige engele die demoniese menigtes verslaan, sê ‘n harde stem in die hemel, “Nou het ons God die redding gebring, nou is Sy mag en koningskap hier, en die gesag van Sy gesalfde” (Openbaring 12:10). Die heiliges van God sal ook deel hê aan die oorwinning : “Hulle het self die oorwinning oor hom behaal, danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het” (vers 11).
English
Beskryf die oorlog in die hemel in Openbaring 12 Satan se oorspronklike val of ‘n eindtyd engele-geveg?