settings icon
share icon
Vraag

Hoe kan ek versoeking weerstaan?

Antwoord


Die Skrif sê vir ons dat ons almal versoekings in die gesig staar. 1 Kor 10:13 sê, “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie.” Dit verskaf miskien ‘n bietjie bemoediging, omdat ons dikwels voel dat die wêreld ‘n las op ons alleen plaas en dat ander immuun teen versoekings is. Christus was ook versoek: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie” (Heb 4:15).

Waar kom hierdie versoekings dan vandaan? Eerstens kom hulle nie van God af nie, alhoewel Hy hulle toelaat. Jak 1:13 sê, “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie en Self verlei Hy niemand nie.’” In die eerste hoofstuk van Job sien ons dat God vir Satan toelaat om Job te verlei, maar met beperkinge. Satan gaan rond op die aarde soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind (1 Pet 5:8). Vers 9 leer ons om hom te weerstaan, wetende dat ander Christene ook sy aanvalle beleef. Deur middel van hierdie gedeeltes weet ons dat versoekings van Satan af kom. Ons sien in Jak 1:14 dat versoeking se oorsprong ook sy ontstaan in ons het. Ons word versoek, as ons “eie begeertes” ons “aanlok en saamsleep” (vers 14). Ons laat onsself toe om sekere gedagtes te bedink, na sekere plekke te gaan en besluite te neem wat gebaseer is op ons eie luste, wat ons in versoeking bring.

Hoe weerstaan ons dan die versoekings? Eerstens moet ons teruggaan na Jesus se voorbeeld, waar Hy in die woestyn deur Satan versoek is in Matt 4:1-11. Elkeen van Satan se versoekings word teengestaan met dieselfde antwoord: “Daar staan geskrywe,” gevolg deur die Skrif. Indien die Seun van God die Woord van God gebruik het om die versoekings effektiewelik te beëindig – wat ons weet dat dit werk, na drie mislukte pogings, “Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat” (vers 11) – Hoeveel meer benodig ons nie om ons eie versoekings te weerstaan nie? Al ons pogings om te weerstaan sal swak en oneffektief wees, tensy hulle deur die Heilige Gees bekragtig word, deur die Woord deurentyd te lees, te bestudeer en daarop te mediteer. Op hierdie wyse sal ons “verander deur julle denke te vernuwe” (Rom 12:2). Daar is geen ander wapen teen versoeking nie, behalwe die “swaard van die Gees, dit is die Woord van God” (Ef 6:17). Kol 3:2 sê, Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie.” As ons gedagtes gevul is met die jongste TV-programme, musiek en die res wat die kultuur ons bied, sal ons gebombardeer word met boodskappe en beelde wat onvermydelik tot sondige luste sal lei. Indien ons gedagtes gevul is met die majesteit en heiligheid van God, die liefde en medelye van Christus en die glans van beide, wat in Sy volmaakte Woord gereflekteer word, sal ons vind dat ons belangstelling in die luste van die wêreld verminder en verdwyn. Sonder die Woord se invloed op ons gedagtes, is ons oop vir enigiets wat Satan na ons kant toe gooi.

Hier is dan die enigste manier om ons harte en gedagtes te beskerm, om sodoende die oorspronge van versoeking van ons af weg te hou. Onthou die woorde van Christus aan Sy dissipels in die tuin, toe Hy verraai is: “Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die Gees is gewillig, maar die vlees is swak” (Matt 26:41). Die meeste Christene sou nie begeer om openlik in sonde te verval nie, tog kan ons dit nie weerstaan nie, omdat ons vlees nie sterk genoeg is nie. Ons plaas onsself in situasies of vul ons gedagtes met lustige begeertes en dit lei ons na sonde toe.

Ons het nodig om ons gedagtes te vernuwe, soos daar in Rom 12:1-2 geskrywe is. Ons moenie meer dink soos die wêreld dink nie, of dieselfde pad as die wêreld stap nie. Spreuke 4:14-15 sê, “Moenie agter die goddeloses aanloop nie, vermy die pad van slegte mense. Los dit, moenie daarop loop nie, draai weg, vermy die slegte mense.” Ons moet die pad van die wêreld vermy, wat ons in versoeking lei, aangesien ons vlees swak is. Ons word maklik verlei deur ons eie luste.

Matt 5:29 het uitstekende advies. “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan, as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word.” Dit klink erg! Sonde is erg! Jesus sê nie dat ons letterlik van ons liggaamsdele moet verwyder nie. Om jou oog uit te sny, is drasties en Jesus leer ons dat, indien dit nodig is, ‘n drastiese maatreël geneem moet word om sonde te vermy.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe kan ek versoeking weerstaan?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries