settings icon
share icon
Vraag

Wat is die onheilige drie-eenheid in die eindtyd?

Antwoord


‘n Algemene taktiek van Satan is om die dinge van God na te boots of te vervals om homself soos God voor te doen. Wat na verwys word as die “onheilige drie-eenheid,” soos in Openbaring 12 en 13 beskryf word, is ‘n uitstekende voorbeeld. Die Heilige Drie-eenheid bestaan uit God die Vader, die Seun (Jesus Christus), en die Heilige Gees. Die onheilige drie-eenheid bestaan uit Satan, die Antichris en die Vals Profeet. Terwyl die Heilige Drie-eenheid gekarakteriseer word deur oneindige waarheid, liefde en barmhartigheid, beeld die onheilige drie-eenheid die lynregte teenoorgestelde uit van misleiding, haat en onvolwasse boosheid.

Openbaring 12 en 13 bevat profetiese gedeeltes wat sommige van die hoofgebeure en figure beskryf, wat betrokke sal wees gedurende die tweede helfte van die sewe jaar verdrukking. Satan word beskryf in Openbaring 12:3 as “‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings en op sy koppe was daar sewe heerserskrone.” Die kleur rooi dui sy boosaardige en moorddadige persoonlikheid aan. Die sewe koppe simboliseer bose koninkryke wat Satan deur die geskiedenis gebruik het in ‘n poging om God se plan vir vooruitgang te stuit. Vyf van die koninkryke het reeds gekom en gegaan teen die tyd dat Johannes hierdie profesie geskryf het – Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië en Griekeland. Een koninkryk was in beheer in Johannes se dae – Rome. En die finale koninkryk sal dié van die Antichris wees. Die sewe krone verteenwoordig universele regering en die tien horings verteenwoordig die tienvoudige afdeling van die Antichris se koninkryk, soos ook aangedui deur die tien tone op die beeld in Nebukadnesar se droom (Dan 2:41-43) en die tien horings op die “vreesaanjaende” ondier in Dan 7:7, 24.

Openbaring 12 gee baie belangrike feite rakende Satan, behalwe sy draakagtige natuur. Eerstens, die sinnebeeldige beskrywing van “’n derde van die sterre” wat uit die hemel neerstryk, dui aan dat een derde van die engele uit die hemel gewerp was gedurende Satan se rebellie (Openbaring 12:4; Jes 14:12-14 en Eseg 28:12-18). Iewers gedurende die verdrukking, veg die aartsengel Migael en ‘n skare heilige engele met Satan en sy demone in die hemelse sfere en Satan word vir ewig uit die hemel geban (Openbaring 12:7-9). In sy poging om God se vervulling te verhoed van Sy aardse koninkryk, sal Satan weer probeer om die Jode te verdelg, maar God sal ‘n klein gedeelte buite Israel bonatuurlik beskerm vir die laaste 42 maande (drie en ‘n half jaar) van die verdrukking (Openbaring 12:6; 13-17; Matt 24:15-21).

Die tweede lid van die onheilige drie-eenheid is die Dier of Antichris, soos beskryf in Openbaring 13 en Dan 7. In Johannes se visioen kom die dier uit die see op, wat die Bybel tipies gebruik as daar na die Heidennasies verwys word. Hy word beskryf met sewe koppe en tien horings – net soos die draak – ‘n aanduiding van sy verbinding met Satan. Die tien horings verteenwoordig die tien sitplekke van die wêreldregering wat mag aan die Antichris sal voorsien (Dan 7:7, 24). Hierdie een wêreldregering sal ‘n godslasterlike, bloeddorstige magshonger verdraaiing van die komende koninkryk van Christus wees.

Openbaring 13:3, 12 en 14 dui aan dat die Antichris dodelik gewond sal word ongeveer halfweg deur die verdrukking, maar Satan sal wonderbaarlik sy wond genees. Na hierdie misleidende wonderwerk, sal die wêreld heeltemal deur die Antichris bekoor wees en beide vir hom en Satan aanbid (Openbaring 13:4-5). Die Antichris sal aangemoedig word en met die pretensie as ‘n vreedsame regeerder uitbrei, hy sal sy ooreenkoms met die Jode breek, God openlik laster, die heiliges aanval en die herbou van die Joodse tempel skend (Dan 9:27; Openbaring 13:4-7; Matt 24:15).

Die laaste persoon van die onheilige drie-eenheid is die Vals Profeet, beskrywe in Openbaring 13:11-18. Hierdie tweede dier kom uit die aarde, nie die see nie,’n moontlike aanduiding dat hy ‘n afvallige Jood van Israel sal wees. Johannes sien hom as ‘n lam met horings en die stem van ‘n draak (vers 11). Alhoewel hy homself as sagmoedig, saggeaard en ‘n lieftallige persoon voorstel, dui die horings sy mag aan. En sy spraak is van die duiwel. Die Vals Profeet sal oorredend en bedrieglik praat om mense van God af weg te draai en die aanbidding van die Antichris en Satan aanvuur (Openbaring 13:11-12). Die Vals Profeet sal die vermoë hê om groot tekens en wonders te doen, insluitende om vuur vanuit die hemel te roep (Openbaring 13:13). Hy sal ‘n beeld van die Antichris oprig, lewe gee aan die beeld en beveel dat alle mense die beeld moet aanbid (Openbaring 13:14-15). Die beeld van die dier, bemagtig deur die Vals Profeet sal “almal kan laat doodmaak wat nie die beeld aanbid nie” (vers 15).

Die Vals Profeet sal ook elkeen dwing om ‘n merk van een of ander aard te ontvang om hul toewyding teenoor die Antichris te toon. Hulle wat die merk ontvang het, sal die Antichris as god erken en hulle onderwerp aan sy agenda. Om die merk te neem, sal ‘n vereiste wees om in die wêreldhandel en –ekonomie te kan deel. Volgens die Skrif is dit so, om die merk van die dier te ontvang, sal jou opteken vir die ewige dood (Openbaring 14:9-10). Die heiliges in die verdrukking sal weier om die merk te neem en sal as gevolg daarvan vervolg word. Satan is die ant-God, die Dier is die anti-Christus en die Vals Profeet is die ant-Gees. Hierdie onheilige drie-eenheid sal gelowiges vervolg en baie ander mislei. Maar God se koninkryk sal voortgaan. Dan 7:21-22 stel dit so, “Terwyl ek kyk, het daardie horing (die Antichris) begin oorlog maak teen dié wat aan God behoort het, die horing het hulle oorweldig. Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die onheilige drie-eenheid in die eindtyd?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries