settings icon
share icon
Vraag

Ek is onbybels gedoop. Moet ek weer herdoop word?

Antwoord


Die Bybel is baie duidelik aangaande die doop. Daar is twee punte wat ons almal moet verstaan. Eerstens , die doop moet plaasvind nádat 'n persoon Jesus Christus as Verlosser aangeneem het en in Hom alleen, glo vir verlossing. Ten tweede moet die doop plaasvind deur onderdompeling. Die woord "doop" beteken letterlik "indompel/onderdompel in water." Die doop, deur middel van onderdompeling, is die enigste metode vir doop – wat voldoende illustreer wat die doop simboliseer – gelowiges sterf, word in Christus begrawe en staan op in 'n nuwe lewe (Rom 6:3-4).

Met hierdie twee sleutelpunte in gedagte,wat van hulle wat onbybels gedoop is? Duidelikheidshalwe, laat ons dit ook verdeel in twee kategorieë. Eerstens dan, hulle wat gedoop is voordat hulle Christene geword het: Algemene voorbeelde hiervan sluit dié persone in wat as babas gedoop is en ook hulle wat later in die lewe gedoop is, maar nie werklik vir Jesus as Verlosser geken het, toe hulle gedoop is nie. In hierdie omstandighede,ja, moet 'n persoon definitief herdoop word. Weereens openbaar die Bybel dat die doop ná redding plaasvind. Die simboliek van die doop raak verlore, indien 'n persoon nie werklik verlossing deur geloof in Jesus Christus beleef het nie.

Tweedens, hulle wat gedoop is ná geloof in Christus, maar deur 'n metode anders as onderdompeling: Hierdie saak is bietjie meer ingewikkeld. Daar kan geargumenteer word dat so 'n persoon nie werklik die doop ontvang het nie. Indien die metode besprinkeling of uitstorting was, pas dit nie die basiese definisie van die doop, "om ingedompel" te word nie. Die Bybel spreek egter nêrens die kwessie aan of iemand "gedoop" is, maar nie onderdompel is nie. Dié kwessie moet dan op 'n individuele basis aangespreek word. 'n Gelowige wat onbybels gedoop is, moet die Here vra vir wysheid (Jak 1:5). As die gelowige se gewete onseker is, sal dit die beste wees om (volgens die Bybelse manier) herdoop te word, om die gewete gerus te stel (Rom 14:23): "As iemand egter twyfel en tog eet, is hy klaar veroordeel omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. En enigiets wat 'n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde."

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Ek is onbybels gedoop. Moet ek weer herdoop word?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries